Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verbeter weer sy plek op QS-ranglys vir universiteite
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/06/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het weer sy posisie op die QS-wêrelduniversiteitsranglys 2017/18 verbeter. Die US beklee nou die tweede plek in Suid-Afrika nadat dit in die 2016/17 ranglys die derde plek beklee het.

Die US beklee nou die 361ste plek op die ranglys nadat dit verlede jaar no 395 was. Altesaam 950 universiteite (43 meer as verlede jaar) in 84 lande is by die jongste ranglys ingesluit.

Die QS-wêreldranglys vir universiteite word as een van die mees populêre internasionale ranglyste vir universiteite beskou. Dit is ook die enigste globale ranglys wat onafhanklik nagegaan en deur die Organisasie vir Akademiese Ranglyste en Uitnemendheid, IREG, goedgekeur is.

Universiteite wat by die jongste ranglys ingesluit is, is op grond van die volgende ses prestasieaanwysers geëvalueer: akademiese reputasie (40%), werkgewer reputasie (10%), fakulteit/student-verhouding (20%), navorsingsitasies per publikasie (20%), en die aantal internasionale akademici (5%) en -studente (5%).

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, sê dat die US se benadering tot ranglyste nog altyd was om dit nie oor te beklemtoon, dat akademiese uitnemendheid ononderhandelbaar is, dat gehalte altyd eerste geplaas word en dat daar nie gepoog word om enige ranglys kunsmatig te beïnvloed nie.

"Dit gesê is ons natuurlik verheug oor ons verbetering op die ranglys en beskou dit as ʼn bevestiging van die US se status as wêreldklas-instelling."

Die Universiteit van Kaapstad beklee steeds die voorste posisie in Suid-Afrika – 191. Die Universiteit van die Witwatersrand lê nou derde – op no 364. Die Massachusetts Institute of Technology (MIT) beklee steeds die voorste plek wêreldwyd – vir die 6de jaar agtereenvolgens.