Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gereed vir Vensters 2018
Outeur: Rozanne Engel / Corporate Communication
Gepubliseer: 29/01/2018

Duisende besoekers sal na verwagting op (Vrydag) 2 Februarie koers kies Stellenbosch toe vir die Universiteit Stellenbosch (US) se  jaarlikse aanbieding van Vensters waar nuwelingstudente die geleentheid gebied word om gehore met hulle eie, oorspronklike aanbiedinge te vermaak.

US-koshuise en privaat studente-organisasies (PSO) span dié dag saam om gehore tintelende en vermaaklike aanbiedinge te bied, wat van vanjaar af deel sal wees van die Sosiale Impak-projekte waarby alle nuwelingstudente regdeur die jaar betrokke sal wees. Elke koshuis en PSO-wyk sal hul eie tema kan kies, wat met hul sosiale impak-projek verband hou, en 'n aanbieding skep wat vermaaklik sal wees, maar terselfdertyd ook 'n boodskap van sosiale bewustheid sal oordra.

Die aanbiedinge tydens Vensters vind regoor die US-kampus op tien verskillende verhoë plaas. Elke aanbieding duur 15 minute en word van 18:00 tot 22:00 met intervalle herhaal.

Connect

Vanjaar se Vensters word deur die nuutgestigte studente-organisasie, Connect, georganiseer en aangebied. Dié organisasie funksioneer binne die Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture.

Mari Fölscher, voorsitter van Connect, sê dié organisasie se hoofdoel is om studente aan te moedig om in groter maat bewus te wees van die sosiale impak wat hulle tydens hul studiejare aan die US kan maak.

Sy verduidelik: "Ons wens is dat die US-kampus vir almal meer inklusief en toeganklik moet wees. Deur die Sosiale Impak-projekte deel van Vensters te maak, sal studente meer van hul omgewing bewus word en sodoende kan 'n gemeenskapsgerigte vennootskap geskep word."

“Connect se tema is 'Engage, Excel, Impact (oftewel “Doen mee, munt uit, maak ʼn impak")'.  Dié spruit uit die organisasie se twee hoofdoelwitte: gemeenskapsbou en die ontwikkeling van sosiale bewustheid en vaardighede deur ko-kurrikulêre aktiwiteite. Pogings om hierdie doelwitte te bereik, sal meebring dat studente binne sleutel geografiese gemeenskappe in die groter Stellenbosch-gebied meedoen aan sosiale impak-projekte. Só sal studente se begrip van maatskaplike kwessies uitgebrei word en sal hulle met die vaardighede toegerus word om gemeenskapsgerigte projekte te implementeer en leierskap te ontwikkel wat ʼn sosiale impak maak."

Kaartjies vir Vensters kos R40 en word van 25 Januarie aanlyn op die Connect Facebook-blad verkoop. Kaartjies sal ook op die dag by toegangsdeure en verskeie punte op Stellenbosch verkoop word – dié punte sal op die Connect Facebook-blad bekend gemaak word.

Vir nadere besonderhede oor Connect:

  • Volg dié organisasie op Facebook hier.
  • Kontak Mari Fölscher, voorsitter van Connect, via e-pos by 19440383@sun.ac.za of skakel 071 116 8947.

Vensters-fees

Benewens die Vensters-aanbiedinge, sal daar ook 'n Vensters-fees van 16:00 tot 18:00 in Victoriastraat plaasvind. Dié sluit straatoptredes in deur Stellenbossers en uit die omgewing. Verskeie kosstalletjies en markte sal ook deel van dié geleentheid wees.

Travis Defty, Connect se hoof van Media en Bemarking sê: "Dit is ons strewe om Vensters meer gesinsvriendelik en gemeenskapsgeoriënteerd te maak. Ons sou graag wou toesien dat studente, gemeenskapslede én besoekers op dié dag almal saam 'n spesiale oomblik deel."

Parkering en Veiligheid

Die meeste van die strate om die hoofkampus sal op Vrydag (2 Februarie) vanaf 15:00 gesluit wees. Besoekers kan moontlik verkeersdruk in Merrimanlaan en Van Riebeeckstraat ervaar.

Parkering sal op die US-kampus beskikbaar wees by:

  • Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou
  • Admin A-gebou
  • JC Smuts-gebou
  • Coetzenburg-sentrum (areas rondom die hokkieveld, swembad en tennisbane)
  • Ou Landbousaal
  • Die Laan
  • Crozierstraat
  • Jannie Marais-huis op Coetzenburg
  • Kweekskool
  • JS Marais-gebou
  • Ingenieurswese-gebou (area agter die gebou)
  • Eikestad-winkelsentrum (kosteparkering)

Kampussekuriteit sal vir die volle duur van Vensters aan diens wees, asook in elke area waar daar 'n aanbieding plaasvind. Geen alkohol word by Vensters toegelaat nie en alkohol-monitors sal oral op kampus ingespan word.​