Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meisies vaar akademies beter
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie - Alec Basson
Gepubliseer: 28/11/2017

Dit mag dalk vir baie ʼn verrassing wees, maar meisies vaar beter op skool en op universiteit as hul manlike eweknieë.

“Meisies vaar gemiddeld eintlik beter as seuns. Hulle leer baie vinniger lees as seuns (dit geld vir amper alle middel- en hoëinkomste-lande). In Suid-Afrika vaar meisies ook beter in wiskunde," sê drs Nic Spaull en Hendrik van Broekhuizen van ReSEP – 'n navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid gesetel in die Departement Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch (US).  

Spaull en Van Broekhuizen het in ʼn onlangse studie gekyk na hoe meisies en seuns op skool vaar en probeer vasstel of die beter prestasies van meisies ook op universiteit voortduur.

Hul studie getiteld The 'Martha Effect': The compounding female advantage in South African higher education is onlangs in die reeks Stellenbosch Working Paper Series gepubliseer. Dié reeks word deur die Departement Ekonomie en die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die US uitgegee.

​Die navorsers het gekyk na groot nasionaal verteenwoordigende opnames wat in 2011 en 2015 gedoen is. Dié opnames toon dat in Graad 4 meisies ʼn volle jaar voor hulle manlike eweknieë is wanneer dit by lees kom. In Graad 5 is hulle sowat 40% van ʼn jaar van leer voor seuns in wiskunde. Seuns vaar egter beter as meisies in wiskunde en wetenskap in matriek.

Die navorsers het 'n stap verder gegaan en probeer uitvind of meisies se prestasies op skool ook op universiteit herhaal word.

Hiervoor het hulle data van die Hoëronderwysbestuursinligtingstelsel (oftewel HEMIS) gebruik om alle matrikulante van 2008 (112, 402 in totaal) wat universiteit toe gegaan het te identifiseer en vir 'n tydperk van ses jaar (2009-2014) te volg. Die navorsers kon ook gedetailleerde inligting oor alle studente se uitslae wat deur die Departement van Basiese Onderwys en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ingesamel is, gebruik.

“Ons het afdoende bewyse gevind van 'n groot vroulike voorsprong (in terme van prestasie) wat steeds by elke hindernis van die hoër onderwysproses groei. Om spesifiek te wees, relatief tot hul manlike eweknieë, het ons gevind dat 27% meer vroue vir universiteit gekwalifiseer het, 34% meer wat vir universiteit inskryf, 56% meer wat enige voorgraadse kwalifikasie voltooi en 66% meer wat 'n baccalaureusgraad verwerf. Dit is ondanks die feit dat omtrent gelyke getalle seuns en meisies hul skoolloopbaan begin."

Die navorsers sê nog 'n interessante bevinding is die groot afname vanaf matriek tot by die verwerfing van ʼn graad.

“Vir elke 100 meisies in matriek is daar net 85 seuns in matriek. En vir elke 100 meisies in matriek sal slegs 8 binne ses jaar 'n voorgraadse kursus voltooi, met selfs laer getalle vir mans (slegs 5)."

“Ons het gevind dat hierdie groot vroulike voorsprong (in terme van prestasie) gehandhaaf word nadat prestasie op skoolvlak in ag geneem is. Dit is die geval vir alle subgroepe van ras, ouderdom, sosio-ekonomiese status, provinsie van herkoms, en die instelling waar studente gestudeer het."

Die navorsers wys daarop dat dit nie is omdat vroue 'makliker' studierigtings as mans kies nie.

“Ons het na 19 studierigtings gekyk en gevind dat vroue aansienlik meer geneig is om 'n graad in 12 van die 19 vakgebiede te verwerf (dikwels met beduidende resultate), en is aansienlik minder geneig om 'n graad in vyf van die 19 velde te behaal."

“Dit is egter meestal toe te skryf aan die feit dat hulle nie toegang tot die tradisioneel 'manlike' programme het nie, en nie as gevolg van laer voltooiingsyfers sodra hulle die program begin volg nie. Slegs in Ingenieurswese en Rekenaarwetenskap vaar vrouestudente swakker as hul manlike eweknieë wanneer hulle vir die kursus aanvaar is."

Die navorsers voeg by dat een van hul mees interessante bevindings was dat vroue altyd en oral 20% minder geneig as hul manlike eweknieë (insluitend in tradisioneel 'manlike' vakgebiede soos Ingenieurswese en Rekenaarwetenskap) is om hul kursus te staak, selfs nadat aspekte soos studierigting, ras, ouderdom, sosio-ekonomiese status, plek of instelling in ag geneem is.

En dis nie net ʼn Suid-Afrikaanse tendens nie, sê die navorsers.

“Die opkoms van ʼn vroulike voorsprong (in terme van prestasie) op skool en op universiteit is 'n wêreldwye tendens onder middel- en hoëinkomste-lande. In die 33 lande wat deel vorm van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD-lande)  ̶  hoofsaaklik 'n klub van ryk lande  ̶  word 58% van alle baccalaureusgrade aan vroue toegeken. In Suid-Afrika is dit 61%."

Die navorsers sê hulle weet nog nie hoekom dit die geval is nie, maar die beste internasionale bewyse dui daarop dat meisies beter presteer wanneer dit kom by dinge soos selfbeheersing, selfmotivering, betroubaarheid, gesellig wees, persepsies van selfwaarde, lokus van beheer, tydsvoorkeur, en die vermoë om langer vir ʼn beter belonging te wag (delayed gratification).

Hulle voeg by dat enige gesprek oor 'gendergelykheid' rekening moet hou met die agterstand van die seuns op skool en op universiteit, maar ook waarom dit verander as 'n mens die arbeidsmark betree.

Bron: Spaull, N. & Van Broekhuizen, H. 2017. The 'Martha Effect': The compounding female advantage in South African higher education. Stellenbosch Working Paper Series 14 (2017).

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Nic Spaull

Departement Ekonomie

Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Universiteit Stellenbosch

E-pos: nicholasspaull@gmail.com

                      UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za