Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van die digitale Marloth-versameling
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 31/07/2018

'n Kosbare versameling van die oorspronklike botaniese illustrasies wat tussen 1912 en 1932 vir drukwerk in Rudolf Marloth se Flora of South Africa voorberei is, is nou deur die Universiteit Stellenbosch-biblioteek gedigitaliseer.

Die versameling van 176 plate bevate die oorspronklike illustrasies deur botaniese kunstenaars soos Ethel May Dixie (1876-1973) en Esther Smith (1978-1954), met handgeskrewe notas en instruksies vir die drukkers deur Marloth.

Marloth (1855-1931) word beskou as een van Suid-Afrika se eerste groot botaniste. Hy was 'n chemikus en apteker wat in 1883 vanuit Duitsland na die Kaap van Goeie Hoop geïimmigreer het. Daar word vertel dat hy op dieselfde dag van sy aankoms in die Kaap, Tafelberg uitgeklim en begin plante versamel het.

Marloth se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch het in 1888 begin, toe hy as dosent in Chemie en Eksperimentele Fisika by Victoria Kollege aangestel is, die voorloper van die Universiteit Stellenbosch vandag. In 1922 het die US hom vereer met 'n eredoktorsgraad vir sy bydra tot ons kennis en begrip van die Kaapse Floristiese Ryk.

Oor die jare het die Marloth-familie verskeie van die oorspronklike illustrasies en plate aan die US-biblioteek geskenk. Hierdie versameling is nou in die SUNDigital-versameling opgeneem. Die Spesiale Versamelings-afdeling van die biblioteek beskik oor 'n verskeidenheid van sy persoonlike dokumente, korrespondensie en foto's.

Me. Ellen Tise, senior direkteur van die US-biblioteek, sê die bewaring van en toegang tot hierdie materiaal sal bydra tot toekomstige navorsing, nie net by die Universiteit Stellenbosch nie maar ook internasionaal.

Die formele bekendstelling van die Marloth Digitale-versameling vind op Dinsdag 31 Julie in die Africana-afdeling van die US-biblioteek plaas. Gedurende hierdie geleentheid sal die botanis, Dr Piet Vorster, botaniese kunstenaar Vicki Thomas en evolusionêre ekoloog Professor Anton Pauw gesels oor die waarde van botaniese versameling soos dié vanuit 'n wetenskaplike en artistiese oogpunt.

 Op die foto's bo: 

Rudolf Marloth, een van Suid-Afrika se eerste groot botaniste, het veel vermag om die skoonheid van die Kaapse Floristiese Ryk aan die res van die wêreld bekend te stel. Hy was die eerste botanikus om die bestuiwer van die Rooi Disa te beskryf – die skoenlapper Meneris tulbaghia, beter bekend as die Trots van Tafelberg. Die Disa is ook die Wes-Kaap se amptelike blom.  Plaat: Marloth Digitale-versameling, Universiteit Stellenbosch Biblioteek

Medianavrae

Marié Theron

Inligtingsbibliotekaris: Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch-biblioteek

Tel. 021 808 4430

E-pos: theronm@sun.ac.za