Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Departemente in Fakulteit Lettere en ander span saam vir Vrouedag-konsert
Outeur: Fiona Grayer
Gepubliseer: 04/09/2017

Die Musiekdepartement, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Kantoor vir Transformasie, die Departement Visuele Kunste en die Vroueforum, het 'n konsert ter viering van Vrouedag in Augustus in die Endlersaal in Stellenbosch aangebied. Die US Jazzorkes het die verhoog aan die brand gespeel onder die leiding van Felicia Lesch saam met die jazz-legende Gloria Bosman en die jazz-sanger en digter, Mihi-Tuwi Matshingana.

Die aand is spesifiek opgedra aan Charlotte Mannya Maxeke – die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou wat tersiêre onderrig ondergaan het en in 1901 in die VSA gegradueer het. Haar mantra, “As jy jouself ophef, bring jy iemand saam met jou", is 'n leuse wat die kunstenaars Felicia Lesch, Bosman en Matshingana heelhartig omhels.

Lesch is passievol oor musiek as 'n werktuig vir sosiale verandering en het die US Jazzorkes as een van die ensembles van die Sertifikaatprogram gestig. Die Sertifikaatprogram dien as 'n voorgraadse voorbereidingsprogram van die US Musiekdepartement en is geskep om studente te bemagtig met die vaardighede om 'n BMus of Diploma program op tersiêre vlak te onderneem.

Matshingana het haar BCom-graad by die US in 2014 voltooi, terwyl sy ook die Musiekdepartement se Sertifikaatprogram studeer het. Sy het tydens die konsert aan dié program hulde gebring. Sy is tans 'n derdejaarstudent in Jazz-studies by Wits Universiteit in Johannesburg.

Die Suid-Afrikaanse skrywer en joernalis Zubeida Jaffer se derde boek, Beauty of the heart – wat hulde bring aan Maxeke en ook vars informasie oor haar lewe aan die lig bring – is by die geleentheid verkoop. Juweliere wat deel was van die juweliersuitstalling van Kutlwano Cele, 'n student van die Departement Visuele Kunste, is ook daar verkoop.

Die Studenteraad en baie studente van ander departemente en fakulteite het die konsert ondersteun.

“Vir sommige was dit hul eerste “Endler ervaring", wat dit 'n besonderse vreugdevolle gebeurtenis gemaak het," sê Monica du Toit van die Kantoor vir Transformasie.

Spesiale gaste van binne die fakulteit, Vroueforum, Geslagsgelykheidseenheid, US Museum, US Kantoor vir Transformasie asook gemeenskapsvennote van die Musiekdepartement se eie Sertifikaatprogram, het ook die Vrouedag-vieringskonsert bygewoon.

“Die geleentheid was 'n oomblik van institusionele tuiskoms en konneksie met nuwe mense by ons institusie."

“Ons sien uit na meer waardevolle samewerking in die toekoms en eer die vroue (en mans) op die verhoog wat musiek as 'n werktuig gebruik om te bevry, op te voed en te droom," het Du Toit bygevoeg.