Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Brandstofheffing dalk binnekort iets van die verlede
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/08/2018

Die brandstofheffing of belasting wat op elke liter petrol betaal word is 'n belangrike inkomstestroom vir die regering, maar dié stroom kan in die nabye toekoms opdroog.

Só meen prof Stephan Krygsman, 'n kenner in Vervoerekonomie in die Departement Logistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy doen navorsing oor die wyses waarop padgebruikers belas word en of dit doeltreffend is.

Krygsman sê hoewel daar 'n toename in die aantal voertuie op die land se paaie is, kan die brandstofheffing, wat 5% tot die nasionale belastingsinkomste bydra, binne tien jaar iets van die verlede wees. Die brandstofheffing is die vierde grootste bron van inkomste vir die regering naas inkomstebelasting, maatskappybelasting en BTW. 

Krygsman sê die brandstofheffing bly gewild by die regering omdat dit 'n inkomstebron is wat nie maklik ontduik kan word nie. Dit is ook eenvoudig en maklik; en die administrasiekoste is baie laag. Dit was ook 'n billike belasting wat die koste vir padgebruik weerspieël het.

Maar, voeg Krygsman by, die brandstofheffing is waarskynlik uitgeput as 'n langtermyn volhoubare heffing vir padgebruikers en word toenemend onproduktief soos die brandstofdoeltreffendheid van voertuie toeneem en meer elektriese en hibridiese motors vervaardig word.brandstofheffing.jpg

“In 2000 was die brandstofheffing op 100% produktiwiteit, maar sedertdien was daar ʼn ongeveer 1,1%-afname in jaarlikse produktiwiteit. Teen 2040 sal groter brandstofdoeltreffendheid die brandstofbelasting met byna 48% per voertuig verminder."

“Elektriese voertuie kan die einde van die brandstofheffing verhaas. Hulle gebruik minder of geen brandstof, wat ʼn laer brandstofverbruik per kilometer tot gevolg het. Dit beteken die brandstofheffing sal afneem."

“Daar word geraam dat teen 2040 elektriese motors 30 tot 40% van die wêreld se 2 miljard motors kan uitmaak. Tesame met die verhoogde brandstofdoeltreffendheid van binnebrandmotors, sal dit ʼn besparing van miljoene vate olie per jaar teweegbring . En natuurlik ook besparings in brandstofheffings en belasting."

Krygsman wys daarop dat lande soos Noorweë, Nederland, Duitsland, Frankryk en die Verenigde Koninkryk reeds planne maak om die verkoop van diesel-aangedrewe voertuie teen 2040 te verbied. In sommige lande kan diesel-aangedrewe voertuie reeds teen 2025 in stede verbied word.

Hy sê dit is belangrik dat ons nou optree en alternatiewe maniere vind om die fondse vir die konstruksie en instandhouding van ons paaie te genereer.

“Daar is 'n behoefte om weg te beweeg van 'n algemene brandstofbelasting wat afhanklik is van brandstofverkope na 'n prysstelsel vir padgebruikers wat die ware koste vir hulle en die samelewing weerspieël."

Kilometer-gebaseerde heffingstelsel

Krygsman sê 'n kilometer-gebaseerde heffingstelsel vir padgebruikers kan een van die maniere wees om die brandstofheffing te vervang.

“Wat dit beteken, is dat padgebruikers betaal vir die afstand wat hulle ry. Hulle betaal per kilometer en kry 'n rekening aan die einde van die maand."

“Deur middel van 'n globale posisionering stelsel (GPS) sal dit moontlik wees om verskillende tipes  voertuie te volg om vir werklike padgebruik te hef. Die heffing sal gebaseer wees op die afstand wat afgelê is, die tipe voertuig (bv. groot of klein voertuie), die voertuig se gewig, die tyd van die dag en waar gery word (bv. stede of landelike gebiede). Hierdie data sal dan deur middel van 'n sellulêre netwerk oorgedra word en gebruik word om die bedrag wat elke padgebruiker sal betaal te bereken."

“As dit vir sommige mense te vergesog klink, dink net aan selfoonmaatskappye wat jou ʼn rekening stuur vir die data wat jy gebruik of die maandelikse water- en elektrisiteitsrekening wat jy van jou plaaslike munisipaliteit ontvang. Hoekom kan ons nie dieselfde beginsel op paaie toepas nie?"

Krygsman voeg by dat in ʼn afstandsgebaseerde stelsel die voertuig se brandstofdoeltreffendheid nie die heffing sal beïnvloed nie en almal sal betaal volgens die kilometers wat hulle afgelê het en die tipe voertuig.

“As ons die regte prys vasstel, kan hierdie stelsel genoeg inkomste vir die regering genereer."

Krygsman sê voordat so 'n stelsel geïmplementeer kan word moet verskeie kwessies soos privaatheid en etiese oorwegings, gebruikers se behoeftes, tegniese vereistes van die stelsel en die rol van die regering, en so meer, eers aangespreek word.

Baie navorsing word internasionaal gedoen en verskeie loodsprojekte is reeds aan die gang. In sommige lande is afstandsgebaseerde- en gewigsheffings reeds geïmplementeer. Krygsman se navorsingsgroep het 'n loodsprogram in die Wes-Kaap begin om die kilometer-gebaseerde stelsel te toets.

“Ons moet 'n ander manier vind om te betaal. Mense raak al hoe meer agterdogtig oor die brandstofheffing, en die brandstof wat motors gebruik sal dalk nie in die toekoms beskikbaar wees nie, so ons moet met nuwe alternatiewe vorendag kom."

  • Deur 'n kort opname van 10 tot 15 minute te voltooi, sal jy US-navorsers help om waardevolle inligting te versamel oor respondente se bewustheid, kennis, persepsie, houding, aanvaarding en die gunstigheid van twee metodes om paaie te befonds. Besoek https://sunsurveys.sun.ac.za/Road_Funding.aspx om die opname te voltooi.

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Stephan Krygsman

Departement Logistiek

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2624

E-pos: skrygsman@sun.ac.za

            UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za