Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regskliniek vra vir die afskaffing van tampontaks
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/06/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Regskliniek het 'n skriftelike voorlegging ingedien by die Nasionale Tesourie om vroulike higiëniese produkte by die lys van BTW-vrye items in te sluit. 

Dit volg na die Tesourie se aankondiging vroeër vanjaar om die lys van BTW-vrye items te hersien. Die Tesourie het ook 'n versoek gerig vir voorleggings van die publiek om sekere items by die lys te voeg vir hersiening.

Monja Posthumus-Meyjes, prokureur by die US-regskliniek, het saam met Danielle Louw en Erika Wright, kandidaat-prokureurs van die regskliniek, navorsing gedoen oor BTW wat op vroulike higiëniese produkte gehef word, in samewerking met Dr Lize Mills en Silke de Lange van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid.  Hierdie term staan ook bekend as 'tampontaks'. Hul navorsing het ook gefokus op die impak wat hoë pryse van sanitêre produkte het op vroue wat nie die produkte kan bekostig nie.

“Ons navorsing het aangedui dat gebrekkige toegang tot vroulike higiëniese produkte – weens hoë pryse – 'n groot probleem is wat arm en agtergeblewe vroue en meisies in Suid-Afrika ervaar.  Omdat hulle dit nie kan bekostig nie, is hulle dikwels genoodsaak om ander onhigiëniese en ongesonde metodes as sanitêre doekies tydens menstruasie te gebruik."

Die kwessie van tampontaks in Suid-Afrika het onlangs onder die soeklig gekom toe LP's in die parlement daarop aandring dat sanitêre produkte BTW-vry of selfs gratis moet wees. In 2004 het Kenia die eerste land geword om tampontaks af te skaf. In Mauritius is dit ook sedert 2017 afgeskaf.

“Die feit dat baie meisies en vroue nie sanitêre produkte kan bekostig nie, het 'n verdere impak op hul lewens. Bykans 30% van skoolgaande meisies in Suid-Afrika kan nie skool toe gaan as hulle menstrueer nie en verloor dus sowat 90 dae per skool jaar," sê Posthumus-Meyjes.​​​​