Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Universiteitskoor wen groot in Wallis
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 09/07/2018

Die Stellenbosch Universiteitskoor het skoonskip gemaak by die prestigeryke Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod in Wallis deur al drie kategorieë waaraan hulle deelgeneem het (Jeugkore, Gemengde kore en Oop kore) te wen. Die koor het met ʼn telling van 95,5% eerste gekom in die Jeugkoor-kategorie, met 90,3% in die kategorie vir Gemengde Kore en met 95% in die kategorie vir Oop kore.



André van der Merwe, die koorleier van die Stellenbosch Universiteitskoor, het die Jayne Davies-prys vir beste dirigent by die Llangollen-eisteddfod ontvang.

SU Choir_André van der Merwe_Llangollen.jpg

​Van der Merwe sê hy is “ongelooflik trots op die koor en die bestuurspan se samewerking en prestasie in Wallis. Die ware gees van saam musiekmaak het geseëvier. Die gehore se warm reaksie op ons musiek was werklik roerend. Ek voel die koor se artistieke dimensie het verdiep omdat ons die siel van Suid-Afrika op ʼn internasionale verhoog kon deel."

Die Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod het van 5 tot 8 Julie plaasgevind. Hierdie fees lok jaarliks tot 50 000 besoekers en ongeveer 4 000 deelnemers, waaronder 150 kore, van dwarsoor die wêreld. Die US Koor was saam met slegs drie ander kore genooi om voor ʼn gehoor van 2 000 aan die International Celebration Concert deel te neem waarmee die Llangollen-eisteddfod geopen het. Dié konsert is op Britse TV uitgesaai. Die US Koor was ook deel van die kleurryke sogenaamde International Parade deur Llangollen waarin al die deelnemende kore as verteenwoordigers van hul land deur die stad stap.

Ná hul besoek aan Wallis maak die koor ʼn draai in Tshwane by die 2018 Interkultur Wêreldkoorspele waaraan meer as 300 kore van oor die wêreld deelneem. Omdat André van der Merwe die voorsitter van die Wêreldkoorspele se artistieke komitee is, mag die koor nie in dié kompetisie meeding nie. Die US Koor, wat die afgelope vyf jaar nommer een op Interkultur se ranglys van 1 000 internasionale kore was, is egter genooi om as demonstrasiekoor by die Koorspele op te tree.

  • Kaartjies vir die US Koor se Celebration Concert by die Koorspele in die Universiteitsoord op 12 Julie is deur Nutickets beskikbaar: http://wcg.nutickets.co.za/2018SA