Om die risiko van beurtkrag te probeer beperk, het Jancke Eygelaar, 'n 25-jarige student aan die Universiteit Stellenbosch (US), 'n kabelstelsel ontwerp wat beplanningsbestuurders by kragnutsmaatskappye voorkomende instandhouding help skeduleer en sodoende die betroubaarheid van kragvoorsiening verhoog.
Jancke sê om verder te studeer was nie juis deel van sy plan nie, maar hy het nietemin vir 'n Meesters program in Bedryfsingenieurswese ingeskryf. “Ná 'n paar maande het ek dit begin geniet, selfs al wou ek nie eintlik verder leer nie." Hy het aanvanklik vir 'n magistergraad geregistreer, maar dit is later na 'n PhD opgegradeer. “Ek's baie trots op myself dat ek die opgradering gekry het. Dit toon hoe hard ek aan die projek gewerk het," voeg hy by.
Een van Jancke se grootste uitdagings was om drie jaar lank aan dieselfde probleem te werk. “Dit verg baie motivering. Ek het soveel keer byna tou opgegooi, veral ná die opgradering, want ek het geweet selfs al hou ek op, sal ek steeds my meestersgraad kry."
As 'n bedryfsintelligensiekonsultant, werk Jancke as deel van 'n gevorderde span analiste wat hoofsaaklik dataontleding doen om insig in bedryfsprosesse soos verkope, produkte en verbruikers te verkry.
Hy sê hy was 'n gemiddelde voorgraadse student, en dít het hom gemotiveer om in sy nagraadse studie te presteer. Hy wou ook aan homself bewys dat hy 'n hoër kwalifikasie kan bekom.
Jancke, 'n boorling van Stellenbosch, het in 2015 met sy magisterstudie begin en dit teen die einde van 2016 voltooi. Ná die openbare verdediging van sy magistertesis is sy graad toegeken en na 'n PhD opgegradeer, waarvoor hy 'n verdere jaar moes studeer voordat hy sy projek kon indien.
Hy sê hy beplan om nog 'n paar jaar in die konsultasiebedryf te bly om verdere ervaring op te doen – wat altyd nuttig is – en sal dan dalk vir 'n paar jaar oorsee gaan werk.
Jancke is een van 267 kandidate wat hulle doktorsgrade by die US Eeufeesgradeplegtighede in die week van Maandag 19 Maart tot Vrydag 23 Maart by Coetzenburg op Stellenbosch sal ontvang. Hy het sy graad tydens die tweede gradeplegtigheid op Dinsdag ontvang.