Samewerking tussen die Stellenbosch-munisipaliteit en die Universiteit Stellenbosch (US) het tot groot waterbesparings op Stellenbosch gelei, maar beide instellings is vasbeslote om waterverbruik selfs verder te verminder ondanks die goeie reën die afgelope ruk.
Dít was die boodskap by ʼn vergadering van die Rektor-Burgemeester-forum verlede week [24 Mei 2018]. Dié gesamentlike struktuur fasiliteer samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch-munisipaliteit tot voordeel van die hele dorp en die gemeenskap.
Stellenbosch verbruik nou daagliks so min as 15 megaliter drinkwater van die voorraad wat deur die Stad Kaapstad voorsien word, teenoor gemiddeld 45 megaliter voor die droogte, het mnr Deon Louw, Direkteur van Infrastruktuur by die munisipaliteit, gesê. En volgens prof Stan du Plessis, Bedryfshoof van die US, het die Universiteit se drinkwaterverbruik die afgelope jaar met 45% afgeneem.
Hulle het dít onder meer aan munisipale waterbeperkings en boorgate toegeskryf, asook sukses in die stryd teen lekkasies op die US-kampus en goeie samewerking deur studente en personeellede om water meer spaarsamig te gebruik. Die Universiteit en die Munisipaliteit het ʼn gesamentlike droogtereaksieplan.
Vlak 6B-waterbeperkings geld sedert 19 Februarie in Stellenbosch, wat behels dat individue slegs 50 liter munisipale drinkwater per dag mag gebruik. Die Munisipaliteit vul dié voorraad nou aan met water uit talle boorgate, wat teen ʼn totale koste van R67 miljoen gesink is, het mnr Louw gesê.
Die Universiteit het 200 nuwe elektroniese watermeters geïnstalleer, wat dit moontlik maak om spesifieke geboue se verbruik afsonderlik te monitor in plaas van ʼn aantal geboue saam soos vantevore.
“Ons het op dié manier onlangs ʼn groot lekkasie by een van ons koshuise opgespoor, wat nie vantevore moontlik was nie. En ons reaksietyd in ons 'oorlog teen waterlekkasies' is nou gesny tot maksimum ʼn uur," het prof Du Plessis gesê.
Die US gebruik tans sowat 10% van die dorp se drinkwater, maar verdere besparings sal volg wanneer die groot gryswaterstelsel wat tans geïnstalleer word, in werking tree.
“Wat ons hier reggekry het, illustreer die voordele van samewerking. Dit sal egter eers ʼn ware suksesverhaal wees as die veranderinge blywend is. Ons sit dus ons bewusmaking voort," het prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier, gesê.
“Ek is uiters trots op die voorsorgmaatreëls wat ons in plek gestel het, veral die prosesse wat ons minder afhanklik van die stad se bronne maak, en ons inwoners se samewerking om water te bespaar. Dit beteken egter nie dat ons nou kan ophou nie, daar lê nog ʼn lang pad voor," het adv Gesie van Deventer, Uitvoerende Burgemeester, gesê.
– Verklaring gesamentlik uitgereik deur die Universiteit Stellenbosch en die Stellenbosch-munisipaliteit
Onderskrif: Teenwoordig by die Rektor-Burgemeester-forum op 24 Mei 2018 was, van links af, prof Stan du Plessis, dr Leslie van Rooi, proff Eugene Cloete en Wim de Villiers (van die US), adv Gesie van Deventer, en mnre Deon Louw, Tabiso Mfeya en Donovan Muller (van die Munisipaliteit), en prof Nico Koopman (US).
(FOTO: ROZANNE ENGEL)