Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus word eerste rook- en tabakvrye kampus in SA
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 14/08/2018

In ooreenstemming met die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se visie om gesondheid en gelykheid te bevorder, is die Tygerberg-kampu​s tot 'n rook- en tabakvrye kampus verklaar.

Dit beteken rook of die gebruik van enige tabakproduk (insluitende e-sigarette of hookah-pype) sal met ingang van Januarie 2019 op die hele kampus verbode wees.

Die FGGW sal nikotienvervangingsterapie en ander bewese intervensies bied om rokers te help om dié gewoonte te staak of hul drang daarna te bestuur gedurende die tyd wat hulle op die kampus deurbring.

“Die Fakulteit verbind homself in sy strategiese plan tot die gesondheid en welstand van sy personeel en studente. Deur die kampus in 'n rook- en tabakvrye ruimte te omskep, skep ons 'n gesonde en veilige omgewing vir almal," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, gesê tydens 'n openbare oorlegplegingsessie waarop die nuwe regulasies aangekondig is.


​​

​“Die gebruik van en blootstelling aan tabak is ʼn bron van openbare gesondheidskommer," het prof Nico Gey van Pittius, Vise-dekaan: Navorsing en lid van die FGGW Tabakvrye Kampuskomitee, gesê. “Tabak is nie net sleg vir rokers nie, maar ook vir nie-rokers en die omgewing. Dit is ʼn risikofaktor vir ses van die agt hoofoorsake van sterftes, insluitende verskeie soorte kankers, hartsiekte, lugweginfeksies en beroerte. Dit verhoog mediese onkostes, verlaag produktiwiteit en gemiddeld sterf rokers tien jaar vroeër as nie-rokers," het Gey van Pittius gewaarsku.

Ofskoon die FGGW die eerste algeheel rook- en tabakvrye kampus in Suid-Afrika sal wees, het hierdie tendens wêreldwyd toegeneem en is daar tans meer as 2 000 rookvrye kampusse net in die VSA, waarvan 1 743 ten volle tabakvry is.

Hierdie nuwe regulasies is op alle tabakprodukte van toepassing, met inbegrip van sigarette, elektroniese nikotienleweringstelsels (“vaping"), waterpype (in die omgangstaal bekend as “hookahs" of “hubbly bubblies"), asook rooklose tabakprodute soos kou-tabak en snuif. Die gebruik van hierdie produkte word op die hele terrein verbied, insluitende alle geboue, buitemuurse areas, koshuise en voertuie wat op die eiendom geparkeer is. Inligtingsborde oor die regulasies sal by die ingang en ander strategiese areas op kampus ten toon gestel word, en alle personeellede, studente en besoekers aan die Tygerberg-kampus sal na verwagting aan die regulasies moet voldoen.

“Die Fakulteit het besluit om geen rookareas op die gronde van die Tygerberg-kampus toe te wys nie. Navorsing toon dat die tabakvrye beleid ondermyn word as mense toegelaat word om in sekere areas te rook. Voorts het kampusse met ʼn ten volle rookvrye beleid minder probleme met voldoening aangemeld as dié met toegewysde rookareas," het Gey van Pittius gesê. Hy het bygevoeg die Fakulteit gaan die geld wat hy aan die oprigting van rookskuilings sou bestee het, gebruik om personeellede en studente te help wat wil ophou rook.

“Ons besef dat rook en tabakgebruik verslawend is en dat gebruikers dit moontlik moeilik kan vind om op te hou. Dit is derhalwe belangrik dat individue toegang tot ondersteuning het om hulle te help om aan die regulasie te voldoen," het Gey van Pittius gesê. Die Fakulteit sal ondersteuning verskaf om rokers te help om op te hou, met inbegrip van medikasie, nikotienvervangingsterapie en materiale, asook berading deur die Kampusgesondheidsdienste vir personeellede of studente wat wil ophou rook of hulp nodig het om hul drang daarna te beheer.

Gey van Pittius het benadruk dat die fokus van die nuwe regulasie opvoeding is en nie om rokers te straf nie. “Gesondheid en welsyn vorm die kern van wat ons doen en wie ons, as ʼn fakulteit van gesondheid- en geneeskunde is. Deur Tygerberg in ʼn rook- en tabakvrye kampus te omskep, is en word ons die agente van verandering in die gemeenskap en staan ons op vir wat ons glo reg is."

Onderskrif: Prof Nico Gey van Pittius verduidelik die regulasie rondom die rook- en tabakvrye kampus tydens 'n openbare oorlegplegingsessie, terwyl prof Jimmy Volmink toekyk.