Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste ontvangers van Bettie Harmsen-beurs aangewys
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 29/03/2018

Die atletiek- en akademiese loopbaan van twee atlete van die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n beduidende hupstoot ontvang toe hulle as die eerste ontvangers van die Bettie Harmsen-beurs gekies is.

Bettie Harmsen, née Buitendag, was 'n ywerige atleet en US-gegradueerde wat in 1989 haar BSc-honneursgraad in Mediese Biochemie verwerf het. Nadat sy aan die US gegradueer het, het Bettie 'n suksesvolle loopbaan in die farmaseutiese bedryf gehad, eers in Suid-Afrika en later in the Verenigde State waar sy saam met haar man en twee kinders gewoon het. Bettie is op 21 Desember 2016 in die ouderdom van 50 aan kanker oorlede.

'n Paar dae voor haar dood het sy en haar man, Hans, besluit om 'n beurs aan belowende baan- en veldatlete van die US toe te ken. Die gesin het hulself daartoe verbind om vir 'n minimum van tien jaar elke jaar $10 000 te skenk.

Baanatlete en Matiestudente Justine Palframan (24) en Gardeo Isaacs (19) deel hierdie beurs in 2018.

Die vier pilare van die beurs stem ooreen met die fokusareas van die Maties Sport Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid), naamlik sportprestasie, akademiese prestasie, persoonlike bemagtiging en ontwikkeling, en gemeenskapsbetrokkenheid.

“Ons droom vir die beurs is dat Bettie se passie en oortuigings sal voortleef. Sy was 'n inspirasie vir baie mense rondom haar: familie en vriende, haar kollegas en ons kerkgemeenskap. Bettie was altyd vol energie, toegewyd, vasberade en passievol, en sy is gelei deur integriteit en empatie. Met 'n groot glimlag en positiewe houding het sy altyd haar beste gegee. Aangedryf deur haar sterk geloof, was Bettie 'n seën vir baie mense. Met dié beurs hoop ons dat Bettie sal aanhou om ander mense se lewe op 'n positiewe wyse te beïnvloed," sê Hans.

“As 'n gesin is ons baie lief vir Suid-Afrika. Ons was só opgewonde toe ons sien hoe Wayde van Niekerk die 400m by die Olimpiese Spele in Rio wen, en ons wil baie graag bydra tot plaaslike atlete se sukses sodat hulle 'n inspirasie en voorbeeld vir ander kan wees, soos Bettie ook was."

Bettie se suster Louisa Hall, adjunkhoof by Hoërskool The Settlers in Bellville, beklemtoon hierdie sentiment:

“Ons soek studente wat meer as net atlete is – studente wat droom om 'n bydrae tot die samelewing te maak. My boodskap aan beurshouers is: Ontwikkel jou sport en gee iets terug aan die gemeenskap."

Daar word van die beursontvanger(s) verwag om aan uitreikprogramme deel te neem en om 'n ambassadeur vir die Maties Sport HP-eenheid sowel as die PACER-bemagtigingsprogram te wees. PACER is 'n Engelse akroniem wat staan vir persistence, authenticity, commitment, empathy en resilience.

Justine, wat tans besig is met haar BSc-honneursgraad in Biokinetika, is die SA kampioen in die 200m en 400m nadat sy albei dié items by die onlangse SA Baan- en Veldkampioenskap gewen het. Sy het Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Rio verteenwoordig en het twee medaljes by die Wêreldstudentespele verower – goud in die 400m in 2015 en silwer in die 400m in 2017.

“Ek is baie opgewonde en dankbaar om een van die twee atlete te wees wat vir hierdie beurs gekies is. Dit sal my help om op my atletiekvoorbereiding gefokus te bly terwyl ek studeer om my honneursgraad te behaal en 'n biokinetikus te word."

Gardeo, 'n BCom Bestuurswetenskappe-student in sy tweede jaar, spesialiseer ook in die 200m en 400m. Hy het tot die finaal van die 400m deurgedring by die SA kampioenskap en het saam met sy Boland-spanmaats 'n silwermedalje in die 4x400m-aflos verower.

“Die beurs sal my help om my prestasie op die baan te verbeter en ek glo dit sal my kanse om op internasionale vlak mee te ding, 'n hupstoot gee."

Nadat hy met Bettie se man en suster gesels het en deur 'n fotoboek van Bettie se lewe geblaai het, het Gardeo agtergekom dat haar gesin vir haar baie belangrik was en dat sy nederig gebly het ten spyte van die sukses wat sy behaal het.

“Ek wil graag haar nalatenskap eer deur 'n minderbevoorregte persoon te help soos sy my gehelp het."

Justine het opgemerk dat Bettie 'n ongelooflike vrou was wat lief was vir reis en om nuwe dinge te ervaar.

“Ek sou graag dieselfde impak as sy wou hê, altyd met 'n glimlag en 'n helpende hand. Sy het 'n bydrae gemaak waar sy kon en haar gesin altyd vooropgestel."

Volgens Sean Surmon, hoof van die HP-eenheid, het die Bettie Harmsen-beurs 'n nuwe energie by Maties Atletiek veroorsaak.

“Ons ondersteun die holistiese aspek van die verwagtinge van die beurs. Die beurs is van so aard dat dit 'n studente-atleet sou kon ondersteun om van die ongelooflike geleentheid gebruik te maak om internasionaal mee te ding."

Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, lê klem op die belang van strategiese vennootskappe om die Maties HP-program en -studente te ondersteun.

“Ons is geëerd om Bettie Harmen se nalatenskap namens haar gesin voort te sit. Hul riglyne en doelwitte vir die beurs pas perfek in by Maties Sport en die HP-program se doelwitte.

“Die verbintenis van ons twee atlete om op gemeenskapsbetrokkenheid deur sport vir sosiale impak te fokus, vorm 'n belangrike deel van ons holistiese ontwikkelingsprogram.

“Ons is so dankbaar dat 'n alumna van hierdie universiteit besluit het om te belê in die drome en doelwitte van jong studente-atlete en ons is seker dat ons in die jare wat kom die vrugte van die Bettie Harmsen-beurs sal pluk."

Foto's:

Hooffoto: Beurshouers Justine Palframan en Gardeo Isaacs blaai deur 'n fotoboek van Bettie Harmsen se lewe.

Foto 1: Bettie Harmsen, née Buitendag, in aksie op die atletiekbaan.

Foto 2: Beurshouers Justine Palframan en Gardeo Isaacs