Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie werp lig op SA verbruikers se houding jeens wyn
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 22/03/2018

Suid-Afrikaanse wynverbruikers deel soortgelyke beskouings van wyn oor verskillende etniese groepe heen.

Dit blyk uit navorsing deur Dr. Carla Weightman waarin sy gefokus het op die beskouings van plaaslike verbruikers jeens wyn. Dr. Weightman kry vandeesweek (Dinsdag, 20 Maart) haar PhD (Wynbiotegnologie) oor hierdie  onderwerp van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie projek is gedoen in die navorsingprogram van Dr. Hélène Nieuwoudt,  senior navorser by die Instituut vir Wynbiotegnologie, wat fokus op sensoriese en navorsingsaspekte van Suid-Afrikaanse wyn.

Dit is die eerste studie in sy soort waarin daarop gefokus word om die veranderde landskap van plaaslike wynverbruik oor kulture heen te verstaan.

In die verlede het die plaaslike wynbedryf meestal op die uitvoermark gefokus. Dit het egter die toenemende binnelandse mark as 'n prioriteit geïdentifiseer. Suid-Afrika het per capita baie lae wynverbruik vergeleke met ander wynproduserende lande. Die plaaslike wynmark het oor die afgelope twee dekades ook verander en kry stewige kompetisie van ander alkoholiese drank, hoofsaaklik bier. Die wynbedryf is nou daarop gerig om meer verbruikergedrewe te wees om wynverbruik te verhoog.

In haar ondersoek het Dr. Weightman gefokus op die twee groepe wat die mees beduidend wyn in die land gebruik, naamlik stedelike swart en wit wyndrinkers.

Histories is die wit verbruikers die grootste groep verbruikers van wyn, maar swart verbruikers is nou verantwoordelik vir sowat 80% van wynverbruik in die land. Daar is nog min navorsing gedoen oor die veranderende aard van wynverbruikers en hul beskouing van wyn.

Dit kom voor of wyn in verband gebring word met status en sofistikasie, voorkoms, viering, ontspanning en kos. Dr Weightman het dit soos volg verduidelik: “Die feit dat wyn gedrink word by etes is wat beskou kan word as die vernaamste dryfkrag wat wyn van ander kategorieë van alkoholiese drank onderskei. Hierdie resultate is nie verrassend nie, maar benadruk hul belangrikheid vir verbruikers en die bedryf moet op hierdie idees fokus. Soos wat verbruikers se sosiodemografiese profiele eenders word, so ook word hul wynbeskouing en voorkeure dieselfde."

Dr. Weightman het fokusgroepe ingespan om verbruikers se beskouings, stylvoorkeure, die konteks waarbinne hulle iets geniet, hul koop- en verbruikspatrone en reis na wynverbruik beter te begryp.

Sy het 'n vraelys opgestel om motiverings vir wynverbruik op 'n groot skaal te bekyk en op stedelike verbruikers in Gauteng gefokus. Dr. Weightman het ook verbruikers vergelyk, assessore opgelei en bedryfslui se sensoriese persepsie van wyn. Sy het ook die invloed van kultivarname en voorkeure van verbruikers bekyk.

In die algemeen is die motivering vir mense om wyn te drink in die verskillende verbruikersegmente dieselfde. Die sosiale aspekte, sensoriese aantreklikheid en faktore wat met etiese oorwegings verband hou, was die drie belangrikste motiveringsfaktore vir verbruikers se wynkeuses. “Verskille wat waargeneem is, was grotendeels tussen manlike en vroulike verbruikers," het Dr. Weightman opgemerk. “Wat betref etnisiteit, is in die studie bevind dit weerspieël nie 'n groot onderskeid tussen die verskillende etniese groeperinge nie."

Wynstylkeuses, geleenthede om dit te geniet, koop- en verbruikpatrone, asook mense se reis na wynverbruik, is verken.

In Suid-Afrika is 56%van die bevolking wat wyn drink vroue en dit lyk of hulle meer wyn by meer soorte geleenthede drink as hul manlike eweknieë wat net 43% van die wynverbruikende bevolking is. Waar die meeste mans begin met bier, kies vroue om met wyn te begin.

Wyn is gewoonlik die eerste keuse vir alkoholiese drank vir vroue by die meeste geleenthede. Mans kies in die algemeen om bier of whiskey eerste te drink, maar sal wyn drink saam met 'n maaltyd.

Vroue van albei kulturele groepe was daartoe geneig om wyn meer gereeld vroeër in hul lewe te begin gebruik as hul manlike eweknieë. Jonger mans van albei kultuurgroepe drink meestal bier en soorte sterk drank (whiskey).

Die mees beduidende invloed op wynverbruik is die konteks waarbinne dit verbruik word, luidens die ondersoek. Die tweede faktor van kernbelang is die lokaal waar die verbruik plaasvind en die derde faktor is of 'n maaltyd daarby betrokke is. Eindelik is die beslissende faktor in verbruikerskeuses oor wyn hul begroting.

Nog 'n konteks waar wynverbruik verskil, is tuis. Vroulike deelnemers het opgemerk dat hulle telkens 'n glas wyn drink wanneer hulle tuiskom om hulle te help ontspan ná 'n stresvolle dag. In die geval van mans is wynverbruik sterk verbind tot 'n sosiale geleentheid. Hierdie bevinding is nie beperk tot wyn nie. Dit geld ook vir bierverbruik.

'n Ontluikende tendens onder swart verbruikers, mans en vroue, is die gedagte om jou spesifieke maaltye en wyne te kombineer vir 'n beter eetervaring. Dit lyk of swart verbruikers meer bewustelik byhou met huidige tendense en meer daarin en handelsmerke belangstel as hul wit eweknieë, luidens die studie.

Interessant genoeg word rooiwyn as beter as witwyn beskou. Mense is ook gewillig om meer geld te bestee aan rooiwyn as aan witwyn en veral as die bottel gekurk is. Verbruikers glo ook wyn met kurk 'smaak anders' as wyn met 'n skroefdop maar kan nie presies sê hoe die smaak verskil nie.

Hoewel die swart groep verbruikers 'n taamlike laat toetrede gemaak het met hul wynverbruik, is hul motiverings vir hoekom hulle wyn drink en beskouings daaroor nie opmerklik verskillend van dié van hul wit eweknieë nie.

Hindernisse wat betref verbruikersetiket en onuitgesproke reëls is geïdentifiseer as moontlike redes wat keer dat daar meer in die algemeen wyn verbruik word. Hierdie 'hindernisse' werk tot 'n mate die verskille tussen wyn- en ander alkoholkategorieë in die hand. Dr. Weightman verduidelik dit soos volg: “Dit is ietwat van 'n tameletjie waar dit gaan om die verhoging van wynverbruik in Suid-Afrika. Hoewel die bedryf 'n toename in verbruik wil sien en wyn meer toeganklik maak, is dit dit elite-status (van die produk) wat wyn gesog maak. Dit gee aanleiding tot die vraag: As almal begin wyn drink, kan dit sy aantrekkingskrag verloor?"

Oor die algemeen is die redes om wyn te drink dieselfde tussen die verskillende verbruikersegmente. Die sosiale aspekte, sensoriese aantreklikheid en faktore wat met etiese oorwegings verband hou was die drie belangrikste motiveringsfaktore vir Suid-Afrikaanse wynverbruikers.

Die studie dra by tot beter insae in die persepsies van plaaslike verbruikers van wyn en toon toekomstige rigtings vir verdere studies. Daar is verskeie projekte wat hieruit gespruit het wat tans gedoen word deur die Instituut vir Wynbiotegnologie. Dit is gerig op spesifieke segmente van die plaaslike wynverbruikerbevolking.

Die Nasionale Navorsingstigting, die Departement van Wetenskap en Tegnologie, Winetech en die Instituut vir Wynbiotegnologie het die projek gefinansier.