Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit se topmeesterstudent is passievol oor Statistiek
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 17/01/2018

Toe Monika du Toit (26) in 2011 – kort nadat sy van Slowakye na Suid-Afrika verhuis het – vir 'n BCom-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf het, het sy nie geweet dat Statistiek haar passie sou word nie.

Sy sou ook nie kon raai dat sy twee Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie sou ontvang nie – een vir haar voorgraadse studies en nog een, 'n paar jaar later, as die beste meesterstudent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Laasgenoemde is in Oktober verlede jaar toegeken.

Hierdie Slowaak, gebore Monika Stupalova, het kort voor sy met haar studies begin het na Suid-Afrika verhuis om by die man met wie sy nou getroud is, Theunis du Toit, te wees.

Sy het haar voorgraadse BCom-graad, honneursgraad in Statistiek en haar meestersgraad in Wiskundige Statistiek aan die US verwerf.

“Ek was gelukkig om fantastiese mentors/lektore te hê. Te danke aan mev Ivona Contardo-Berning, 'n lektor in my eerste jaar, het ek die wonder van Statistiek ontdek. Ek moet ook krediet gee aan my nagraadse studieleier, prof Sarel Steel, wat 'n wonderlike opvoeder en mentor was en my aan die wêreld van Statistiese Leerteorie of Datawetenskap bekendgestel het."

Sy onthou hoe sy by eerste rektorstoekenninggeleentheid die ontvanger van die toekenning vir beste meesterstudent in die fakulteit bewonder het, min wetende dat sy daardie toekenning 'n paar jaar later sou ontvang. Sy het haar studieleier, prof Steel, genooi om die geleentheid saam met haar by te woon.

“Dit was baie spesiaal om hierdie prestasie saam te kon vier, aangesien ek dit nie sonder prof Steel sou behaal het nie," sê sy.

Monika het deur die jare 'n uitstekende akademiese rekord gehandhaaf, maar dit was nie altyd maklik nie.

“Ek is 'n perfeksionis en baie deeglik met my werk. Daar was tye wat dit uitputtend was om die werkslading baas te raak, maar ek wou altyd seker wees dat ek my beste gee.

“My pa het altyd vir my gesê dat ek nie die beste hoef te wees nie, maar dat ek alles tot die beste van my vermoë moet doen. Ek het 'n baie goeie hoërskoolopvoeding gehad in Slowakye, en het geleer om onafhanklik en hard te werk. Ek heg baie waarde aan 'n goeie werketiek. My man het my ook deurlopend ondersteun en ek kan hom nie genoeg bedank nie."

Monika het tydens haar studies ook as 'n mentor vir eerstejaarstudente opgetree.

“Dit was 'n lonende ondervinding om my passie vir Statistiek met ander studente te kon deel, en ek wil glo dat hulle mettertyd geleer het om my entoesiasme te deel," grap sy.

As 'n datawetenskaplike by Capitec werk Monika elke dag met data.

“Ek is mal oor die feit dat my werk met data soveel dinge insluit. Ek dink Statistiek is 'n fantastiese instrument wat gebruik kan word om probleme in baie verskillende bedrywe op te los."

Stellenbosch is nou haar tweede tuiste en sy geniet die omgewing en sy mense. Sy praat en verstaan ook Afrikaans.

“Ek dink dit is 'n baie mooi taal. Ek sal egter altyd Slowaaks bly en praat my moedertaal wanneer ek kan."

Foto: Monika du Toit en prof Sarel Steel