Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genetiese samestelling speel versteekte rol in ons ontwikkeling
Outeur: Xanthe Hunt and Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 28/02/2017

Ons is almal deeglik bewus van die manier waarop ons genetiese samestelling talle individuele eienskappe beïnvloed. ʼn Studie uitgevoer deur prof Mark Tomlinson van die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch het egter nou ʼn groot, versteekte rol aan die lig gebring wat ʼn kind se genetiese samestelling in intervensiepogings kan speel om sy of haar ontwikkeling te maksimaliseer.

Hierdie studie, wat op 28 Februarie in PLoS Medicine gepubliseer sal word, is befonds deur die Kanadese regering deur die Grand Challenges Canada's Saving Brains-program en werp lig op die rede waarom party kinders meer voordeel as ander uit intervensies trek. Dit opper ook ingewikkelde vrae oor toekomstige psigososiale intervensieprogramme.  

Grand Challenges Canada is verbind tot ondersteuning van Bold Ideas with Big Impact® in globale gesondheid en word deur die Kanadese regering befonds en ondersteun innoveerders in lae- en middelinkomste-lande en Kanada.

"Hierdie bevindinge bied die aanloklike moontlikheid om intervensiepogings beter te fokus om te verseker dat almal die geskikte intervensies ontvang wat hulle benodig vir optimale ontwikkeling van hul kinders," sê die hoofondersoeker, Tomlinson, wat die studie in samewerking met ander kollegas van die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Reading (VK), University College London en Ruhr-University Bochum, Duitsland, uitgevoer het.

In die oorspronklike studie is ʼn intervensie tussen 1999 en 2003 geïmplementeer waarin swanger vroue ʼn tuisbesoek-ouerskapsintervensie ontvang het om gehegtheid aan hul kind te verbeter. Gehegtheid is as ʼn maatstaf van ʼn kind se sielkundige sekuriteit gebruik en voorspel toekomstige welstand. In daardie studie het Tomlinson, saam met kollegas van die Universiteit van Reading, die Universiteit van Kaapstad en die Parent Centre, bevind dat die intervensie ʼn klein tot matige uitwerking op moeder–kind-gehegtheid gehad het, wat geëvalueer is toe die kinders 18 maande oud was.

Die opvolgstudie, wat nege jaar later uitgevoer is, het die oorspronklike gehegtheid-resultate herondersoek en iets verrassends opgelewer.

"Die intervensie het inderwaarheid goed gewerk vir kleuters wat ʼn spesifieke genetiese eienskap het," sê Tomlinson. 

In die opvolgstudie is versorgers en hul kinders weer ingeskryf en die oorspronklike gehegtheid-resultate is herontleed op grond van of die kind die kort of lank vorm van geen SLC6A4 het. 

"Dit het die ondersoekers in staat gestel om te toets of die oorspronklike gehegtheid-uitkomste deur ʼn geenintervensie-interaksie beïnvloed is," sê Tomlinson. 

Die navorsers het in ag geneem of die kind die kort of lang vorm van geen SLC6A4 het. Hierdie geen is die serotonien-vervoerdergeen, wat betrokke is by senuweeseine, en wat deur ander studies aan angstigheid en depressie gekoppel is. Serotonien word algemeen beskou as bydraend tot gevoelens van welstand en geluk. Vorige studies het ook getoon dat individue met die kort vorm van SLC6A4 in die algemeen meer sensitief of 'ontvanklik' vir psigososiale intervensies is, met ander woorde, hulle trek voordeel daaruit as hulle dit ontvang, en trek nie voordeel nie of word daadwerklik benadeel as hulle dit nie ontvang nie.

Kinders met die kort vorm van die geen, en wie se swanger moeders die intervensie ontvang het, was op die ouderdom van 18 maande (84%) byna vier keer meer geheg aan hul moeders as dié kinders wat ook die kort vorm het maar wie se moeders nie tuisbesoeke ontvang het nie (58%).

Kinders met die lang vorm van die geen was oënskynlik ongeraak deur hul moeder se opleiding of gebrek daaraan: In albei gevalle was die kinders se koerse van gehegtheid byna identies (70 en 71%). Volgens die hoofouteur, dr Barak Morgan, kan dit moontlik beteken dat hierdie groep kinders minder ontvanklik voorkom en min voordeel uit dieselfde intervensie verkry het, maar ook min benadeling as hulle dit nié gekry het nie. 

"Ons bevindinge is onderhewig aan verdere bekragtiging," sê Tomlinson, "maar die insig het belangrike implikasies vir wetenskaplikes wat intervensies ontwerp en evalueer om soveel mense in Suid-Afrika en wêreldwyd moontlik te bevoordeel. Sonder inagname van genetika is dit moontlik dat ander studies die impak van hul intervensies onderskat het, soos ons ook aanvanklik gedoen het."

"Dit is ʼn uiters belangrike insig omdat, in hierdie geval, die subgroep met die kort vorm van die SLC6A4-geen ook die een is wat die meeste benadeel sal word as hulle nie gehelp word nie," sê Morgan.

Skeiding van die uitwerkings van ʼn intervensie op verskillende subgroepe sal navorsers inderdaad in staat stel om beter waar te neem wanneer intervensies werk, en vir wie.

Tomlinson voeg by: "In die oorspronklike studie het ons nie so ʼn groot impak van hierdie intervensie gesien nie omdat slegs dié met die kort geen verbeter het, en hierdie verbetering 'verwater' is deur die groot aantal kinders met die lang geen wat nie verbeter is nie."

Tomlinson maan dat een van die beperkings van die studie insluit dat dit ʼn relatiewe klein steekproef behels het en slegs een geen en een uitkomste gemeet het – in hierdie geval gehegtheid.

"Die toekomstige implikasies is dus tweevoudig. Eerstens sal die meting van genetiese verskille voorsiening maak vir behoorlike assessering van die doeltreffendheid of ondoeltreffendheid van ʼn intervensie vir ʼn spesifieke uitkomste onder verskillende individue. Tweedens kan hierdie inligting dan gebruik word om te bepaal hoe om die intervensie toe te pas sodat dit doeltreffend vir almal is – om leiding te gee rakende wat gedoen kan word om uitkomste vir ʼn nieresponsiewe geenintervensie-interaksie te verbeter en terselfdertyd uitkomste vir die responsiewe een te optimaliseer."

Dr Karlee Silver, visepresident van programme by Grand Challenges Canada, sê ter kommentaar op die bevindinge: "Hierdie werk handel in wese oor beter begrip van die impak van intervensies en toon dat sommige uitreikpogings moontlik baie doeltreffender kan wees as wat ons aanvanklik gedink het, veral vir diegene vir wie dit die belangrikste is – vir kinders wat uiters vatbaar is vir skade weens armoede, wanvoeding en ander negatiewe toestande."

"Dit is ʼn belangrike stap vorentoe om ʼn wêreld te skep waarin elke kind kan oorleef en kan floreer."