Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sharksafe Barrier™ hoop op beleggersgeld by die SA Innovation Summit
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 06/09/2017

Die Sharksafe Barrier™, 'n koste-effektiewe en omgewingsvriendelike alternatief tot konvensionele metodes wat tot dusver ingespan is om haaie van mense af weg te hou, is deur navorsers van die Universiteit Stellenbsoch (US) en die Universiteit van Massachusetts Dartmouth ontwikkel. Dít is nou een van die tegnologieë wat meeding om beleggersgeld in die 'Pitching Den' tydens die SA Innovation Summit wat vandeesweek in Kaapstad plaasvind.

Hierdie kompetisie is die Suid-Afrikaanse been van die Global Cleantech Innovation Pogramme (GCIP-SA). Dit is 'n internasionale inisiatief wat poog om die mees dringende uitdagings van ons tyd op die gebied van energie, die omgewing, en ekonomie die hoof te bied deur die bevordering van skoon en innoverende nuwe tegnologieë.

Dr. Sara Andreotti, 'n mariene bioloog in die US se Departement Plant- en Dierkunde, sal die voorlegging doen. Sy het die Sharksafe Barrier™ ontwikkel in samewerking met dr. Craig O' Connell (Universiteit van Massachusetts Dartmouth), Michael Rutzen ('n grootwithaaibeskermer en hokduikoperateur) en prof. Conrad Matthee (hoof van die Departement Plant- en Dierkunde by die US).

Hierdie innoverende struktuur is saamgestel uit 'n klomp swart plastiekpype wat in die see opgestel word om soos 'n seewierwoud te lyk wanneer jy in die water is en daarna kyk. Die swart plastiekpype is aan die seebodem geanker en kan vertikaal beweeg.

“Ons werk dui daarop dat seewierwoude groot roofhaaie afskrik en dat hulle nie sommer daardeur sal swem nie, maar dit eerder vermy," verduidelik dr. Andreotti.

Om die effektiwiteit van die versperring verder te verhoog, is keramiek magnete al oor die lengte van die kunsmatige seewierwoud gerangskik. Ander studies het reeds getoon dat magnete haaispesies afskrik, insluitend grootwithaaie, bulhaaie, tierhaaie en hamerkophaaie.

Hierdie konsep is in Gansbaai, die mekka vir grootwithaaie in Suid-Afrika, uitgetoets.  Die navorsingspan het 'n sone van 13 m x 13 m onder die water, met aas in die middel van die sone, afgebaken. Ná 34 proeflopies met die aas, en met 255 uur se videodekking wat oor die verloop van twee jaar verkry is, het nie een enkele haai hierdie sone binnegegaan nie. Kleiner visse het egter wel hierdie afgebakende sone binnegegaan en vrylik tussen die seewieragtige strukture beweeg.

Die resultate van hierdie projek is onlangs as artikel: “Testing the exclusion capabilities and durability of the Sharksafe Barrier™ to determine its viability as an eco-friendly alternative to current shark culling methodologies" in die vaktydskrif Aquatic Conservation: Marine and Freshwater Ecosystems gepubliseer.

Die konsep van die Sharksafe Barrier™ is deur die US gepatenteer en is reeds in Australië (2013350811) en Europa (13821175.0) geregistreer. Patentregistrasie-aansoeke is egter nog hangende in Brasilië (BR112015012008-3), die VSA (14/647,646) en Suid-Afrika  (2015/04471).  Die konsep vir Shark Barrier End Caps (F2016/00959; F2016/00960; F2016/0096; F2016/00962) is ook as ‘n funksionele model in Suid Afrika toegestaan.

Dr Andreotti sê hierdie tegnologie gee aandag aan twee belangrike kwessies: die onverdedigbare verlies aan menselewens; en die ewe onverdedigbare verlies aan mariene lewe (walvisse, seeskilpaaie, dolfyne en haaie) as gevolg van die gebruik van haainette en dromlyne.

“Tussen 2011 en 2016 is 491 haai-aanvalle wêreldwyd aangemeld, waarvan 43 tot lewensverlies gelei het. En oor die afgelope 20 jaar is ongeveer 4 000 seediere in haainette gevang wat net die strande van Nieu-Suid-Wallis in Australië beskerm."

Toerisme is 'n ander belangrike rede hoekom die wêreld se grootwithaaie beskerm moet word. Die waarde van die plaaslike hokduik-industrie word geraam op US$4.4 miljoen: “Die tydelike verdwyning van grootwithaaie rondom Gansbaai in 2017 het reeds tot gevolg gehad dat een van die agt hokduikoperateurs hul deure tydelik moes sluit," waarsku sy.

Die populêre toeristebestemming, Réunion, het 'n gemiddelde verlies van 40% in besprekings ervaar ná 'n haai-aanval. Tussen 2011 en 2016 was daar 19 haai-aanvalle in genoemde gebied en owerhede was genoodsaak om een van hierdie strande permanent te sluit, voeg, voeg sy by.

As deel van die Global Cleantech program, word die publiek uitgenooi om deel te neem aan ''n opinievraelys oor strandveiligheid en mense se persepsie oor haaie en die beskerming van haaie. Klik hier om deel te neem.

Foto's: Daniel Botelho