Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spesiale eregrade in die US se eeufeesjaar toegeken
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/02/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan 14 vooraanstaande denkleiers met eregrade vereer as deel van die instelling se herdenking van sy eeufees.

Die ontvangers vir Maart 2018 is (in alfabetiese volgorde)

  • ​Professor Dame Glynis Breakwell, internasionaal-bekende sielkundige, sosiale wetenskaplike, navorser en Visekanselier van die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk​
  • Mnr Max du Preez, beginselvaste en kompromislose joernalis en onafhanklike kommentator
  • Prof Musa Dube, internasionaal gerekende akademikus en sosiaal-maatskaplike aktivis wat baanbrekerswerk op die gebied van MIV/vigs en geweld teen vroue en kinders verrig
  • Mnr Trueman Goba, bedryfsleier, mentor van jong ingenieurs en voorste kampvegter vir die transformasie van die ingenieursberoep in Suid-Afrika
  • Prof Peter Jones, vooraanstaande kankernavorser, voorste mediese wetenskaplike op die gebied van epigenetika en uitnemende akademikus
  • Prof Mervyn King, voormalige regter van die Hooggeregshof van Suid-Afrika en hoogs-gerespekteerde korporatiewe bestuurskundige
  • Aartsbiskop Thabo Cecil Makgoba, “nugter stem", kampvegter vir gelyke toegang tot onderwys en Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad
  • Mnr Patrice Motsepe, pionier vir verantwoordelike korporatiewe burgerskap en sakeman van formaat
  • Mnr Jannie Mouton, bedrewe Suid-Afrikaanse sakeleier en filantroop
  • Prof Andre Nel, internasionaal-gerekende mediese wetenskaplike navorser op die gebied van die  nanogeneeskunde
  • Prof Brian O'Connell, formidabele onderwyskundige en voormalige Visekanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland
  • Me Sandra Prinsloo, legendariese aktrise, regisseur en kulturele aktivis
  • Dr Imtiaz Sooliman, internasionaal gerespekteerde humanitêre aktivis en stigter van Gift of the Givers
  • Barones Christine van den Wyngaert, vooraanstaande Belgiese juris en akademikus

Met die uitsondering van Breakwell sal al die ontvangers die eredoktorsgrade tydens die US se Maart 2018 gradeplegtighede ontvang. 

“Die ontvangers is gerespekteerde plaaslike en internasionale denkleiers. Hulle vergestalt nie net die graduandi-kenmerke waarmee ons graag ons studente wil toerus nie, maar ook die eienskappe waarmee ons die toekoms wil aanpak noudat ons die tweede eeu van ons bestaan as ʼn toonaangewende universiteit binnegaan," het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê.

Breakwell en Du Preez ontvang die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) en Dube die graad Doktor in die Teologie (DTh). Die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng) word aan Goba toegeken; die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) aan Jones; die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom) aan King; die graad Doktor in die Teologie (DTh) aan Makgoba; terwyl die  graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom) aan Motsepe toegeken word. Mouton ontvang die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom); Nel die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc); O'Connell die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) en Prinsloo die graad Doktor in die Wysbegeerte, (DPhil). Die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) word aan Sooliman toegeken en die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) aan Van den Wyngaert – almal honoris causa.

  • Klik hier vir meer inligting oor die ontvangers.