Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jonathan Jansen by Universiteit Stellenbosch aangestel
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/10/2017

​Die openbare intellektueel en voormalige Visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, prof Jonathan Jansen, het ʼn pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar.

Jansen (61), ʼn A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingstigting, het die pos van uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aanvaar waar hy navorsing oor skoolbeheer, bestuur, leierskap en beleid sal onderneem. Hy sal ook as mentor vir nagraadse studente optree.

Met die aankondiging het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê die instelling sal groot baat vind by Jansen se kundigheid as vooraanstaande skrywer, denkleier en opvoedkunde-spesialis. “Prof Jansen is stellig nie net een van die voorste pedagoë van ons tyd nie, maar ook die spreekwoordelike stem roepende in die woestyn, wat nooit huiwer om die toedrag van landsake aan te spreek nie, en – ewe belangrik – ook die toedrag van onderwys in ons geliefde land."

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, voeg by: “Prof Jansen is die ewige student. Ons is daarvan oortuig dat sy navorsingskundigheid ʼn betekenisvolle maatskaplike impak op alle vlakke van die onderwysstelsel in Suid-Afrika sal hê."

Prof Yusef Waghid, waarnemende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, was eweneens ingenome oor die vooruitsig om prof Jansen in dié Fakulteit te verwelkom. Hy het gesê sy aanstelling bied uitstekende geleenthede vir kollegas om met hom beraadslagende, verantwoordelike en dapper gesprekke te voer – dialoog wat verband hou met wat ʼn universiteit is en wat ʼn universiteit behoort te doen. “Ek is optimisties dat prof Jansen se intellektuele stem en passie vir die onderwys ʼn positiewe impak op die vakkundige werk waarmee die Fakulteit geassosieer word, sal hê. Hierdie is nog ʼn geleentheid om ons soeke na ʼn sinvolle en regverdige skoolstelsel te verbeter."

Jansen sê: “Ek is baie opgewonde oor die geleentheid om aan een van die voorste universiteite op die kontinent en saam met van die voorste onderwysnavorsers te kan werk. Ek hoop om saam met my kollegas ʼn klein bydrae te kan lewer sodat navorsing waarde het in die transformasie van skole en in die voorbereiding van die volgende geslag studente."

Jansen, ʼn ontvanger van drie eredoktorsgrade en ʼn genoot van die Sentrum vir Gevorderde Studie in die Gedragswetenskappe (Center for Advanced Study in the Behavioral Sciences) aan die Universiteit van Stanford in 2016/17, neem die nuwe pos op 1 November op.



​MEER OOR PROF JONATHAN JANSEN

Jonathan Jansen is ʼn senior professor wat voorheen aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verbonde was. Benewens diens as genoot aan die Sentrum vir Gevorderde Studie in die Gedragswetenskappe aan die Universiteit van Stanford in 2016/17, dien hy ook as president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge (South African Institute of Race Relations) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap (South African Academy of Science).

Hy het sy loopbaan as biologie-onderwyser in die Kaap begin nadat hy ʼn graad in die wetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf het. Hy het voorts die MS-graad aan die Universiteit van Cornell en ʼn doktorsgraad (PhD) aan die Universiteit van Stanford behaal. Jansen is vereer met eredoktorsgrade van die Universiteit van Edinburgh, die Universiteit van Vermont en die Cleveland Staatsuniversiteit.

In 2013 is die Lifetime Achiever Award for Africa tydens die Education Africa Global Awards-plegtigheid in New York aan hom toegeken, asook die Universiteit van Kalifornië se Spendlove-toekenning vir sy bydrae tot verdraagsaamheid, demokrasie en menseregte. In die daaropvolgende jaar het hy die Nayef Al Rodhan-prys van die Britse Akademie vir Maatskaplike en Geesteswetenskappe (British Academy for the Social Sciences and Humanities) vir sy boek Knowledge in the Blood (gepubliseer deur Stanford University Press) gewen.

Onlangse publikasies deur Jansen sluit onder meer in Leading for Change (Routledge, 2016), As by fire: the end of the South African University (Tafelberg, 2017), Interracial Intimacies on Campuses (Bookstorm, 2017) en Song for Sarah (Bookstorm, 2017). Van sy pennevrug wat in 2018 gaan verskyn, is Inequality in South African Schools (saam met Nic Spaull, gepubliseer deur Springer), Politics of Curriculum (as redakteur) en Now that I know, ʼn boek oor Suid-Afrikaanse gesinne wat deur die rassewetgewing van die jare 50 geskei is.