Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voormalige Die Matie-nuusredakteur se tesis word as boek gepubliseer
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 14/09/2018

Voormalige Die Matie-nuusredakteur se tesis word as boek gepubliseer ná ontvangs van Afrika-tesistoekenning 

 

Voormalige Die Matie-nuusredakteur Adriaan Steyn se meestersgraadtesis, wat op die massiewe uitbreiding van die Afrikaanse rolprentbedryf in die afgelope tien jaar en die sosiale implikasies hiervan gefokus het, gaan in ʼn boek verwerk word en deur die Universiteit Leiden in Nederland gepubliseer word.

 

Steyn woon tans in die VSA waar hy ʼn PhD in Afrikastudies by Harvard Universiteit met ʼn volle beurs voltooi. Hy het sy BA-, honneurs- en meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal, laasgenoemde twee cum laude.

 

Steyn het Desember verlede jaar die 2017-Afrika-tesistoekenning van die Universiteit Leiden ontvang vir sy meestersgraad getiteld A new laager for a “new" South Africa: Afrikaans film and the imagined boundaries of Afrikanerdom. Hy is as wenner uit ʼn poel van 60 ander kandidate oor Afrika en Nederland heen gekies, wat almal hul meestersgrade met onderskeiding verwerf het. Kort ná ontvangs van die toekenning het Steyn na Leiden Universiteit gevlieg om ʼn praatjie oor sy tesis by die universiteit se sentrum vir Afrikastudies te lewer. In 2014 het hy die Monica Wilson-toekenning vir die beste studentereferaat by die jaarlikse kongres van die vereniging Antropologie Suider-Afrika ontvang.  

 

Steyn sê oor sy prestasies: “Ek is dankbaar vir die mense wat die afgelope paar jaar my pad gekruis het. Ek was gelukkig om ʼn wonderlike studieleier vir my honneurs en meesters in hierdie departement [Sosiologie en Sosiale Antropologie] te kon hê. Dit is lekker om hierdie soort erkenning te kry, want ek het hard hiervoor gewerk, maar dit was ook ʼn spanpoging met talle mense wat bydraes gelewer het."

 

Sy voormalige studieleier, dr Bernard Dubbeld van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, beskryf Steyn as ʼn student wat bereid is om die 'harde vrae' te vra oor kwessies waarvoor die Suid-Afrikaanse samelewing van vandag te staan kom. 

 

Met sy agtergrond as die nuusredakteur van Die Matieis dit geen verrassing dat Steyn so gefokus op begrip van sosiale kwessies in Suid-Afrika is nie. Sy PhD ondersoek of onderwys in arm, misdaadgeteisterde gemeenskappe soos Worcester aan jongmense in hierdie gebiede ʼn uitkoms uit armoede bied. Vir sy meestersgraadtesis het hy onderhoude gevoer met talle prominente mense in die Afrikanergemeenskap en baie tyd op Afrikaanse rolprentstelle deurgebring, en selfs vir Steve Hofmeyr ontmoet tydens die verfilming van Treurgrond, ʼn rolprent wat fokus op plaasmoorde en grondonteiening in Suid-Afrika.

 

“Adriaan se studie van Afrikaanse rolprente het ʼn werklike bydrae gelewer tot begrip van die manier waarop kulturele vorme van verbruikersitems weer ʼn politieke identiteit vir Afrikaners in postapartheid-Suid-Afrika voortgebring het. Dit het die manier geword waarop rasseskeiding voorgesit word. In die verlede het apartheid en koloniale wette mense geskei, en Afrikaans het ʼn groot rol in daardie skeiding gespeel. Vandag sien ons steeds ʼn sterk rassegroepering van mense, met party wat hier en daar meng, maar sonder wette wat hierdie skeiding aandryf soos dit in die verlede die geval was, moet ons vrae vra oor wat dit vandag aandryf. Adriaan se tesis bied ʼn leidraad tot die antwoord op daardie vraag," sê Dubbeld. 

 

In ʼn gesprek oor sy meestersgraadtesis verduidelik Steyn dat die Afrikaanse rolprentbedryf net oor ʼn eeu gelede ontstaan het met die “kommersiële vrystelling van De Voortrekkers". Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het die bedryf begin floreer, maar teen die laat 1990's en met die aanbreek van demokrasie het Afrikaanse rolprentproduksie heeltemal verdwyn. Byna ʼn dekade later beleef die Afrikaanse rolprentbedryf ʼn aanmerklike oplewing.

“Die Afrikaanse kultuurbedryf in die algemeen doen vandag baie goed met ʼn massiewe ontploffing van Afrikaanse musiek, feeste, produksies en rolprente. Wat egter duidelik is, is dat die meeste van die kunstenaars wit is, en so ook die verbruikers van hierdie produkte. My tesis is ʼn poging om die Afrikaanse rolprentbedryf se onlangse sukses te verklaar, maar ook om die gevolge daarvan te ondersoek," sê Steyn.

 

“Dit blyk dat daar nou ʼn situasie is waar wit Afrikaners in Suid-Afrika weer begin om die grense van Afrikanerdom te definieer. Daar is ʼn nuwe neiging onder Afrikaners om na enklawes te ontsnap, sowel fisies as sielkundig, en die Afrikaanse rolprentbedryf is maar een deel daarvan." 

 

Hy verduidelik dat sy tesis aanvoer dat die Afrikaanse taal se ontkoppeling van die staat die bewaring en bevordering van die taal in markgedrewe domeine verskuif het.

 

“In my navorsing vra ek watter soort subjektiwiteite tans deur die Afrikaanse kultuurbedryf voortgebring word indien ʼn bepaalde Afrikaneridentiteit aanvanklik in die kulturele sfeer deur kulturele rituele en die verbruik van Afrikaanse mediavorme gesmee is."

 

“Dit is belangrik om te kyk na die maniere waarop die Afrikaanse kultuurbedryf, deur voorsiening vir ʼn wit meerderheidsgehoor, die verbeelde grense van Afrikanerdom herbevestig, en hoe Afrikaners, deur die verbruik van hierdie produkte, hulself as lede van dieselfde gemeenskap of laer insien."

 

Klik hier om Steyn se volle tesis te lees: https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=20&ved=2ahUKEwiDgOfm__zcAhVFxVkKHZPDCQgQFjATegQIBRAC&url=https%3A%2F%2Fscholar.sun.ac.za%2Fbitstream%2Fhandle%2F10019.1%2F100026%2Fsteyn_laager_2016.pdf%3Fsequence%3D1%26isAllowed%3Dy&usg=AOvVaw0QfnCwPRx6oBl7_uVWsVpW

 

Foto: Voormalige Die Matie-nuusredakteur Adriaan Steyn se meestersgraadtesis, wat fokus op die massiewe uitbreiding van die Afrikaanse rolprentbedryf in die afgelope tien jaar en die sosiale implikasies hiervan, word in ʼn boek verwerk wat deur die Universiteit Leiden in Nederland gepubliseer gaan word. By hom is sy tesisstudieleier, dr Bernard Dubbeld. (Lynne Rippenaar-Moses)​