Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitheemse dennebome het Knysna-brand aangevuur
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 06/09/2018

Uitheemse dennebome het Knysna-brande aangevuur

Die vervanging van natuurlike fynbosplantegroei na uitheemse denneboomplantasies in die Suid-Kaap, en die gepaardgaande indringing van die omringende grondgebied deur hierdie bome, het die felheid van die 2017 Knysna-brande aansienlik vermeerder.

Dit is een van die bevindings van 'n studie wat in die vaktydskrif Fire Ecology gepubliseer is deur 'n navorsingspan van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch, die Nelson Mandela Universiteit, SANParks, en die WNNR. Die doel van die studie was om die faktore te ondersoek wat aanleiding gegee het tot een van die ergste brande in die streek se geskiedenis. Dit sluit in die klimaat- en weerstoestande en die beskikbare brandstoflading.

In Junie 2017 het die Knysna-brande oor die verloop van vier dae 15 000 hektaar in die Suid-Kaap gebrand. Sewe mense is dood en meer as 5000 hektaar kommersiële denneboomplantasies en meer as 800 geboue is in die brande vernietig.

Die navorsers het satellietbeelde van verskillende grondgebiede in die area voor en ná die brand met mekaar vergelyk om te bepaal hoeveel biomassa verbrand is. Hulle het bevind dat die felheid van die brande aansienlik meer intensief was waar plantasies van uitheemse bome afgebrand het, asook waar uitheemse bome die fynbos ingedring het, in vergelyking met natuurlike fynbos. En terwyl die weersomstandighede ekstreem was, was dit nie ongekend nie, aangesien soortgelyke omstandighede in die verlede ongeveer een dag elke drie jaar voorgekom het. Die intensiteit van die 18-24 maande droogte wat die brande voorafgegaan het, was egter die ergste wat nog ooit in die historiese weerrekord opgeneem is, en dit het aansienlik tot die felheid van die brande bygedra.

Prof. Brian van Wilgen, 'n vuurekeloog by die SIB en een van die medeskrywers, sê groot landstreke van natuurlike plantegroei in die Suid-Kaap is sistematies vervang met plantasies met Pinus en Eucalyptus spesies, met 'n gepaardgaande verhoging in biomassa van amper vier tot 20 ton per hektaar: “Twee derdes van die area wat afgebrand het, was landstreke waar indringerspesies voorkom. Ons resultate wys duidelik dat die beskikbare brandstoflading aansienlik verhoog het, in vergelyking met vroeër jare toe die landskap deur natuurlike en beheerde inheemse plantegroei oorheers is."

Daar word bereken dat dennebome meer as 90% van die fynbosplantegroei in die Tuinroete Nasionale Park ingedring het. Addisionele indringings deur die Australiese Acacia en Eucalyptus spesies bedek onderskeidelik 'n verdere 29% en 14% van die area: “Met die toename in die beskikbaarheid van biomassa vir verbranding, het die brande meer intens en moeiliker beheerbaar geword," verduidelik hy.

Van Wilgen waarsku egter dat soortgelyke brande meer gereeld sal voorkom soos die klimaat van die Suid-Kaap toenemend droeër en warmer word, en soos wat die omvang van indringings vermeerder.

“Die omstandighede wat die felheid van die 2017 Knysna-brande vererger het, gaan weer voorkom. Mense moet waaksaam bly en voorbereid wees deur byvoorbeeld uitheemse plantegroei naby hul huise te verwyder, en om nie verdere ontwikkelings in hoë risiko gebiede toe te laat nie."

“Ons navorsing beklemtoon hoe belangrik dit is om doeltreffende programme te implementer wat die verspreiding van uitheemse plante sal beheer, asook 'n heroorweging van die ekonomiese en ekologiese volhoubaarheid van die kommersiële aanplanting van uitheemse indringerplante in gebiede met 'n hoë brandrisiko.

Ander bevindings sluit in:

  • Die Knysa-brande het 14 958 hektaar gebrand, waarvan 'n derde deur natuurlike plantegroei bedek is.
  • Meer as twee derdes (78%) van die area wat afgebrand het, het bestaan uit kommersiële plantasies met uitheemse indringerbome (52%), óf areas waar die natuurlike fynbos deur uitheemse plante ingedring is (26%).
  • 'n Relatiewe klein proporsie van die gebrande area was natuurlike woude (4%) of ruigtewoud (2%).
  • Knysna se bevolking het die afgelope 20 jaar met 70% gegroei, van 43 000 tot 74 000 mense in 2018.
  • In die 1970s en 1980s het die Departement Bosbou 'n beleid van voorgeskrewe brande gevolg ten einde vuurafhanklike fynbos te verjong en om die brandstoflading te verminder. Daarna het die fokus van brandbestuur verskuif na die onderdrukking van brande om plantasies en residensiële ontwikkelings te beskerm. Dit het tot die opbou van biomassa in natuurlik plantegroei gelei. Studies wys dat ongebrande fynbos se brandstoflading verdriedubbel, en indringers kan die brandstoflading in sulke areas met 'n verdere 50 tot 60% vermeerder.

Die artikel “An assessment of climate, weather, and fuel factors influencing a large, destructive wildfire in the Knysna region, South Africa" is in Augustus 2018 in die vaktydskrif Fire Ecology gepubliseer en is aanlyn beskikbaar by https://doi.org/10.1186/s42408-018-0001-0

Die navorsers is Dr Tineke Kraaij, Nelson Mandela Universiteit; mnr. John Baard, SANParks; mnr. Jacob Arndt, Universiteit van Minnesota Twin Cities; mnr. Lufuno Vhengani, Meraka Instituut, WNNR; en prof. Brian van Wilgen, DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch.

Op die foto's bo:

'n Afgebrande plantasie by Harkerville wat na afloop van die 2017 Knysna-brande geneem is. Foto: Johan Baard

 Orderlike plantasies van dennebome in die agtergrond, en indringing deur wegbreek dennebome op die Garcia-pas in die Suid-Kaap. Hierdie indringings kan die brandstoflading aansienlik verhoog, en lei tot meer intense en skadelike veldbrande. Foto: Brian van Wilgen

Media-onderhoude

Prof. Brian van Wilgen

Tel: 021 808-2835

Sel: 082 454 9726