Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US onderteken samewerkingsooreenkoms met die Oudtshoorn Munisipaliteit
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 31/05/2018
Die Universiteit Stellenbosch (US) waardeer die geleentheid om deur formele Memoranda van Verstandhouding (MVV’s) met plaaslike regerings te kan saamwerk. Die Universiteit het bestaande MVV’s met die Wes-Kaapse Regering (WKR) en die Stad Kaapstad deur sy lidmaatskap van die Kaapse Hoëronderwyskonsortium (KHOK). Die US het ook MVV’s met die Stellenbosch en die Drakenstein Plaaslike Munisipaliteit (al twee in die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit); die Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit (in die Weskus-distriksmunisipaliteit); asook die Hessequa Plaaslike Munisipaliteit en, mees onlangs, die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit (al twee in die Eden-distriksmunisipaliteit).

Die Universiteit met sy visie van inklusiwiteit, innovasie en toekomsgerigtheid, en met sy fokus op die ontwikkeling van personeel en studente as denkleiers in die bevordering van positiewe sosiale impak in die samelewing, gaan voortaan ’n sleutelrol in die ontwikkeling van menslike en infrastruktuurpotensiaal in Oudtshoorn hê. ’n Amptelike MVV tussen die US en Oudtshoorn is op 18 Mei 2018 deur prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en die Uitvoerende Burgemeester van Oudtshoorn, rdl Colan Sylvester, onderteken. “Deur die ondertekening van die MVV verstewig en versterk die Universiteit Stellenbosch sy aktiwiteite en inisiatiewe in die Oudtshoorn-streek,” sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie.​

Die strategiese fokus van die ooreenkoms val op die onderwysvennootskapprojek vir Oudtshoorn-skole, ondersteun deur die direkteur van die Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP), dr Trevor van Louw, die Eden-kunsakademie, asook die skolekunstefees wat strategies deur die direkteur van die US Woordfees, me Saartjie Botha, gestuur word. Die vestiging van ’n Agri-Park om in die behoeftes van die Klein-Karoo in sy geheel te voorsien, sover dit die plaaslike landbou-ekonomie betref, vorm die derde strategiese fokus. Die Universiteit gaan verder Oudtshoorn se strategieë vir die implementering van sporttoerisme, die uitbouing van gesonde en sosiaal stabiele gemeenskappe, die bemagtiging van ’n werksmag en gemeenskappe, die bevordering van goeie regering, en die stimulering van die plaaslike ekonomie deur die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling (PEO) ondersteun.

Soos met ander soortgelyke MVV’s, maak hierdie ooreenkoms deur kapasiteitskepping en gesamentlike inisiatiewe van die US se intellektuele kapitaal en die munisipaliteit se burgerlike infrastruktuur gebruik, ten einde die ontwikkelingsbehoeftes van die munisipaliteit aan te spreek. Inisiatiewe maak ’n integrerende deel van die Oudtshoorn Munisipaliteit se GOP uit.

US-personeel en -studente word genooi om deur middel van verbonde-akademieskap- en ‑burgerskapinisiatiewe medewerkende sosiale-impakinisiatiewe met die gemelde munisipaliteite aan te gaan wat die geïdentifiseerde ontwikkelingsgebiede, of enige ander moontlike gebiede, sal bevoordeel. Tree gerus met die Bestuurder: Verbonde Akademieskap in die Afdeling Sosiale Impak, mnr Mawethu Nyakatya, in verbinding. Voorbeelde van bestaande US Sosiale-impakinisiatiewe met munisipaliteite is beskikbaar op die Sosiale-impakkennisplatform.