Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Weer 'n A vir insekkenner prof Michael Samways
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 27/11/2017

Insekbewaringskundige prof Michael Samways van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie is weer eens as 'n A-geëvalueerde navorser en dus 'n wêreldleier op sy vakgebied uitgelig. Dit volg na die onlangse rondte van evaluerings van Suid-Afrikaanse akademici deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS).

Wetenskaplikes wat 'n A-evaluering ontvang, word erken as wêreldleiers van hul spesifieke studievelde. Dit word bepaal deur 'n NNS-paneel wat onder meer verslae van ander kenners van regoor die wêreld in oënskou neem.

Prof Samways tel onder diegene wat gehelp het om die veld van insekbewaring te ontwikkel. Hy is ook betrokke by die bewaring van ander kleiner soorte diere wat noodsaaklik is vir die handhawing van die natuur. Uit sy pen het reeds meer as 375 publikasies verskyn, waaronder 15 boeke. Onder hulle is gidse oor Suid-Afrikaanse naaldekokers.

 

“Die bewaring van insekte is nie iets waaroor mense baie dink nie, maar tog is dit uiters belangrik vir elkeen van ons, en die wêreld as 'n geheel," reken hy. “Insekte en ander ongewerwelde diertjies tel as van die belangrikste komponente van die lewe rondom ons. Hulle help om grond te maak, hulle bestuif plante, en hulle is 'n bron van voedsel vir die meeste soorte gewerwelde diere, waaronder paddas, akkedisse, voëls en soogdiere."

Kenners wêreldwyd is toenemend bekommerd oor impak wat die mens op die omgewing het, en in die proses ook op insekgetalle. Habitatverlies, die gebruik van insekdoders, besoedeling, die groot hoeveelheid voertuie op ons paaie en die gebruik van elektriese ligte saans het alles 'n impak op dalende insekgetalle.

“Iets moet gedoen word hieraan, en vinnig ook daarby," glo Samways. “Dit beteken ons moet uit ons ivoortorings klim en in voeling kom met die wêreld rondom ons. Ons moet gesels met grondeienaars en diegene wat natuurgebiede bestuur, sodat ons saam idees kan uitruil en oplossings vind. Ons moet 'n globale perspektief hieroor behou, maar op plaaslike vlak tot aksie oorgaan."

Volgens Samways kan bewaring baat vind by 'n herhalende proses wat navorsing op universiteitsvlak by bestuur op grondvlak betrek.

“Die uitdaging moet in die veld raakgesien word, dan deur navorsing aangespreek word, en die bevindinge en oplossings weer terug op grondvlak toegepas word. Dit moet voortdurend gebeur," verduidelik hy sy werkswyse.

Hierdie herhalende proses het al oor die jare heen vir prof Samways vrugte afgewerp in sy interaksie met grondeienaars en bestuurders van natuurgebiede. “Ons kan trots wees daarop dat ons hier in Suid-Afrika nuwe weë help baan het hiermee," reken hy.

Sy navorsing het reeds gelei tot die gebruik van ineengeskakelde bewaringskorridors of ekologiese netwerke. Dit word onder meer deur bosbou-ondernemings soos Mondi gebruik wat met hul werksaamhede ook die natuur se belange in gedagte wil hou. Daardeur word optimale houtproduksie vir die maatskappy verseker terwyl die bewaring van biodiversiteit en ekosisteemprosesse steeds voorrang geniet.

Prof Samways en sy navorsingsgroep het in 2016 'n GreenMatter-toekenning vir werk hieroor vanaf die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF) ontvang.

Oor die afgelope 40 jaar het sy akademiese belangstellings ook praktiese inslag gevind in strategieë om peste te bestuur, varswaterbronne te assesseer en volhoubare wyn- en houtproduksie te bevorder. Hy het ook 'n daadwerklike rol gespeel daarin om die natuurskoon van Cousine in die Seychelle-eilande in ere te herstel.


Sy bydrae tot die uitbreiding van kennis rondom biodiversiteit en bewaring is onder meer reeds op internasionale vlak erken deur die Wêreldkonferensie oor Entomologie en deur die Wêreldbewaringsunie se Spesie-oorlewingskommissie. Hy het die Science-for-Society Goue Medalje van die Academy of Science of South Africa (ASSAf) ontvang, asook 'n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.