Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is vergifnis werklik moontlik in SA?
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/09/2017

Is vergifnis tussen swart en wit Suid-Afrikaners ná meer as twee dekades van demokrasie werklik moontlik?

Dít was die vraag wat dr Dion Forster, Hoof van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), Donderdag (21 September 2017) probeer beantwoord het. Forster, ook die direkteur van die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die US is, het die vyfde Stellenbosch Forum-lesing van 2017 gelewer.

Die Stellenbosch Forum-lesingsreeks bied gereelde geleenthede aan US-personeel en -studente, sowel as belangstellendes uit die publiek, om meer te leer oor die relevante wêreldklas-navorsing wat by die US gedoen word.

Forster het gesê sy navorsing onder swart en wit Christene het getoon dat vergifnis 'n hoogs omstrede en komplekse kwessie in Suid-Afrika is en dat die land belangrike uitdagings in die gesig staar in terme van hoe dit die sondes van sy verlede hanteer."

Volgens Forster het swart en wit Suid-Afrikaners verskillende sienings oor die konsep en prosesse van vergifnis.

“Swart en bruin mense verstaan vergifnis op 'n kollektiewe en sosiale manier."

“Vergifnis is nie net 'n individuele kwessie nie; dit het sosiale gevolge en sosiale verwagtings binne die gemeenskap. Hulle het nie net vergifnis as die geestelike herstel tussen die individu (of gemeenskap) en God verstaan nie, maar ook as die herstel van verhoudings en strukture in die gemeenskap."

“Vir hierdie groep kan vergifnis slegs geloofwaardig wees as die voorwaardes vir vergifnis in die gemeenskap sigbaar is  ̶  met ander woorde, vergifnis in Suid-Afrika behoort gekoppel te wees aan ekonomiese transformasie, die oordrag van grondeienaarskap, 'n transformasie van die sosiale magsdinamika en sigbare en tasbare uitdrukkings van berou aan die kant van die begunstigdes en inisieerders van apartheid in Suid-Afrika."

Swart mense wil nie goedkoop vergifnis hê nie, het Forster gesê.

Hy het daarop gewys dat, in teenstelling met swart Suid-Afrikaners, wit mense geneig was om in individuele en geestelike terme oor vergifnis te dink.

“Vir hulle was dit nie buurman of buurvrou wat te nagekom is nie, maar wel God. Hulle het aanvanklik nie vergifnis gesien as iets wat belangrik sou wees in gesprekke met diegene wat seergemaak is nie."

“Vergifnis sou plaasvind wanneer God hulle van die skuld en geestelike aanspreeklikheid van hul dade bevry het. Dit sou nie noodwendig die herstel van die harmonieuse verhouding tussen gemeenskapslede of die sosiale, politieke of ekonomiese strukture in die gemeenskap behels nie."

Forster meen hierdie verskillende verstaan van wat die Bybel oor vergifnis sê dra by tot ons onvermoë om te vergewe en vergewe te word.

Hy het gesê een beduidende probleem is dat hierdie onversoende persone selde kontak met mekaar het weens die erfenis van die apartheidstelsel wat mense op rassistiese wyse volgens ekonomiese klas en geografie geskei het.

“Die gevolg is dat elke groep se eie sosiale sienings en godsdienstige oortuigings gevestig raak, en die sienings en oortuigings van die 'ander' verwerp of geïgnoreer word omdat hulle nie oor die genoemde grense heen mekaar verstaan of met mekaar praat nie.

Forster het gesê ten spyte van die beduidende uitdagings wat ons in die gesig staar om die sondes van ons verlede en die huidige kompleksiteite te hanteer, is die reis na ʼn gedeelde verstaan van vergifnis inderdaad 'n moontlikheid.

“Vergifnis is moontlik," het hy bygevoeg.

Forster het gesê ons benodig goeie gefasiliteerde skakeling tussen swart en wit mense sodat hulle hul verskillende perspektiewe oor vergifnis kan verstaan en daaroor kan praat .

  • Dr Forster se lesing was gebaseer op sy jongste boek The (im)possibility of forgiveness? An empirical intercultural Bible reading of Matthew 18:15-35.

Foto: Dr Dion Forster lewer die Stellenbosch Forum-lesing.

Fotograaf: Anton Jordaan