Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue in sport: Sporttegnoloog Christine Barnard
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 30/08/2018

​Maties Sport erken die belangrikheid en waarde daarvan om tegnologie in die afrigting van hoëprestasie- (HP)-studente-atlete te gebruik en het vir Christine Barnard, 'n jong sportwetenskaplike en -tegnoloog, aangestel om administratiewe ondersteuning aan die Maties HP-eenheid te verleen.

“Dit sluit in administrasiewe bystand, hulp met sporttegnologie, asook krag- en kondisioneringafrigting," verduidelik sy.

“Die grootste deel van my administratiewe pligte sluit die monitering van die PACER-program* in en om reg deur die jaar tred te hou met HP-sportkodes se vordering. Ek bestuur ook die HP-studente-atleetdatabasis. Ek help tans met krag en kondisionering vir Maties Fietsry en Maties Netbal, doen die video-ontledingswerk vir die sporttegnologie-eenheid en help Grant (van Velden, sporttegnologie- en innovasiebestuurder) waar nodig."

Christine is mal oor haar werk. 

“Ek leer baie en word deurlopend uitgedaag. Ek hoop dat ek, deur hard agter die skerms te werk, 'n verskil aan die verskillende sportspanne, bestuur en afrigters van Maties Sport kan maak."             

Sy is 'n oud-Matie – sy het haar voorgraadse graad in Sportwetenskap met Sielkunde en haar nagraadse BSc-honneursgraad in Prestasiesport aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Sy is self 'n aktiewe sportvrou wat tennis speel, bergfiets ry en hokkie op skool- en klubvlak gespeel het.      

“Ek geniet enige fisieke spel wat kompeterend is," sê sy.

Dit verklaar dan waarom sy gekies het om 'n loopbaan in sporttegnologie en -prestasieontleding te volg wat toerusting soos GPS, spoed- en hartklop-moniteringstelsels saam met video-opnames inspan om atlete se prestasie te optimeer. In 2017 het Christine die eerste vroue-sporttegnoloog geword om een van Maties se hoëprestasie-sportspanne (hokkie) na die USSA-toernooi te vergesel.

“Ek het nog altyd belanggestel in data en wat dit beteken. Sporttegnologie bied aan afrigters en bestuur 'n manier om objektiewe data oor hul atlete in te samel. Met tegnologie wat so dinamies is, is daar altyd iets om te leer wat dit uitdagend en interessant hou," sê sy.

 Christine glo sporttegnologie kan 'n belangrike rol in sport​ speel, en spesifiek in die tersiêre sportomgewing.    

“By die universiteit stel die gebruik van tegnologie ons nie net in staat om prestasie te meet nie, maar ook om te monitor watter las oefening op studente-atlete plaas. Dit gee die atlete die geleentheid om met data om te gaan en die sport op 'n meer taktiese en tegniese manier te sien."         

Daar is nie baie vroue in die veld van sporttegnologie nie. “Ek was egter bevoorreg om baie by dr. Michele van Rooyen, 'n lektor by die UK/MRC Navorsingseenheid vir Oefeningwetenskap en Sportmedisyne (ESSM) te leer."

Christine het vir 'n meestersgraad in Sportwetenskap by die US ingeskryf en wil 'n loopbaan in prestasieontleding volg.

*PACER is die akroniem vir Persistence, Authenticity, Commitment, Empathy and Resilience.