Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​PhD-navorsing help om internasionale seël op Karoo se lamsvleis te sit
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 13/03/2017

Wanneer Sarah Erasmus op 14 Maart 2017 haar doktorsgraad in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, is dit met die wete dat haar navorsing help staaf het dat daar werklik iets streekspesifiek en uniek aan lamsvleis uit Suid-Afrika se Karoostreek is. Dit het ook daartoe bygedra dat Karoolam verlede jaar eksklusiewe naamregte in terme van die Europese Unie se bemarkingswetgewing verkry het.

Erasmus het haar nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch in 2013 begin in 'n tyd toe daar nog geen wetlike beskerming was vir plaaslike Suid-Afrikaanse produkte soos Karoo lam, rooibos en heuningbos wat internasionaal bemark word nie.

Sy het haar nagraadse studies voltooi onder leiding van prof Louw Hoffman van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Vleiswetenskap: Genomika tot Nutriomika in die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Veekundige Wetenskappe, en me Nina Muller van die US Departement Voedselwetenskappe.

"Vir baie Suid-Afrikaners is dit omtrent algemene kennis dat lamsvleis uit die Karoo 'n unieke smaak het weens die geurige Karoobossies wat die skape eet. Daar was egter geen betroubare wetenskaplike bewyse om hierdie anekdotes te staaf nie," vertel Erasmus.

Sy het in haar navorsing verskillende soorte analitiese metodes gebruik om juis dit te doen, en het onder meer navorsing oor isotope gedoen. Sy het ook 'n beskrywende sensoriese analise oor lamsvleis uit die Karoo voltooi. Van haar bevindinge is reeds in internasionale vaktydskrifte soos Food Chemistry en Small Ruminant Research gepubliseer.

Deur haar sensoriese analise het Erasmus bevestig dat lamsvleis uit die Karoo oor unieke sensoriese kwaliteite beskik, en dat dit anders smaak as lamsvleis uit ander streke in Suid-Afrika. Karoolam het 'n meer prominente en definitiewe lamverwante smaak in vergelyking met vleis uit die Vrystaat of die Rûensgebied, waar die skape gewoonlik gras en lusern en/of wintergraanstoppels onderskeidelik vreet.

"Mens tel veral hierdie sensoriese verskille op in die diere se vet," verduidelik Erasmus. "Vet speel dus 'n belangrike rol in die oorhoofse smaak van Karoolamsvleis."

Erasmus het 'n deel van haar navorsing by RIKILT, 'n navorsingsinstituut van die Wageningen Universiteit in Nederland, onder leiding van prof Saskia van Ruth gedoen. Van Ruth is 'n kenner oor hoe mens die oorsprong en egtheid van kossoorte vasstel. In Nederland het Erasmus kans gekry om navorsing te doen om van die beste moontlike soort massa spektrometers wat beskikbaar is.

"So kon ons unieke chemiese 'vingerafdrukke' optel wat gebruik kan word om die oorsprong van kos en in hierdie geval vleis, te bepaal," vertel Erasmus, wat van haar bevindinge oor hoe om die egtheid van Karoovleis vas te stel by 'n nagraadse simposium oor voedselbedrog by Wageningen in 2016 voorgedra het.

Spesifieke vlugtige samestellings wat in Karooplante opgemerk is, is ook in die vleis en vet van lammers uit dié streek opgetel. Dit bewys dat daar 'n definitiewe skakel is tussen wat die diere eet en hul vleis en word ook beskou as nog 'n bewys dat Karoolam uniek aan die streek is waaruit dit kom.

Volgens prof Hoffman is Erasmus se vleiskundige studie 'n bewys dat navorsing gebruik kan word tot voordeel van Suid-Afrikaanse boere en vleisprodusente.

Karoo lamvleis en geografiese aanduiderstatus

Erasmus se wetenskaplike bevindinge oor onder meer die besonderse sensoriese en streeksgebonde kwaliteite van lamsvleis is gebruik  in die aansoek aan die Europese Unie om sogenaamde unieke geografiese aanduiderstatus ("geographic indication status") vir lamsvleis uit die Karoo te verkry.

Dit is in Oktober 2016 toegestaan in terme van 'n Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EVO) tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se EVO-groep en die Europese Unie (EU). Dit verleen internasionale beskerming en beskermende naamregte op die bemarkingsfront daaraan.

Om tot op hierdie punt te kom, moes lamsvleis uit die Karoo eers plaaslik gesertifiseer word in terme van Suid-Afrikaanse wetgewing. Daarvoor was dit onder meer nodig dat abattoirs stelsels in plek stel om presies te kan sê waar die vleis wat deur hul hande gaan vandaan kom.

Wat is so spesiaal aan geografiese aanduiderstatus?

Deur geografiese aanduiderstatus word die naam van 'n produk aan 'n spesifieke streek gekoppel. Dit mag dan net gebruik word om produkte uit daardie bepaalde streek internasionaal te bemark. Bekende internasionale voorbeelde is byvoorbeeld Parmaham, Franse sjampanje, Meksikaanse tequila en Port.

Sy eie geografiese aanduiderstatus gee dus nou aan die Karoo se lamsvleis 'n hupstoot op die wêreldmark en voeg waarde toe tot produkte uit die streek wat met die naam geassosieer word.