Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeellede van Universiteit Stellenbosch aangewys as gehoorgunstelinge by internasionale konferensie
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 01/04/2016

Personeellede van Universiteit Stellenbosch aangewys as gehoorgunstelinge by internasionale konferensie 

Die tweede konferensie oor legitimeringskodeteorie (LCTC2) het van 3 tot 7 Julie 2017 by die Universiteit van Sydney, Australië, plaasgevind.

 

Die hoofsprekers by die geleentheid was onder meer prof Karl Maton, direkteur van die Legitimeringskodeteoriesentrum vir Kennisbou, en prof Chris Winberg, bekleër van 'n navorsingsleerstoel van die Suid-Afrikaanse Navorsingstigting en direkteur van die Eenheid vir Navorsing oor Werksgeïntegreerde Leer, Fakulteit Opvoedkunde, Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie.

 

Twee personeellede van die Universiteit Stellenbosch, drs Marnel Mouton (Plant- en Dierkunde) en Hanelie Adendorff (Sentrum vir Onderrig en Leer), is as gehoorgunstelinge by die konferensie aangewys.

 

In haar referaat oor die gebruik van legitimeringskodeteorie om die oorgang van Biologie op hoërskool- tot eerstejaarsvlak te fasiliteer, het dr Mouton beskryf hoe sy legimiteringskodeteorie (LKT) toegepas het om die Biologie-module van die verlengde graadprogram vir eerstejaars aan te pas om studente kumulatiewe kennis te laat opbou en epistemologiese toegang te bied. Haar werk bou voort op dié van Kelly-Laubscher en Luckett (2016), wat bepaal het waarom studente, veral dié uit voorheen benadeelde omstandighede in Suid-Afrika, wat betreklik goed gevaar het in Biologie op hoërskool, in hulle eerste jaar met die vak sukkel. Deur haar werk het dr Mouton getoon dat LKT nie net waardevol is as analitiese raamwerk nie, maar ook as 'n instrument vir kurrikulumbeplanning.

 

Op haar beurt het dr Adendorff in haar voorlegging oor #ScienceMust Fall en die stryd om beheer van die legitimeringstoestel 'n eerste poging aangewend om die #SMF-gesprek te verstaan wat teen die einde van 2016 die sosiale media oorheers het. Met behulp van LKT het sy elemente van hierdie interaksie ontleed. Dít het haar in staat gestel om die ordeningsbeginsels van kennispraktyke te ondersoek, en het lig gewerp op van die dieper kwessies in die groter dekolonisasiediskoers, wat as uitgangspunt gedien het vir 'n gesprek oor hierdie onderwerp. In haar referaat het sy onder meer aangevoer dat goed bedoelde dekolonisasiepogings kan misluk as gevolg van 'n gebrek aan begrip van hoe sekere handelinge ervaar word, sowel as van die redes vir daardie ervarings.

 

Ander personeellede wat die konferensie bygewoon het, was onder andere dr Robbie Pott van Prosesingenieurswese, wie se aanbieding oor die gebruik van die semantiese golf om leer op die gebied van vloeimeganika te verbeter vir 'n verlengde tydgleuf gekies is; dr Ilse Rootman-le Grange (gemengdeleerkoördineerder in Natuurwetenskappe), wat assessering in Chemie vir eerstejaars ontleed het; dr Karin Wolff (SOL-raadgewer vir Ingenieurswese), wat kurrikulêre kennis in Ingenieurswese onder die loep geneem het; dr JP Bosman (direkteur van die Sentrum vir Leertegnologieë), wat ondersoek ingestel het na die skep van betekenis in die Universiteit Stellenbosch se kortkursus oor gemengde leer, en dr Cecilia Jacobs (SOL-direkteur) en mnr Gert Young (SOL-raadgewer vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) met hulle referaat oor programvernuwing aan die Universiteit Stellenbosch.