Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wiskunde-onderwysers sukkel met Engels
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/03/2018

Graad 4 tot Graad 7 (Intermediêre Fase) wiskunde-onderwysers in Oos-Kaapse skole met beperkte hulpbronne sukkel met Engels, die taal waarin hulle veronderstel is om te onderrig, en hul kennis van wiskunde is nie op standaard nie.

Dit is een van die bevindings van 'n onlangse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase sukkel om Engels baas te raak en dit het ʼn negatiewe impak op die gehalte van wiskunde-onderrig," sê dr Lindiwe Tshuma, 'n navorsingsgenoot aan die US en 'n spesialis in primêre wiskunde by die African Institute for Mathematical Sciences Schools Enrichment Centre (AIMSSEC) in Muizenberg.

“Data toon dat hoewel sommige onderwysers ʼn poging aanwend om in Engels te onderrig en leerders se vermoë in dié taal te verbeter, dit nie op gereelde grondslag plaasvind nie," voeg sy by.

Tshuma, wat onlangs haar doktorsgraad in Kurrikulumstudie van die US verwerf het, het probeer om die verband tussen Intermediêre Fase-onderwysers se taalvaardighede en wiskunde-onderrig by Oos-Kaapse laerskole met beperkte hulpbronne te ontleed. Sy sê haar werk onder wiskunde-onderwysers in Oos-Kaapse laerskole met beperkte hulpbronne was die dryfveer agter haar navorsing.

“Hierdie onderwysers is dikwels glad nie spesialiste nie en moet wiskunde onderrig weens die tekort aan gespesialiseerde wiskunde-onderwysers op laerskoolvlak veral in skole met beperkte hulpbronne wat nie beter gekwalifiseerde onderwysers kan lok en behou nie."

As deel van haar studie het Tshuma gebruik gemaak van Engelse taalvaardigheidsassesserings, assesserings oor probleme rakende wiskundige konsepte, vraelyste, onderhoude, en ook waarnemings oor wat in klaskamers gebeur. Beide wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase en hul opvoeders by verskillende universiteite in die land het aan die studie deelgeneem.Tshuma1.png

Sy het onderwysers se vaardigheid in Engels getoets deur middel van gestandaardiseerde Engelse Taalvaardigheidsassesserings wat by vyf verskillende Suid-Afrikaanse universiteite geloods is. Hierdie assesserings het onderwysers se begrip van Engels getoets, terwyl die assessering oor probleme rakende wiskundige konsepte probeer bepaal hoe hulle Engels aanwend om dié probleme op te los.

Tshuma sê die studie het getoon dat 'n onderwyser se bevoegdheid in Engels inderdaad verband hou met hoe wiskunde-inhoud aan leerders oorgedra word.

“Onderwysers wat die onderrigtaal baasraak, is in 'n beter posisie om nuwe konsepte aan hul leerders te verduidelik en geleenthede vir die aanleer van die taal met betrekking tot die lewering van wiskunde-inhoud te skep."

“Andersyds kan onderwysers wat sukkel met die onderrigtaal leerders nie help om basiese lees- en skryfvaardighede te verrig of om wiskundige begrippe in hul eie woorde te verduidelik nie; vaardighede waardeur wiskundige inhoud dikwels geassesseer word."

“Die studie beklemtoon onderwysers se bevoegdheid in die onderrigtaal as een van die belangrikste aanwysers van wiskundige prestasie. Dit is veral belangrik aangesien die land se inheemse tale nog nie ten volle ontwikkel is om wiskunde-onderrig te steun nie."

Taalkundig swak opgelei

Tshuma sê instellings wat onderwysers oplei doen nie genoeg om wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase taalkundig sodanig voor te berei dat hulle Engels as onderrigtaal kan gebruik nie.

“Dit is alle opvoedingsdepartemente by universiteite sowel as ander instellings wat onderwysers oplei se plig om wiskunde-onderwysers in die Intermediêre Fase se Engelse taalvaardigheid te ontwikkel en te verbeter."

“Een van die maniere om die gehalte van wiskunde-onderrig in die Intermediêre Fase te verbeter is om in onderwysers se taalkundige vermoë te belê  vanaf die aanvanklike onderwysopleidingskurrikulum tot by deurlopende professionele onderwyserontwikkelingsprogramme. Onderwysers kan nie alleen hierdie leemte in wiskunde-onderrig vul nie; hulle benodig die ondersteuning van onderwyseropleidingsinstellings en ander belanghebbendes in die onderwys."

“Onderwysers moet toegerus wees met die nodige vaardighede oor hoe om nuwe inhoud deur taal te leer."

“Bevoegdheid in Engels is nodig vir onderwysers om hoë gehalte wiskunde-onderrig in dié taal te lewer. Maar dit mag egter nie voldoende wees nie. Hulle benodig ook kennis oor inhoud, kennis oor pedagogiese inhoud en spesifieke kennis oor hoe om wiskunde aan Engelse leerders te onderrig."

Tshuma wys daarop dat slegs 1 uit die 10 onderwyseropleidingsinstellings wat aan die studie deelgeneem het, modules verskaf het wat op die gebruik van Engels as onderrigtaal fokus, maar ongelukkig word die modules op magistersvlak aangebied. Sy sê die meeste onderwysers in skole met beperkte hulpbronne sal dit egter nie bereik het teen die tyd dat hulle by skole ontplooi word nie.

Tshuma voeg by dat Engels 'n vreemde taal is vir die meeste onderwysers wat dit as onderrigtaal gebruik en die feit dat ons huidige Beleid oor Taal in Onderwys vereis dat hulle Engels in die klaskamer gebruik beklemtoon die belangrikheid van hoë vlakke van Engelse taalvaardigheid. Die minimum vereistes vir onderwyseropleidingskwalifikasies vereis dat onderwysers in die Intermediêre Fase ten minste oor addisionele taalvaardigheid in Engels beskik.

“Die antwoorde van onderwysers in die assessering oor Engelse taalvaardigheid en dié oor probleme rakende wiskundige konsepte het egter grammatikale en idiomatiese foute uitgewys. My studie kom dus tot die gevolgtrekking dat addisionele taalvaardigheid in die onderrigmedium nie goed genoeg is vir 'n wiskunde-onderwyser in die Intermediêre Fase nie."

Tshuma is bekommerd dat indien die status quo bly soos dit is, onderwysers se swak taalvaardigheid en begrip van wiskundige inhoudskennis waarskynlik van onderwyser na leerder oorgedra sal word.

“Miskien moet ons vra wie die nasie in die steek laat: is dit onderwysers wat die leerders in die steek laat of is dit opvoeders wat onderwysers in die steek en laasgenoemde wat op hulle beurt dit aan leerders doen?"

“Dit gaan nie oor die verheffing van Engels bo ander amptelike landstale nie. Daar is egter 'n behoefte om voorsiening te maak vir Engelse leerders wat vandag in die onderwysstelsel is en wat in Engels onderrig en geassesseer moet word, soos bepaal deur die huidige onderwysbeleid."

Tshuma sê sy hoop haar studie sal ʼn wesenlike bydra lewer tot die huidige debat oor taalgebruik in die onderwys en om bewustheid onder diegene wat die kurrikulum vir onderwysersopleiding ontwikkel te kweek sodat onderwysers se bemeestering van die onderrigtaal geprioritiseer word vir die oordrag van betekenisvolle inhoud in klaskamers met beperkte hulpbronne.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Dr Lindiwe Tshuma in haar kantoor.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lindiwe Tshuma

African Institute for Mathematical Sciences Schools Enrichment Centre

Muizenberg

Tel: 0217879265

E-pos: lindiwe@aimssec.ac.za

      UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za