Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Landkuns fokus op Maties se bydrae tot landbou
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 24/08/2018

'n Landkunsprojek wat fokus op die landbousektor neem tans vorm aan tussen koringlande in die Overberg in die Wes-Kaap.

Die installasiekunsprojek getiteld “Die Aarde" bestaan uit twee reusesirkels van koring en canola, elk met 'n deursnee van 100 meter.

Strijdom van der Merwe, 'n bekroonde Suid-Afrikaanse landkunstenaar, ontgin die brose wisselwerking tussen mens, natuur en landbou in dié unieke projek. Hy het in opdrag van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe hierdie landkunswerk geskep. Dit is deel van die fakulteit se eeufeesvierings vanjaar.

Die sirkels is geplant tussen koringlande op die plaas Boontjieskraal in die Overberg (langs die N2, in die rigting van Riviersonderend vanaf Kaapstad). Dit kan van die hoofpad af gesien word en raak toenemend sigbaar soos wat die koring en canola ná onlangse goeie reënbuie opkom.

Volgens Prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit, dra hierdie landkuns by tot die gesprek oor die rol en bydrae van landbou en die fakulteit tot die groter samelewing. “Ons wou dit graag met Strijdom se hulp visueel uitbeeld.

“Die fakulteit is sedert die US se beginjare aan die ou Victoria Kollege aan die voorpunt van navorsing en onderrig oor landbou, asook om produsente se hand met navorsing te sterk." Van historiese belang is dan ook juis dat die eerste doktorsgraad deur die fakulteit in 1927 toegeken is vir ʼn verhandeling oor plaaslike koringverbouing, wys hy uit.

Van der Merwe, 'n oud-Matie wat op 'n plaas naby Johannesburg grootgeword het, sê hy sien lankal daarna uit om só 'n kunswerk te skep. “Ek wou nog altyd crop circles tussen koringlande maak. Danksy die fakulteit se hulp, onder meer om die sirkels te help ploeg en die skenking van die saad, word dié droom nou verwesenlik."

Van der Merwe het 'n oersimbool as inspirasie gebruik. Dit is reeds in verskeie rotstekenings wêreldwyd verewig. “Die motief vir dié kunswerk – 'n sirkel met 'n kruis in – word beskou as een van die oudste bekende simbole vir die Aarde," verduidelik hy.

Die kunswerk is veral geïnspireer deur die rotskuns by Driekopseiland naby Douglas (suid van Kimberley in die Noord-Kaap). Die perseel spog met duisende rotsgravures waarvan dié sirkelmotief een is. Die bykans 4 000 tekeninge op 'n klipbank in die Rietrivier daar is meestal abstrakte en geometriese petrogliewe (kuns wat in rots gebeitel is) en is net sigbaar wanneer die watervlak nie te hoog is nie.

Wetenskaplikes en kunstenaars probeer al vir dekades om die betekenis van hierdie petrogliewe te ontsyfer, verduidelik Van der Merwe. “Sommige meen dat mense van ander vastelande die kunstenaars was. Ander reken dit hou verband met die mitiese waterslang of rituele wat verband hou met wanneer meisies puberteit bereik het. Hoe dit ook al sy, hierdie opeluggalery is waarskynlik die mooiste een wat ek nog besigtig het."

Die sirkel met die kruis in is ook gebruik in die bekleedsel van die Grondwethof, wys Van der Merwe uit.

“Ons wend nou hierdie simbool aan in 'n hedendaagse landboukonteks. Hierdie groeisirkels gaan saam met die seisoene verander van groen na geel en bruin. Dit verteenwoordig die siklusse van die natuur en die lewe."

Die kwarte van die sirkels simboliseer voorts die natuurelemente van vuur, water, lug en grond. “Al hierdie elemente is sentraal vir landbou en dit is ook waarmee 'n landkunstenaar werk, verduidelik Van der Merwe. “In landbou hou alles ook uiteindelik maar verband met die grond, of jy nou vee het of koring saai."

Prof. Brink stem saam met Van der Merwe. “Hierdie kunswerk in die vorm van 'n ikoniese simbool dui ons verbintenis met die Aarde en landbou se wisselwerking daarmee aan," sê hy. “Dit verg fyn beplanning, 'n goeie skeut deursettingsvermoë en heelwat geduld om sáám met die elemente vooruit te boer."

Van der Merwe se werk is reeds in verskeie internasionale en nasionale versamelings opgeneem. Hy het ook reeds talle gesogte internasionale toekennings ontvang. Die meeste van sy kunswerke vat 'n oomblik in tyd vas, omdat dit deur natuurelemente verweer word en later tot niet gaan. Van der Merwe sê hy is altyd onder die indruk van die broosheid van die landskap waarmee hy werk. “Ek hou daarvan om iets te skep wat weer gaan verdwyn. As landkunstenaar wil ek nie my ego op die landskap afdruk nie. Die natuur is die belangrikste element waarmee ek werk."

Van der Merwe sê hy is baie opgewonde om te sien hoe die proses nou gaan ontvou. “Landkuns, soos boerdery, werk met die grond en die elemente. Dis 'n lang proses en dis 'n geduldige proses. Dit hang nou alles van die natuur af. Ons sal eers in September die volle prentjie sien wanneer die canola hopelik uitspattig geel begin blom. As dit nie so gebeur nie, is dit ook maar deel van die proses."

Erkennings

Vennote in die landkunsprojek is onder meer Kaap Agri, Overberg Agri en die Sentraal Suid Koöperasie. Ander medewerkers wat uitgesonder word, is Richard Krige en Philip de Waal, onderskeidelik van die plase Boontjieskraal (Caledon) en Bossiesvlei (Moorreesburg). Albei grondeienaars het goedgunstiglik hul eiendom beskikbaar gestel vir dié projek en met die bestuur van die aanplantings gehelp.

Willem Botes, navorsingsleier van die universiteit se Planteteeltlaboratorium (US-PTL) en van sy kollegas in die Department Genetika, het gehelp met die presisie-aanplanting van die sirkels. Die Departement Agronomie en Carin Bruce, verantwoordelik vir bemarking en fondswerwing in die fakulteit, het ook 'n sleutelrol in die projek gespeel.