Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaners baie aan Madiba verskuldig
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/07/2018

Ons moet erken dat ons baie aan Nelson Mandela verskuldig is, het die filosoof, politieke wetenskaplike en openbare intellektueel prof Achille Mbembe van die Universiteit van die Witwatersrand op Woensdag (18 Julie 2018) gesê.

Hy was een van vier kenners wat aan 'n paneelbespreking by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) op die Stellenbosch-kampus deelgeneem het. Die ander deelnemers was proff Sarah Nuttal, ook van die Universiteit van die Witwatersrand, en Jean Comaroff en John Comaroff van die Universiteit van Harvard.

Die paneelbespreking was deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Mandeladag-vieringe en is deur STIAS, die Leerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie, en die Indexing Transformation-projek aan die US aangebied. Die tema van die bespreking was After Mandela: Citizenship, Generation and Historical Time.

Mbembe het gesê Suid-Afrika is vandag wat dit is danksy Mandela wat bereid was om skuldig te pleit vir sy oortuiging dat alle mense vry en gelyk gebore word.

Hy het bygevoeg dat hoewel dit belangrik is om Mandela te onthou, ons hom nie in die beskuldigde- bank moet plaas vir wat tans in die land gebeur nie.

“Daar is mense wat hom wil verhoor. Hierdie keer word hy daarvan aangekla dat hy uiteindelik sy mense uitverkoop het. Daar is geen bewyse in die feit dat hy mense uitverkoop het nie."Mandela Roundtable.jpg

“Daar is ander wat hom opsy wil stoot. Hulle dink hy kry meer krediet as wat hy verdien en dat hy te veel spasie in beslag neem. Hulle dink ook hy verhoed dat hulle die toekoms wat radikaal verskil van die hede waarin hulle tans vasgevang is kan hê."

“Hulle is daarvan oortuig dat Mandela aan die verlede behoort en dat hierdie verlede die huidige hede in gevaar stel. Hulle wil 'n toekoms sonder Mandela hê."

Mbembe het gesê die tyd het gekom om Mandela met rus te laat.

“Streng gesproke is daar niks anders wat hy ons vandag kan gee as wat hy nie reeds gegee het nie. Hy het alles gegee wat hy kon."

Jean Comaroff het in haar bydrae die verskillende debatte wat Suid-Afrikaners, veral jongmense, oor Mandela se nalatenskap voer beklemtoon.

Sy het aangevoer dat sulke gesprekke plaasvind weens die frustasie oor die skep van 'n meer regverdige en inklusiewe wêreld.

“Hierdie debatte toon Mandela is steeds relevant vir ons samelewing," het Comaroff bygevoeg.

Sarah Nuttal het gesê Mandela was geïnteresseerd daarin om sistemiese verandering in die hede teweeg te bring. Sy meen debatte oor Mandela se nalatenskap moet ook fokus op die rol wat Winnie Mandela in sy lewe en in die stryd teen apartheid gespeel het.

John Comaroff het gesê Mandela was 'n komplekse politieke figuur en denker, en sy nalatenskap word steeds betwis.

  • ​Oud-president Nelson Mandela, ʼn ererdoktorandus van die US, sou in 2018, dieselfde jaar waarin die US sy Eeufees gedenk, 100 jaar oud gewees het.

Foto: Proff Jean Comaroff, John Comaroff, Steven Robins (moderator), Sandra Nuttal en Achille Mbembe​ by die paneelbespreking.