Die Kaapstadse Karnaval, ’n
sosiale-impakinisiatief onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) se
professor Rachel Jafta, is ’n skouspelagtige ervaring van kleur, kreatiwiteit
en diversiteit, en toeskouers stroom jaar ná jaar na die bekende
Groenpunt-lekkerlooproete om na die optog te kom kyk. Die span agter die
geleentheid werk reeds byna ’n jaar lank onvermoeid om dié geliefde jaarlikse
karnaval in 2018 nogmaals ’n onvergeetlike ervaring te maak.
Karnaval 2018 skop Saterdag 17
Maart om 19:00 af met bykans 1 700 dansers, sangers en musikante, en manjifiek
ontwerpte vlotte met die wonderlikste detail, alles rondom die tema
“Moederstad, Moeder Natuur”.
Die US se betrokkenheid by
vanjaar se Karnaval sluit ook iets nuuts in, naamlik die deelname van 20
Amerikaanse internasionale studente as deel van ’n samewerkingsprojek tussen die
US-afdeling van die Amerikaanse Instituut vir Buitelandse Studie (AIFS) en die
organisasie Believe in Schatzi (BISO). AIFS fasiliteer opheffende
Suid-Afrikaanse ervarings vir buitelandse studente, terwyl BISO – ’n
organisasie sonder winsoogmerk – jong volwassenes en kinders met gestremdhede help
om meer onafhanklik te wees, meer selfversekerd in sosiale omstandighede op te
tree, en selfgedrewe lewens te lei. In Karnaval 2018 sal hulle te
sien wees as ruspes (AIFS) en ’n insekorkes (BISO). As ’n goeie voorbeeld van
hoe die Kaapstadse Karnaval maatskaplike insluiting en samehang bevorder,
voorsien AIFS die BISO-deelnemers van kos vir repetisies en op die dag van die
Karnaval.
Krag vir positiewe verandering
“Die Kaapstadse Karnaval
bereik jaarliks meer as 5 000 gemeenskapslede in die Kaapstad-metropool en
omgewing sowel as sekere landelike gebiede, plus 55 000 toeskouers. Dit dra
sowat R41 miljoen tot die plaaslike ekonomie by, skep werk en bied geleenthede
vir ondernemingsontwikkeling en vaardigheidsoordrag,” sê prof Rachel Jafta, wat
verbonde is aan die US se Departement Ekonomie, en as voorsitter en
stigterstrustee van die Kaapstadse Karnaval dien. “Die Universiteit is ’n
kennisvennoot wat sy kundigheid met deelnemende gemeenskappe deel. Die Karnaval
bied ook geleenthede om navorsingsdata te bekom en navorsingsvrae te ontwikkel
wat tot samewerkende oplossings vir die deelnemende gemeenskappe kan lei,” sê
sy.
“Een van ons hoofdoelwitte is dat die Kaapstad-karnaval maatskaplike samesyn van mense in die Wes-Kaap moet bevorder. Onafhanklike navorsing dui daarop dat ons ten opsigte hiervan 'n betekenisvolle impak het deur gemeenskappe wat aan die geleentheid deelneem en die publiek elke jaar bymekaar te bring op 'n veilige plek waar saam feesgevier kan word," sê Jay Douwes, HUB van die Kaapstad-karnaval. “Deelnemers en toeskouers word verenig deur hul liefde vir die Moederstad en hul trots op die diversiteit van Suid-Afrika."
'n Ander hoofvoordeel van die Kaapstad-karnaval is die vaardigheidsontwikkeling wat plaasvind wanneer deelnemers en produksiespanne saamwerk en voorberei vir die karnaval. Omdat baie van die werksgeleenthede wat deur die Kaapstad-karnaval geskep word, seisoenale en/of kontrakwerk is, gaan baie werknemers na die karnaval in ander bedrywe werk, waar hulle die vaardighede toepas wat ontwikkel is tydens die bouwerk aan die vlotte of die maak van kostuums vir die karnaval.
Die omgewingsbewuste Kaapstad-karnaval
Volhoubaarheid en omgewingsbewustheid is twee kernbeginsels van die karnaval en die organiseerders daarvan. “Die greep van die waterkrisis waarin die Wes-Kaap tans verkeer, het ons die geleentheid gegee om verantwoordelike sakepraktyke toe te pas," sê Douwes. Dit sluit maatreëls in soos die installering van reënwatertenks by die hoofproduksiewerkswinkel in Maitland wat 'n beleid het van zero-afval-vir-storting, en die vermindering van individuele watergebruik vir die spoel van toilette en skoonmaakwerk tot minder as vier liter per persoon per dag.
“Belangrike openbare geleenthede soos die Kaapstad-karnaval skep allerhande voordele vir die stad, van 'n toename in toeristegetalle tot werkskepping," sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit en maatskaplike dienste. “Dit is natuurlik veral bemoedigend dat die organiseerders besluit het om die karnaval se afhanklikheid van ons stad se beperkte hulpbronne, soos water, drasties te verminder."
Beter en beter elke jaar
Die eerste Kaapstad-karnaval is in 2010 in Langstraat gehou en dit het ongeveer 11 000 toeskouers gelok. Verlede jaar het sowat 45 000 mense die karnaval bygewoon en organiseerders nooi elke jaar meer mense om saam te kom feesvier.
“Elke jaar word ons as organiseerders en kunstenaars verstom deur die oorweldigend positiewe reaksie van die publiek," sê Brad Baard, skeppende direkteur van die karnaval. “Dit is wat ons motiveer om elke jaar terug te keer om liefde en inspirasie na die strate te bring en dit die volgende jaar nóg beter en meer kleurvol te doen."
Nou in sy negende jaar, het die Kaapstad-karnaval bewys dat dit ook die stad 'n ekonomiese inspuiting gee. 'n Onafhanklike ontleding wat gedoen is deur die Suid-Afrikaanse Kultuurobservatorium, 'n kreatiewe ekonomie-dinkskrum en die navorsingsafdeling van die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur, het bereken dat direkte bydraes tot die stad se BBP uit die 2017-karnaval alleen, R41 miljoen was.
“Kaapstad is 'n diverse, kreatiewe, kleurvolle, talentvolle en ongetwyfeld suksesvolle stad, en ons is trots om 'n rol te speel in hierdie wonderlike stad se karnaval," sê John van Rooyen, bedryfsdirekteur vir die Kaapse streek by Tsogo Sun, die karnaval se amptelike hotelvennoot vir 2018.
Die borge van die 2018-Kaapstad-karnaval is die stad Kaapstad, die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur, M-Net, DStv, die Provinsiale Administrasie van die Wes-Kaap, Media24, Kfm en Tsogo Sun.

Amerikaanse Instituut vir Buitelandse Studie (AIFS) deelnemers

Believe in Schatzi (BiSO) deelnemers