Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ma en dogter vang saam graad by die US
Outeur: Rozanne Engel/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 20/03/2018

​Om saam te groei en vorentoe te gaan is nie alleen die Eeufees-tema van die Universiteit Stellenbosch (US) nie, maar ook die tema wat vir jare soos 'n goue draad deur die lewe van die Van Zyl-gesin loop. Dit word beaam deur die feit dat ma Benita en dogter Tinneke van Zyl al twee grade by vanjaar se reeks gradeplegtighede in Maart sal ontvang.

Benita ontvang haar MEd-graad (Kurrikulumstudie) cum laude tydens die vyfde gradeplegtigheid op Donderdag, 22 Maart, terwyl haar dogter Tinneke haar BScHons-graad (AgriWetenskappe) by die derde gradeplegtigheid op Dinsdag, 20 Maart, ontvang het.

“Ek sou nooit kon raai dat ma en dogter saam in dieselfde jaar en in dieselfde gradeplegtigheidsweek graad sou kry nie. Woorde kan nie die emosies beskryf wat ek ervaar nie. Dis opwindend en iets wat ons vir die res van ons lewe sal koester," sê Benita.

Die Van Zyls is 'n trots Maties-gesin. Benita het haar man by die US ontmoet terwyl hulle met hulle voorgraadse studie besig was. Hulle kinders Tiaan, wat Bedryfsingenieurswese studeer, en Tinneke het besluit om hulle ouers se voorbeeld te volg en het al twee gekies om by dieselfde universiteit te studeer.

Terwyl Benita haar nagraadse studie voltooi het, moes sy boonop haar werk as ResED-bestuurder by die Sentrum vir Studentegemeenskappe aan die US voortsit.

“Ek is verskriklik trots op my ma dat sy haar meerstersgraad kon klaar maak terwyl sy 'n ma en eggenoot moes wees en boonop voltyds moes werk – 'n superheldin soos min! Dit was ook 'n troos met drie studente in dieselfde huishouding. Ons kon mekaar deur al ons jare van studie ondersteun. Om saam met my ma te kan graad vang, maak dit selfs meer sentimenteel en spesiaal," sê Tinneke.

Tinneke het begin Januarie vanjaar Ceres toe getrek om by Tru-Cape te gaan werk. Haar rol by Ceres Fruit Growers behels gehalteversekering waar sy sorg dat al die onderskeie spesifikasies vir die maatskappy se plaaslike en uitvoermark nagekom word.

“Ek mis my dogter só baie. Ons verhouding was nog altyd meer as 'n ma-dogter-verhouding – ons was boonop mekaar se beste vriende. Natuurlik is ek ook trots op Tinneke dat sy haar doelwitte najaag en nou haar loopbaan in Ceres begin," sê Benita.

Behalwe dat hulle vanjaar saam afstudeer, deel Benita en Tinneke 'n passie vir netbal. Benita was die kaptein van die Protea-netbalspan tussen 1996 en 1997, en die Maties-netbalkaptein in 1988. Tinneke het as tiener netbal gespeel en in graad 8 was sy deel van die Westelike Provinsie-netbalspan.

Volgens Benita moes netbal egter later vir kinders grootmaak en 'n loopbaan in die onderwys plek maak. “Ongelukkig het ek nie meer genoeg tyd vir netbal nie. My fokus is nou op my studente vir wie ek baie lief is, en op maniere om hulle ervaring by die US selfs beter te maak," sê Benita.

Benita se MEd-navorsing fokus op pendelaarstudente en hoe klustergemeenskappe by die US gehelp het om dié studente 'n beter Matie-ervaring te gee. “Dit is baanbrekersnavorsing hierdie, aangesien niemand anders in die land al na dié onderwerp gekyk het nie. Ek kon my nog altyd met hierdie pendelaarstudente vereenselwig en verstaan hulle omstandighede en die ervarings wat hulle deurmaak, aangesien ek dit ook in my hoërskooljare deurgemaak het."

Toe sy op hoërskool was, moes Benita heen en weer van haar ouerhuis in Kuilsrivier na die Hoërskool Belville pendel. Sy het haar bes gedoen om akademies uit te blink terwyl sy ook aan sport en ander buitekurrikulêre aktiwiteite deelgeneem het.

Tinneke sê dit is hierdie harde werk en vasberadenheid wat sy by haar ma gesien het wat haar gemotiveer het om selfs harder te probeer werk. “My gesin was deur die bank ondersteunend en liefdevol. Hulle sê altyd ek moet doen wat ek wil doen, solank ek dit geniet. Om te sien dat my ma dieselfde doen is nog meer bemoedigend."

Vir meer inligting oor die Maartgradeplegtighede, besoek www.sun.ac.za.​​