Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurswese-studente raap tweede plek by internasionale kompetisie op
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 17/07/2017

​'n Span van Suid-Afrikaanse rekenaarwetenskap- en ingenieurswese-studente het tweede plek behaal by die 2017 Internasionale Studente Kluster-kompetisie, wat in Junie​ in Frankfurt, Duitsland, gehou is.

Philip Goosen en Lydia de Lange van die Universiteit Stellenbosch (US) se Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese Departement het, tesame met Mishka Mohamed, Kyle Jordaan, Tyrone de Ruiters en Liam Doult van die Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrika verteenwoordig. 

Elke jaar lei die Centre for High Performance Computing (CHPC) studente van verskeie Suid-Afrikaans universiteite,op tydens hul jaarlikse winterskool wat in Julie gehou word. Studente word vir die Nasionale Studente Kluster-kompetisie gekies, waarna die wenners vorder na die Internasionale Studente Kluster-kompetisie.

“Die kompetisie was 'n stimulerende ervaring met interessante uitdagings," sê Goosen. “Dit het plaasgevind by die ISC-konferensie in Frankfurt, wat die klem plaas op die nuutste navorsing en ontwikkeling in die veld. Ons het ook die geleentheid gehad om ander studente en kenners in die industrie te ontmoet. Dit was 'n baie leersame ervaring, en ek is baie dankbaar ek kon hieraan deelneem. Dit was aanvanklik nogal vreesaanjaend om teen die beste spanne regoor die wêreld mee te ding, wie ook vir hierdie kompetisie gekwalifiseer het nadat hulle soortgelyke, kleiner kompetisies in hul respektiewe gebiede gewen het. Ons is die enigste span van Afrika, en was saamgestel uit slegs voorgraadse studente."

Van die ander spanne wat deelgeneem het aan die kompetisie sluit in Nanyang Technological University van Singapoer, die Amerikaanse 'Boston Green Team', saamgestel uit Boston University, Harvard University en Massachusetts Institute of Technology, University of Hamburg van Duitsland en Tsinghua University van China. Tsinghua University is as die jaar se algehele wenner aangewys.

Die CHPC het die topprys in die ISC Studente Kluster-kompetisie laasjaar opgeraap, asook in 2013 en 2014, en het tweede plek in 2015 gewen.

Foto (Council for Scientific and Industrial Research): Die Suid-Afrikaanse span was verteenwoordig deur Mishka Mohamed, Kyle Jordaan, Tyrone de Ruiters, Liam Doult van die Universiteit Wes-Kaapland en Philip Goosen en Lydia de Lange van die Universiteit Stellenbosch.​​​