Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doen jou deel om water te bespaar!
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/07/2017

​Vanaf 17 Julie is Stellenbosch Munisipaliteit, net soos Stad Kaapstad, onderhewig aan vlak 4B-waterbeperkings. Hiervolgens word elke persoon beperk tot die gebruik van 87 liter drinkbare water per dag in totaal. Dit sluit dus in 'n persoon se totale watergebruik tuis en by die werk.

“Universiteit Stellenbosch besproei al vir 'n geruime tyd nie meer tuine nie. Eksotiese plantspesies word vervang met inheemse en endemiese plantspesies oor die lang termyn," sê John de Wet, Bestuurder: Omgewingsvolhoubaarheid by Fasiliteitsbestuur.

Die Universiteit doen ook die volgende om water te bespaar:

  • Deurdringbare plaveisel om die ondergrondse waterdraers te hervul word op kampusse gebruik.
  • Landskapsterreine word ontwerp wat water terughou en so die absorpsie en stoor van water moontlik maak.
  • Gryswater word in beperkte hoeveelhede hergebruik.
  • Waterbesparende stortkoppe en toilette is op kampusse geïnstalleer.
  • Waterlekkasies word deurlopend getoets en herstel.
  •  Reënwater word opgevang en hergebruik.
  • Waterkwaliteit word gemonitor vir besoedeling.

“Elke personeellid kan op sy/haar manier 'n bydrae lewer om water te bespaar. Hier is 'n paar dinge wat jy kan doen om by jou kwota van 87 liter per persoon per dag te bly:"

  • Stort slegs vir twee minute en gebruik 'n waterbesparende stortkop. Beperk die water as jy bad. 
  • Vang jou stort- en wasbakwater op en hergebruik dit om jou toilet te spoel of gebruik dit in die tuin.
  • Moenie kos onder lopende water ontdooi nie.
  • Gebruik 'n koppie water om jou tande te borsel en te skeer. Moenie die water laat loop nie.
  • Draai die kraan toe terwyl jy seep aan jou hande smeer om dit te was.
  • Wag totdat die wasmasjien vol is voor jy 'n bondel was.  
  • Was skottelgoed met die hand – dit gebruik tussen 10 en 30 liter water. 'n Skottelgoedwasser gebruik tussen 40 en 75 liter water per siklus.
  • Rapporteer lekkende krane, sproeiers en ander toestelle by (021) 808 4666

Vir meer inligting, skakel John de Wet by jdewet@sun.ac.za of 021 808 9422.