Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende nuwe US-module bevorder diversiteit onder studente
Outeur: Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/06/2018

“In Suid-Afrika én by die Universiteit Stellenbosch kom ons uit 'n verdeelde verlede, wat dit noodsaaklik maak dat ons onderrig en kurrikula so ontwerp word dat dit vir ons studente se uiteenlopende geskiedenisse en verskillende ervarings van gender, kultuur, taal en godsdiens voorsiening maak."

Dít is die oortuiging en oogmerk van dr Anita Jonker en haar kollegas in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Die Fakulteit het in 2018 'n nuwe interdissiplinêre module “Gender-, kultuur- en godsdiensdiversiteit" bekend gestel met proff Xolile Simon van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie (Teologie) en Dennis Francis van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie (Lettere en Sosiale Wetenskappe) as gasdosente. Die module is spesifiek ontwerp vir studente in die Verlengde Graadprogram (VGP), wat hulle eerste akademiese jaar oor twee jaar voltooi. Dít bied hulle die geleentheid om uitgebreide skryfsteun te ontvang en met verrykte kurrikuluminhoud om te gaan om hulle wêreldbeskouings te verbreed.

Volgens Jonker, VGP-koördineerder en -dosent, beoog die module om die kompleksiteite van godsdiens, gender en kultuur in die samelewing te behandel en studente in staat te stel om in uiteenlopende omgewings krities en kreatief te dink.

“Ons wil hê ons studente moet mekaar se godsdienstradisies en -rituele ken en respekteer, en terselfdertyd die vermoë aanleer om krities te lees en te luister. In die tutoriale word studente dan ook aangemoedig om die inhoud te bespreek en hulle eie menings op grond van die leesstukke, lesings, taalsteun sowel as hulle tutors en medestudente se kommentaar te vorm."

Hoewel slegs die 120 studente in die VGP-eerstejaargroep tans vir die module in aanmerking kom, was daar al heelwat versoeke om die kursus vir 'n groter gehoor aan te bied. Die module bestaan uit drie lesings en een tutoriaal per week. Die eerste lesing word aan Engels en Afrikaans in die geesteswetenskappe gewy, terwyl die oorblywende twee oor vakspesifieke inhoud handel.

Vanjaar se module stel studente aan belangrike vakspesifieke begrippe bekend wat in die voorgeskrewe leesmateriaal voorkom. Dít sluit in die onderskeid tussen biologiese geslag en genderidentiteit, die uitlewing van gender, seksuele oriëntasie, heteronormatiwiteit en verpligte heteroseksualiteit, sowel as die vernaamste verskille tussen transseksuele en transgenderpersone. Om studente se begrip van diversiteit in godsdiens, gender en kultuur uit te brei, sluit die module ook onderrig en leer buite die klas in. Studente word aangemoedig om aanbiddingsplekke te besoek waarmee hulle nie vertroud is nie, wat Jonker as 'n uiters belangrike komponent van die module beskou.

“Studente moet kan in gesprek tree oor die kwessies wat die module opper, nie net gedurende die module nie, maar ook lank nadat hulle dit voltooi het, wanneer hulle onder hulle vriende en kollegas met verskillende sienings oor dié sake te doen kry. Studente van verskillende godsdienste of uit ateïstiese of agnostiese agtergronde word ook aangemoedig om aanbiddingsplekke te besoek wat hulle nie ken nie. So leer verstaan hulle die kompleksiteite van godsdiensdiversiteit, die potensiaal van intra- en intergodsdienstige gesprek om konflik vreedsaam te besleg, en die menswaardigheid van vroue en die LGBTIQA-gemeenskap," sê Jonker.

Engels/Afrikaans-tolke word vir alle lesings gebruik, en aangesien prof Simon 'n Xhosa-moedertaalspreker is, kan studente vrae in enige van die Wes-Kaap se drie amptelike tale vra.

Vir meer inligting oor die module, kontak dr Anita Jonker by axjonker@sun.ac.za.​