Voedselwetenskaplikes en navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Rome "La Sapienza" het proaktief opgetree deur 'n vinnige en gebruikersvriendelike metode te ontwikkel wat Suid-Afrikaanse heuningprodusente en -verspreiders sou kon gebruik om te toets of die produkte wat hulle verkoop die ware Jakob is.
Die metode is spesifiek vir die Suid-Afrikaanse mark ontwikkel, en word in 'n onlangse navorsingsartikel in die internasionale vaktydskrif Food Control uiteengesit. Dit behels die gebruik van naby-infrarooi (NIR) spektroskopie. Daarvolgens is laboratorium- asook draagbare NIR-instrumente gekalibreer, spesifiek vir die toets van Suid-Afrikaanse heuning.
Omdat draagbare en mobiele NIR-toestelle reeds op die mark beskikbaar is, sou dit moontlik wees om die toetse op gekalibreerde instrumente ter plaatse op 'n plaas of in 'n fabriek te doen.
Die spesifieke NIR-kalibrasie vir Suid-Afrikaanse heuning is ontwikkel deur dr Anina Guelpa as deel van haar nadoktorale studies in die US se Departement Voedselwetenskap en die Sentrale Analitiese Fasiliteit (SAF) se CT-Skandeerderfasiliteit. Sy is daarin bygestaan deur haar studieleier, NIR-spektroskopiekenner prof Marena Manley van die US Departement Voedselwetenskap, US-navorsers dr Anton du Plessis en dr Ruhan Slabbert, en dr Federico Marini van die Sapienza Universiteit van Rome in Italië.
Volgens die Suid-Afrikaanse Byeboerindustrie word tot 1500 ton heuning jaarliks plaaslik geproduseer. Dit voldoen egter nie in verbruikersaanvraag nie, en daarom word ongeveer dieselfde hoeveelheid jaarliks ook ingevoer – dikwels teen 'n heelwat laer prys as waarteen plaaslike heuning verkoop word.
Omdat heuning 'n voedselsoort is waarvoor 'n premie betaal word, het dit ongelukkig in enkele lande van die wêreld die teiken van vervalsing en onderduimse praktyke geword. Dit is onseker of dit ook die geval is in Suid-Afrika, en indien wel, tot watter mate.
In sommige dele van die wêreld is dit bekend dat goedkoop suikerstroop soms by heuning gevoeg word. Soms word produkte ook wederregterlik geëtiketteer asof dit van plaaslike oorsprong is, maar in werklikheid is die heuning ingevoer of met buitelandse produkte verdun.
"Nie net sou die verbruiker sodoende mislei kon word nie, maar dit beteken ook toenemend dat plaaslike produsente nie meer kan meeding teen die lae pryse waarteen hierdie vervalste produkte verkoop word nie," verduidelik prof Manley.
Volgens haar was daar daarom 'n behoefte aan 'n vinnige, maklike, goedkoop klassifikasiemetode wat nie die monsters wat getoets word in die proses vernietig nie.
Daar is reeds maniere beskikbaar is om heuning te toets. Dit sluit stabiele koolstofisotoop ratio massaspektrmetrie (SCIRA) of termiese analisering in. Hierdie tegnieke is egter duur en tydrowend. In die meeste gevalle word die monster van die produk wat getoets word ook vernietig.
Deur proaktief 'n NIR spektroskopie-metode te ontwikkel kan die egtheid van Suid-Afrikaanse heuning nou makliker bevestig word.
Die navorsingspan het op naby-infrarooi (NIR) spektroskopie besluit omdat die tegniek reeds voorheen in internasionale studies gebruik is om te bepaal van watter soort blomme sekere heuning gemaak word, asook die geografiese en botaniese oorsprong daarvan.
Dr Guelpa het kalibrasies ontwikkel vanaf die beskikbare spektrale inligting van heuning van Suid-Afrikaanse oorsprong. Dit kan nou gebruik word om te kan toets of heuningmonsters deur Suid-Afrikaanse bye geproduseer is of nie. Danksy die toets kan mens ook vasstel of enige suiker (soos glukose of fruktose) of enige nie-Suid-Afrikaanse heuning dalk daarby gevoeg is. Die metode tel dit selfs op wanneer net 'n klein bietjie suiker bygevoeg is.
"Alle eg Suid-Afrikaanse heuning deel sekere spesifieke spektroskopiese karaktereienskappe, ongeag van die streek waarvandaan dit kom of die soort blom wat die bye as bron gebruik het," verduidelik prof Manley. "Hierdie streeksgebonde spektroskopiese eienskappe help ons om tussen ingevoerde of vervalste produkte te kan onderskei."
Sy reken die tegniek sal weldra ook gebruik kan word om tussen verskillende soorte Suid-Afrikaanse heuningsoorte te kan onderskei, soos byvoorbeeld fynbosheuning of bloekomheuning.
Die NIR-tegniek vinnig en maklik om te gebruik. Omdat die monster wat getoets word geensins vernietig word in die proses nie, kan dit geberg word sou verdere ondersoeke nodig wees.
Verwysing: Guelpa, A. et al (2017). Verification of authenticity and fraud detection in South African honey using NIR spectroscopy, Food Control, 1388-1396
Bykomende inligting:
Wat is NIR spektroskopie?
Naby-infrarooi (NIR) spektroskopie is tegnologie wat die NIR-deel (800 tot 2500 nanometer) van die elektromagnetiese spektrum gebruik. Dit word in NIR spektrofotometers gebruik.
Hoe werk dit?
• 'n Monster van dit wat getoets moet word (bv. heuning, olie of koring) word in 'n NIR-spektrofotometer geplaas. (Geen voorbereidingswerk is hiervoor nodig nie – die monster kan net so gebruik word. Dit beteken koringmonsters hoef bv nie gemaal word nie, en kan die heel korrels ondersoek word.)
• 'n Eenvoudige halogeen ligbron straal onskadelike lig (wat die NIR deel insluit) uit en tref die monster.
• Die lig verloor energie omdat dit gedeeltelik deur die monster geabsorbeer word. Die hoeveelheid lig wat geabsorbeer word hang af van die fisiese en chemiese samestelling van elke monster.
• Die spektrofotometer meet die oorblywende lig wat gereflekteer word. Die verlore (geabsorbeerde) lig word beskou as unieke spektrale inligting wat spesifiek is tot daardie monster. Elke soort monster sal dus sy eie spektrale inligting hê.
• Alhoewel die spektrale beelde van byvoorbeeld Suid-Afrikaanse heuning op die oog af eenders lyk, kan dit met behulp van vooraf-ontwikkelde kalibrasies onderskei word van nie-Suid-Afrikaanse heuning. So ook byvoorbeeld kan die proteïn- en voginhoude van verskillende korings op dieselfde manier gelyktydig vanaf 'n enkele monster gemeet word.