Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US onthul Huis Simon Nkoli House
Outeur: Corporate Communications / Rozanne Engel
Gepubliseer: 01/12/2017

​Op Wêreld Vigsdag (01 Desember 2017) het die naam en nalatenskap van die gerespekteerde anti-apartheid- en HIV/Vigs-aktivis Simon Nkoli deel geword van die Universiteit Stellenbosch (US). Die universiteit het die Huis Simon Nkoli House amptelik onthul nadat daar vroeër vanjaar besluit is om die geboue by 39 Victoriastraat na die gelykheidsaktivis te hernoem.

As deel van die US se strategiese posisionering in die bou en instandhouding van 'n omgewing van inklusiwiteit, transformasie, innovasie en diversiteit, is die hernoeming van die geboue by 39 Victoria Street daarop gerig om Simon Nkoli se nalatenskap te vier en die beginsels waarvoor hy gestaan het deel van die US te maak.

By die historiese onthulling het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig aan die US, die universiteit se strategiese posisionering beklemtoon en bygevoeg dat die US uitsien na die inspirasie wat Simon Nkoli gebring het. "Die universiteit het hom ten volle verbind tot die bevordering van alle fundamentele regte en vryhede vir elke persoon op die kampus, insluitend diegene wat gemarginaliseer word in die samelewing en selfs by hierdie universiteit, het prof Schoonwinkel gesê.

Die Soweto-gebore Nkoli was een van die eerste swart manlike anti-apartheid-aktiviste om bekend te maak dat hy gay en MIV-positief was. Hy was aan die voorpunt in die stryd vir gay en lesbiese regte gedurende apartheid. As een van die stigterslede van die eerste veelrassige organisasie vir gay-regte in Suid-Afrika, die Gay and Lesbian Organisation of the Witwatersrand (GLOW), het Nkoli ook verskeie toekennings vir menseregte in Europa en Noord-Amerika ontvang. Nadat hy vir 12 jaar met MIV geleef het, is hy op 30 November 1998 aan VIGS dood.

In 'n emosionele toespraak het Jaco Greeff, die hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid aan die US, gesê dat hulle baie opgewonde is oor die naamsverandering en die mylpale wat die universiteit bereik het in die stryd teen die onderdrukking van die LGBT-gemeenskap en diegene wat deur MIV/Vigs geraak word.

"Dit was 'n lang pad. Deur te werk met die voorkoming, behandeling en versorging van MIV/Vigs, wanneer ek besin oor die vriende wat ek verloor het, kollegas wat ek in die gemeenskap verloor het en die universiteit en gesondheidswerkers, lyk dinge beter. Ons behandelingsopsies, opsies vir sorg, is beter, in die Departement van Gesondheid en by die universiteit," het Greeff gesê.

Die onthulling van Huis Simon Nkoli House val ook saam met die verjaarsdagvieringe van die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die Eenheid vir Gestremdhede by die US, wat saam  die naamverandering voorgestel het en voort sal gaan om kantoorruimte in die nuut hernoemde geboue te deel.

Foto: Dr Birgit Schreiber en Prof Arnold Schoonwinkel by die onthulling van die Simon Nkoli-huis.

Fotograaf: Rozanne Engel