Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘SA bankstelsel taamlik veerkragtig’
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 27/02/2018

Die banksektor, finansiële krisisse en die bevordering van finansiële stabiliteit. 

Dit is 'n paar van die kwessies wat prof. Francois Groepe, adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en ereprofessor in die Departement Ekonomie, Donderdag 22 Februarie in 'n spesiale lesing by die departement aangeraak het.

Die titel van sy praatjie was: “Die spesiale geval van banke en die bevordering van finansiële stelselwye stabiliteit."

Prof. Groepe, 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het verduidelik hoe massahisterie byvoorbeeld tot 'n bankkrisis kan lei.

Hoewel sekere mense glo dit kom dalk lukraak voor, is daar empiriese studies wat aandui dat hierdie paniekvoorvalle moontlik met die sakesiklus verband hou.

“As deponeerders glo daar is 'n dreigende afswaai, sal hulle probleme in die banksektor voorsien en probeer om hul geld te onttrek wat dan 'n krisis ontketen.

“Wanneer mense vertroue in 'n bank verloor en hul deposito's begin onttrek, veroorsaak dit​ likiditeitsprobleme wat tot insolvensiekwessies kan lei," het prof. Groepe bygevoeg.

'n Eiendomsborrel kan ook 'n bankkrisis ontketen.

“Sodra die borrel gebars het, word baie mense wat geld geleen het om bates teen geïnfleerde pryse te koop, wanbetalers. As die wanbetaling wydverspreid is, kan dit tot 'n krisis lei."

Prof. Groepe het die rol van die "uitlener van die laaste uitweg" genoem. 'n Uitlener van die laaste uitweg is 'n instelling, gewoonlik 'n land se sentrale bank, wat lenings verskaf aan banke of ander kwalifiserende instellings wat finansiële probleme ervaar.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se primêre doelwit is om die waarde van die geldeenheid te beskerm in belang van volhoubare ekonomiese groei in Suid-Afrika.

Daar benewens is die Bank se rol ook die beskerming en versterking van finansiële stabiliteit in Suid-​Afrika.

“Finansiële stabiliteit verwys na 'n finansiële stelsel wat sistemiese skokke kan weerstaan, wat doeltreffende finansiële bemiddeling kan fasiliteer en die makro-ekonomiese koste van ontwrigting in so mate kan temper dat vertroue in die stelsel behoue bly," het prof. Groepe verduidelik.

Hy het genoem dat die gesamentlike kapitale vlakke van Suid-Afrikaanse banke – die totale bedrag aan kapitaal wat banke beskikbaar het – taamlik hoog is en op 15/16% staan, vergeleke met 'n globale gemiddelde van 8%.

“Ons bankstelsel is taamlik veerkragtig," het prof. Groepe gesê.​

Foto deur Hennie Rudman