Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bring biodiversiteit en die gemeenskap bymekaar
Outeur: Rachael Spiers
Gepubliseer: 11/06/2018

​Die Ingcungcu Sunbird Restoration-inisatief


Die doel van die Ingcungcu-inisiatief, vernoem na die Xhosa-woord vir “voëls met lang snawels", is om ʼn migrasiekorridor vir nektarvretende voëls oor die Stad Kaapstad heen te heropen deur tuine met voëlbestuifde plante op skoolgronde te plant.

Die inisiatief, onder leiding van prof Anton Pauw van die Departement Plant- en Dierkunde van die Universiteit Stellenbosch (US) en Bongani Mnisi, hoof van natuurbewaring vir die Stad Kaapstad, betrek leerders en onderwysers van agt skole oor die Skiereiland heen en verskeie vennote uit die groter gemeenskap. Ceinwen Smith, ʼn privaat bewarings- en onderwyskonsultant, bestuur tans die projek.

Die projek het in 2013 begin toe Bongani, toe ʼn deeltydse student aan die US, besluit het om sy meestersgraadtesis te skryf oor hoe die herstel van die nektarvretende voëlgemeenskap leierskap vir biodiversiteit kan identifiseer en kweek. Sy studieleiers, prof Pauw (PhD) en dr Sjirk Geerts (PhD), gebaseer by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, het Bongani op die baan gelei wat aanleiding gegee het tot ʼn uiters suksesvolle biodiversiteits- en gemeenskapsinisiatief.

Die uitdaging, soos deur prof Pauw geïdentifiseer, was hoe om die impakte van die groeiende stad op sy natuurlike omgewing te versag terwyl die voordele van biodiversiteit terselfdertyd benut word. “ʼn Unieke aspek van die fynbos-plantegroei wat die stad omring, is dat die dominante struike van voëls vir bestuiwing en gevolglik saadproduksie afhanklik is. Die stad is egter ʼn hindernis tot die migrasie van hierdie voëls," verduidelik prof Pauw.

Alhoewel daar slegs vier spesies vaste nektarvretende voëls in die Kaap is, is hulle die bestuiwers van ongeveer 350 plantsoorte.

Om die teorie oor die belang van habitatkorridors vir die handhawing van biodiversiteit te toets, is agt skole as liggings vir die kweek van tuine met voëlbestuifde plante gekies.

Die agt skole is gekies om ʼn korridor te vorm wat ʼn deel van die Tafelberg Nasionale Park met die afgesonderde Rondevlei Natuurreservaat op die Kaapse Vlaktes verbind. Tuine met ʼn grootte van ongeveer 200 m2 is in April/Mei 2014 by die vier hoërskole geplant, en in Augustus 2017 by die vier laerskole. Die leerders en personeel van elke skool is betrokke by die voorbereiding en plant van die tuine, en is geleer hoe om voëls te identifiseer en op te teken.

Die opening van hierdie migrasieroete is veral belangrik wanneer brande die plantegroei tydelik uitdun, wat voëls dwing om die gebied te verlaat op soek na nektar.

“Die projek is steeds in ʼn baie vroeë fase en die uitwerkings is steeds klein. Jangroentjies is in 2016 vir die eerste keer in die tuine gesien. Die uitwerkings op die leerders was egter indrukwekkender, met ʼn aanmerklike toename in hul kennis van die natuur," sê Bongani.

Buiten die US se betrokkenheid by die praktiese toepassing van navorsingsbevindinge, wat tot wetenskaplike referate en verbeterde omgewingsgesondheid lei, bied die inisiatief aan leerders ʼn geleentheid om aktiewe rolspelers in die skepping van ʼn meer volhoubare toekoms te word.

Die skole en die omgewing sal albei by die tuine baat, wat ʼn toename in groen ruimtes in die stedelike omgewing en ʼn geleentheid om in aanraking met die natuur te kom, bied.


“Ons visie vir die volgende tien jaar is om die korridor oor die Kaapse Vlaktes tot by die Stellenbosch-berge uit te brei," sê prof Pauw.

Die inisiatief het wyd verspreide ondersteuning ontvang en toekomsplanne sluit die moontlikheid van ʼn app in om te help met die identifisering en optekening van voëls. Die versameling van saad en die verkryging van plante bly uitdagings vir die toegewyde span.

 

​​

Besoek gerus die volgende webtuistes vir meer inligting oor hierdie inisiatief asook oor hoe om daarby betrokke te raak:

Stellenbosch University Social Impact Initiative Profile

Ingcungcu Sunbird Restoration Project-webtuiste

Ingcungcu Sunbird Restoration Project Facebook-bladsy