Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer gelyke regte aktivis, Simon Nkoli
Outeur: Dumile Mlambo and JC Landman
Gepubliseer: 22/11/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het verseker dat die naam van die anti-apartheidstudenteleier, gay regte kampvegter, gelyke regte voorstander en HIV/Vigs aktivis, Simon Nkoli deel word van die hede en die toekoms van die universiteit.

Dit kom ná bestuur die trotse aankondiging gemaak het dat daar besluit is om een van sy geboue by Victoriastraat 39 na hom te vernoem as Huis Simon Nkoli House.

Die geleentheid vir die onthulling van die nuwe naam sal op Wêreldvigsdag (1 Desember 2017) plaasvind – op hierdie dag dink ons aan dié wat deur HIV/Vigs geïnfekteer en geaffekteer is. Die feesvieringe op die dag sal saamval met die tweede verjaarsdag van die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EvG) en die tiende verjaarsdag van die Eenheid vir Gestremdhede (EG).

Die mosie om Victoriastraat 39 na Nkoli te vernoem is deur die EvG voorgestel en deur die DU gesekondeer. Beide eenhede val in die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) en deel die kantoorspasie in die huis. Die SSVO is een van die sentrums in die Afdeling Studentesake wat erken dat dit nodig is om deurdag en proaktief te wees in die aanspreek van die behoeftes van diegene wat deur die gemeenskap kwesbaar gelaat is om sodoende groter sukses onder die studente aan US te bereik.

As 'n gelykheidsaktivis, sal Nkoli vereer word vir sy volgehoue soeke na gelyke regte en regverdige behandeling van alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras, politieke affiliasie, MIV-status of seksuele oriëntasie. Hy het teen alle vorme van onbillike diskriminasie gestry.

Simon Nkoli het in 1990 gesê: “Ek is swart en ek is gay. Ek kan nie die twee dele van my skei in sekondêre of primêre stryde nie. In Suid-Afrika word ek onderdruk omdat ek 'n swartman is en ek is onderdruk omdat ek 'n gay man is. Dus, wanneer ek vir my vryheid veg, moet ek teen albei onderdrukkings veg ... Almal wat in 'n demokratiese Suid-Afrika glo, moet teen alle onderdrukking, alle onverdraagsaamheid, alle ongeregtigheid veg."

Volgens mnr Jaco Greeff Brink, hoof van die EvG, sal Nkoli se naam op die huis die sosiale geregtigheidsgrondslag waarop die EvG en die EG geskoei is van nou tot in die toekoms bly eggo.

“Ons kon aan geen ander naam as syne dink nie! Huis Simon Nkoli House is die ideale naam vir Victoriastraat 39 aangesien dit die samewerking tussen die twee eenhede versinnebeeld. Mnr Nkoli was 'n kampvegter vir gelykheid, hy was gekant teen onbillike diskriminasie en beskermer van die regte van alle marginale groepe en dit is presies waarvoor die twee eenhede voorspraak maak," het Brink gesê. Hy het bygevoeg dat Nkoli se naam, en waarvoor dit staan, betekenisvolle nasionale en internasionale statuur het en eerbied afdwing.

Dr Marcia Lyner-Cleophas, hoof van die EG, het dieselfde sentimente gedeel en gesê dat hulle baie opgewonde is oor hierdie nuwe hoofstuk. Gestremdheid as 'n fokusarea het nog steeds baie voorspraakwerk nodig om die insluiting van gestremde persone, vanuit 'n menseregteperspektief, in die samelewing te realiseer. Sy het bygevoeg dat hierdie skuif die twee eenhede se naam en diensuitnemendheid vir die personeel en studente aan die US sal verhoog.

Tydens die konsultasieprosesse tussen Maart en Julie 2016 het studente die voorstel verwelkom en gesê dit is 'n stap in die regte rigting om diegene wat deurlopend vir menseregte geveg het, te eer. Mnr Bongani Mapumulo, die huidige voorsitter van Dis-Maties, het die volgende oor Nkoli gesê: "Sy regteaktivisme en duidelike houding ten opsigte van nie-diskriminasie vind inslag in die probleme wat minderhede ondervind wat onder die druk van heteronormativiteit, MIV-stigma en rassigheid medebestaan. Daarbenewens vind sy gedrewe aktivisme inslag by ​die stryd wat groepe wat op die rand van die hoofstroomsamelewing en van politieke en ekonomiese deelname staan, insluitend vroue, rasse-minderhede, mense met gestremdhede en homoseksuele persone."

Die US se strategiese posisionering is veranker in die skep en instandhouding van 'n omgewing van inklusiwiteit, transformasie, innovasie en diversiteit. Die Universiteit het hom ten volle verbind tot die bevordering van alle fundamentele regte en vryhede van elke persoon op die kampus. Verder is dit daartoe verbind om 'n meer diverse, inklusiewe en verteenwoordigende instelling te word en werk hard om studentevriendelike leef- en leerruimtes te skep, asook 'n aangename werkomgewing vir personeel. Die US poog om 'n meer bemagtigende omgewing te skep, om 'n diverse groep personeel en studente in te sluit , en vier Simon Nkoli se nalatenskap terwyl US uitsien om te inspireer en te reflekteer op die beginsels waarvoor Simon Nkoli gestaan het.

Simon Nkoli, die uitsondering op die reël...

Die 1957-Soweto-geborene, het op 'n plaas in die Vrystaat grootgeword en sy familie het later na Sebokeng verhuis. Toe hy in 1983 by die hoofsaaklik wit Gay Association of South Africa aangesluit het, het hy min geweet dat hy later die stigter van die eerste swart gay-groep in Afrika, die Saturday Group, sou wees.

Tydens sy aktivisme het Nkoli baie tyd spandeer om tydens verskeie samesprekings oor die Vaalgebied gesprekke te voer ter ondersteuning van huurboikotte. In 1984 is hy in hegtenis geneem en het die doodstraf vir verraad saam met een en twintig ander politieke leiers in Delmas in die gesig gestaar; gesamentlik het hulle bekend gestaan as die Delmas 22.

As medestigter van die Gay and Lesbian Organisation of the Witwatersrand (GLOW), was Nkoli saam met LGBT-aktivis, Beverley Palesa Ditsie, instrumenteel in die organisering van die eerste gay pride-parade in Suid-Afrika in 1990.

Hy het wyd gereis en verskeie toekennings vir menseregte in Europa en Noord-Amerika ontvang, waaronder hy 'n lid van die International Lesbian and Gay Association Board geword het wat die Afrika-streek verteenwoordig.

Nog een van sy groot prestasies was 'n suksesvolle veldtog vir die insluiting van beskerming teen diskriminasie in die Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse grondwet en vir die herroeping van die sodomiewet wat gedurende sy laaste maande in Mei 1998 plaasgevind het.

Nadat hy een van die eerste MIV-positiewe Afrika-gay-mans geword het, het hy die Positive African Men-groep in Johannesburg gevestig. Hy het vir ongeveer twaalf jaar met MIV saamgeleef, en was die laaste vier jaar aan en af ernstig siek. Hy is in 1998 in Johannesburg aan vigs dood.

Meer oor die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die Eenheid vir Gestremdheid

Die EvG, voorheen bekend as die Institusionele MIV-kantoor, bevorder kollektiewe optrede ten opsigte van sosiale geregtigheid en tree toe tot die gesprek oor sosiale asimmetrieë aan US. Die EvG se kernmandaat is om toesig te hou oor die implementering van die US se beleid ten opsigte van onbillike diskriminasie, seksuele teistering en MIV/Vigs, studente en personeel op te voed oor seksualiteite, gender geweld, MIV/vigs en anti-diskriminasie en om omvattende MIV- en LGBTQI-dienste te verskaf.

Die DU, wat voorheen bekend gestaan het as die Kantoor vir Studente met Spesiale Leerbehoeftes (Gestremdhede), is verantwoordelik om ondersteuning aan studente met gestremdhede op die kampus te fasiliteer deur bewustheid te skep oor akademiese, sosiale en sielkundig kwessies rakende gestremdheid. Die eenheid is 'n beginpunt vir gekoördineerde ondersteuning aan studente met gestremdhede, wat ook, waar nodig, kontak met voornemende studente insluit.​