Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maatskaplike werkers het die voetsoldate geword in die poging om gebroke samelewings te heel
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 07/03/2018

In ʼn land waar gewelddadige misdaad deel van die norm geword het, waar verkragting en seksuele aanranding volgens berigte die hoogste in die wêreld is en waar talle Suid-Afrikaners in volslae armoede leef, het maatskaplike werkers die voetsoldate geword wat op voetsoolvlak werk om die maatskaplike kwessies voortspruitend uit hierdie samelewingsprobleme hok te slaan. Volgens professor Lambert Engelbrecht, medeprofessor in maatskaplike werk en voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk by die Universiteit Stellenbosch, het maatskaplike werkers noodsaaklik geword in die stryd om die kwesbaarstes in die samelewing te beskerm. Alhoewel dit die geval is, is hulle taak egter nie maklik nie, met talle wat in ʼn stelsel moet werk wat hulle nie altyd van die nodige hulpbronne voorsien om die nodige impak te maak nie.

Dit is iets wat Engelbrecht in sy eie navorsing oor die jare beleef het.

“My navorsing tydens my meesters- en doktorale studies het gefokus op toesig en bestuur in die dissipline maatskaplike werk en danksy referate wat uit my navorsing gespruit het, kon ek deelneem aan die Marie Skłodowska Curie internasionale navorsings- en personeeluitruilskema, waar ek betrokke geraak het by projekte waarin ons die finansiële filosofie van sakebeginsels bestudeer het wat in maatskaplike werk toegepas word, of waarna verwys word as neoliberalisme en die impak hiervan in verskeie lande. Ons het ook resultate tussen lande en die impak van hierdie bestuursmodel op maatskaplikewerk-dienste vergelyk," verduidelik Engelbrecht.

Die navorsing is geïnspireer deur die besef dat, ironies genoeg, die individu dikwels oor die hoof gesien word in die maatskaplikewerk-omgewing. ʼn Onlangse voorbeeld van so ʼn geval, wat steeds vars in die geheue van talle Suid-Afrikaners is, het gelei tot die dood van ten minste 143 kwesbare pasiënte wat uit Life Esidimeni, ʼn fasiliteit onder staatsbeheer, verskuif is na etlike NRO's wat nie ingerig was om na hierdie pasiënte om te sien nie.

“Dit is ʼn voorbeeld waar die Minister van Gesondheid probeer het om uitgawes aan mense met geestesgesondheidsprobleme te sny, maar uiteindelik was dit ten koste van die eindgebruiker. Die ontmensliking van kwesbare persone ter wille van finansiële volhoubaarheid het getoon dat wat as beter bestuursbeginsels beskou word wat tot beter dienste sal lei, dikwels nie die geval in die werklikheid is nie. Kostebesparings is nie altyd beter vir die kliënt nie. Dit is ook hoekom ek empatie het met die protesoptogte deur maatskaplike werkers in 2017 teen die haglike werktoestande waaraan hulle blootgestel word, want dikwels gebeur dit dat wat bloot ʼn politieke balspel by die toppunt is ʼn omvattende impak vir diegene op voetsoolvlak inhou. Daar is baie maatskaplike werkers sonder telefone, rekenaars of motors, van wie nietemin verwag word om maatskaplike dienste aan die kwesbaarstes in ons samelewing te lewer."

Alhoewel Engelbrecht, wat die Stals-prys vir maatskaplike werk van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Junie 2017 ontvang het, nie meer as ʼn maatskaplike werker praktiseer nie, stort hy sedert 2003 sy kundigheid in navorsing en opleiding van ondernemende maatskaplike werkers by die Departement Maatskaplike Werk. Die meeste van sy tyd word bestee aan die toesighouding en bestuur van maatskaplike werkers en die opleiding van maatskaplikewerk-studente. Hierdie bydrae asook sy werk aan die gevolge van neoliberalisme vir maatskaplikewerk-dienslewering is juis hoekom Engelbrecht die Stals-prys ontvang het. Sy navorsing het reeds meer as 90 wetenskaplike uitsette opgelewer, en hy word sowel nasionaal as internasionaal hoog aangeskrewe. Wat hierdie prestasie nog meer uniek maak, is die feit dat Engelbrecht maar die derde akademikus in die dissipline maatskaplike werk is wat hierdie prys ontvang het, met een ander vakkundige van die US-departement, prof Sulina Green, wat dit in 2011 ontvang het.  

Soos die departement se filosofie – “ons kweek denkleiers in maatskaplike ontwikkeling" – fokus Engelbrecht en sy kollegas daarop om studente toe te rus om driedimensioneel en holisties te dink.

“Om voor te berei op dít wat hulle in die veld gaan ervaar, moet ons ons studente leer om verder te dink as hulp aan die kwesbaarstes of dié met geestesgesondheidsprobleme, maar om te begin kyk na die strukture waarin hulle werk. Dit behels begrip van die mikro- en makrovlak-kwessies wat ʼn impak op die bedryf het en die vermoë om op plaaslike en nasionale vlak met die regering te skakel om verandering teweeg te bring.

“Ons vind dat baie maatskaplike werkers in die daaglikse aktiwiteite en die talle krisisse wat hulle moet hanteer vasgevang is en dat funksionering op ʼn ander vlak, byvoorbeeld skakeling met skenkers of werk aan ʼn bewusmakingsveldtog in gemeenskappe, teenoor hulp aan ʼn verwaarlose kind wat nóú hulp nodig het, altyd tweede sal kom."

Engelbrecht sê egter die manier waarop befondsing in maatskaplikewerk-strukture spandeer word, vereis dat dit ook soos ʼn besigheid beskou word. Dit is waarom studente in hul lesingsale geleer word om vrae te vra oor toestande in die veld en leer hoe om druk op regeringstrukture deur beleids- en voorspraakgroepe te plaas om te verseker dat hulle dié in die loopgrawe doeltreffender ondersteun.

By die US registreer ongeveer 100 nuwe studente jaarliks vir ʼn graad in maatskaplike werk, met ongeveer 300 voorgraadse en nagraadse studente wat op enige gegewe tyd aan die departement studeer.  In 2017 het hierdie studente maatskaplikewerk-dienste as deel van hul praktiese onderrig aan 43 welsynsorganisasies gelewer onder toesig van 45 maatskaplike werkers. Die studente was betrokke by 94 gemeenskapsprojekte en het 197 kleingroepe gefasiliteer. Hulle was ook betrokke by intervensies aan 579 gesinne en individue, en het 90 kwesbare kinders gementor. Hierbenewens het 57 studente navorsingprojekte afgehandel.

“Soos jy kan sien, is maatskaplike werk ʼn intensiewe kursus, want daar word van jou verwag om die werk te doen terwyl jy daarvan leer."

In antwoord op ʼn vraag oor die hoë vlakke geweld en spesifiek kindermoorde in Suid-Afrika, erken Engelbrecht dat armoede steeds ʼn groot impak op die maatskaplike welsyn van Suid-Afrikaners in minderbevoorregte gemeenskappe het. Dit is ook iets wat die studente daagliks sien.

“Wanneer daar armoede is, kan dit ook tot onrus in gesinne lei, want as daar geen geld is nie, is mense geneig om te ontsnap deur alkohol en dwelms te misbruik. Jy sal ook vind dat daar dikwels nie toesig oor kinders in arm gemeenskappe is nie, en ouer kinders word vir bendes gewerf weens ʼn gebrek aan toesig. Dit is dikwels die geval omdat ouers nie kindersorg kan bekostig terwyl hulle werk nie, en dus word kinders in die sorg van broers en susters gelaat wat dikwels nie veel ouer is nie, of in die sorg van bure of ander familielede soos ʼn ouma of oupa."

Volgens Engelbrecht word die studente dus tydens hul studies daarop voorberei om so ver moontlik die realiteite van die Suid-Afrikaanse samelewing te hanteer. “Hulle kom te staan voor sowel akademiese verwagting as emosionele uitdagings wat ander studente nie noodwendig ervaar nie."

“Alhoewel mense dikwels jammer voel vir maatskaplike werkers as gevolg van die soort werk wat hulle vir min vergoeding doen, en dit beskou as ʼn kursus wat nie veel akademiese vermoë verg nie, besef baie min mense dat maatskaplike werk nie ʼn maklike program is nie, dat daar van studente verwag word om van die eerste dag in die klas af krities te dink, en dat die emosionele asook akademiese vereistes uiters hoog is. Daar is ʼn groot vraag in die veld vir maatskaplike werkers wat aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer het te danke aan ons studente-eienskappe, wat aanleiding gee tot denkleiers, betrokke burgers, afgeronde individue en dinamiese professionele persone. Die fokus van ons opleiding is dus nie net op maatskaplike werk in plaaslike, tradisionele welsynsorganisasies nie, maar ons berei ook studente voor om in diverse bedrywe en kontekste en internasionaal te werk. Ons is baie trots op die feit dat 80% van ons meestersgraadstudente in 2017 hul ekstern gemodereerde navorsingstesis cum laude geslaag het."

Ten spyte van die feit dat die maatskaplike probleme wat maatskaplike werkers moet hanteer soms nimmereindigend voel, was die bevredigendste aspek van sy werk vir Engelbrecht om die belonings van sy inspanning te sien, hetsy deur sy werk met studente, deur sy navorsing, of deur die tyd wat hy in die veld deurgebring het.

Een van hierdie oomblikke vir Engelbrecht het in die middeltagtigerjare in die derde jaar van sy voorgraadse studies gebeur. Tydens gemeenskapswerk in Wellington het hy ʼn informele sorggroep vir bejaarde benadeelde mense in die dorp byeengebring. ʼn Dekade later, nadat hy sy studies voltooi het, het die groep tot ʼn volledige dienssentrum ontwikkel, wat ook aanry-etes aanbied. 

“Ek het hierdie klub vir bejaardes met 20 mense uit die gemeenskap begin. Nella, een van die mense wat die groep bygewoon het, het destyds voorgestel dat ons dit Gemoedrus noem. Ons doel was om te kyk na die soort dienste wat die bejaarde gemeenskap benodig en om te probeer om daardie dienste deur die Gemoedsrus-dienssentrum te verskaf," vertel Engelbrecht, wat die groep gehelp het om fasiliteite en hulpbronne te vind.

“Ek kyk terug daarna en besef dat ʼn mens soms ʼn klein saadjie plant wat in iets enorms groei, en dat my blote teenwoordigheid daar aan die begin en die klein bydrae wat ek gelewer het ʼn verskil gemaak het in die lewens van talle mense vir komende generasies."

Die belangrikste les wat hy oor die jare geleer het, sê hy, was om te leer om meer te luister as om te praat.

“Wanneer ek navorsing doen, is ek bewus daarvan dat my prestasies in maatskaplike werk nie my eie is nie; dit is te danke aan die stemme van dié wat eens nie gehoor is nie, en daarom is selfs die Stals-prys ʼn toekenning wat ek deur die bydraes van talle ander mense ontvang het."

Foto: Prof Engelbrecht met die Stals-prys (middel) wat hy in Junie 2017 van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het. Saam met hom is (links) prof Wessel Pienaar (Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en die dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch, prof Anthony Leysens. (Foto verskaf)