Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel leer isiXhosa om Lettere-omgewing meer toeganklik te maak
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 25/01/2017

'n Groep wat bestaan uit 25 personeellede van verskeie departemente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het einde verlede jaar die eerste isiXhosa-kortkursus voltooi wat deur die Departement Afrikatale aangebied is.

Volgens dr Anita Jonker, Studentesteunkoördineerder in die Fakulteit, word personeel in die omgewing jare reeds aangemoedig om isiXhosa en ander Afrikatale aan te leer in 'n poging om veral beter met eerstejaarstudente te kommunikeer wat 'n Afrikataal praat.

"Dit is vir ons belangrik om al ons studente tuis te laat voel by die Universiteit en in ons fakulteit. Ons wil verder ons studente se moedertale gebruik om hulle te help om die onderskeie dissiplines se vaktaal beter te verstaan. Om daardie rede het ons ook oor die afgelope paar jaar op ons eie, en in samewerking met die Taalsentrum, tegniese terminologielyste ontwikkel vir die meeste vakgebiede in die Fakulteit," verduidelik Jonker.

Alhoewel die Taalsentrum reeds 'n baie goeie isiXhosa-kursus, Masazane, aanbied vir Universiteit Stellenbosch (US)-personeel, word dit oor 'n langer periode aangebied en is dit meer intensief. Die kursus in die Fakulteit duur slegs vyf weke en fokus op die tipe gesprekke wat akademici, administratiewe en steunpersoneel gewoonlik met studente en kollegas sal hê, en op taalgebruik wat 'n verwelkomende atmosfeer skep.

Die idee van die isiXhosa-kursus, sê Jonker, is verwesenlik danksy die drie isiXhosa-dosente wat lede is van die Fakulteit se Leer- en Onderrigkomitee (LOK). Tydens die laaste LOK-vergadering verlede jaar het die drie dosente, dr Zandile Kondowe, me Sibongile Xamlashe en mnr Simthembile Xeketwana, aangebied om gesamentlik 'n gratis gesprekskursus aan te bied vir die LOK se eerstejaarsdosente en belangstellende personeel.

Volgens Xeketwana was dit 'n wonderlike ervaring om isiXhosa vir personeellede in die Fakulteit te leer.

"Daar bestaan reeds lank 'n behoefte onder personeel aan isiXhosa-lesse en uiteindelik is daardie behoefte vervul. Die kursus verbeter meertaligheid wat deel vorm van die nuwe Taalbeleid, verbreed toegang tot die Universiteit, en skep 'n verwelkomende omgewing en 'n goeie etos onder personeel binne die Fakulteit, asook in die breër universiteitsgemeenskap."

Die kursus is presies volgens die behoeftes van die personeel aangebied, wat versoek het dat die maksimum tyd aan gesprek in die klas gegee word en dat daar gefokus word op die soort gesprekke wat jy met 'n student of kollega sou voer om hulle tuis te laat voel, deernis te toon of 'n student voorspoed toe te wens met 'n toets of eksamen.

Vir vyf weke het die personeellede een keer per week ontmoet om 'n isiXhosa-woordeskat op te bou onder die leiding van Kondowe, Xamlashe en Xeketwana. Die Fakulteit se pas aangestelde gemengdeleerkoördineerder, me Miné de Klerk, het op eie inisiatief ná elke klas die kursusmateriaal by 'n potsending (podcast) van die klas geïntegreer sodat alle deelnemers agterna verder kon oefen deur op SUNLearn in te teken.

Volgens dr Lauren Mongie, 'n dosent in die Departement Algemene Taalwetenskap; me Liesl van Kerwel, die Dekaan se sekretaresse, en me Zahn Münch, 'n dosent in die Departement Geografie en Omgewingstudie, was die kursus nie net pret nie, maar het die dosente se entoesiasme vir die onderwerp en hul toewyding dit ook maklik gemaak om 'n nuwe taal aan te leer.  

"Sedert ek 'n student met die Rektor hoor praat het sonder dat ons kon verstaan wat hy sê, wou ek in isiXhosa leer kommunikeer. Dit het my getref hoe hulpeloos ek gedurende die kursus gevoel het toe ek moes praat, so dit was goed om uitgedaag te word deur hoe dit is om te funksioneer in 'n wêreld waar jy nie kan kommunikeer nie, want jy het nie al die gereedskap nie. Dit het my baie meer simpatiek gemaak teenoor ál diegene wat konstant in so 'n situasie is. Ek was gaande oor die drie kollegas se aansteeklike geesdrif vir die isiXhosa-taal en hulle uitstekende onderrigmetodes," sê Münch.

Van Kerwel voeg by dat sy nou mense selfversekerd in isiXhosa kan groet, en "die res vorder ook stadig maar seker!", terwyl Mongie meen sy het "geweldig baie baat gevind by die kursus". "Ek het sedert die kursus klaargemaak het sulke kort, klein gesprekkies met Xhosa-mense met wie ek in my alledaagse lewe te doen kry, en ek's verras oor hoeveel hulle ons in so 'n kort tydjie kon leer. Hulle was ongelooflike aanbieders. Ek sal hulle ewig dankbaar bly vir hulle vriendelikheid en uitstekende onderrigvermoëns," sê Mongie.

Jonker sê dat hulle met hierdie kursus regtig probeer het om personeel toe te rus om 'n verwelkomende omgewing te skep en dit op voetsoolvlak te doen, daar waar hulle met studente en kollegas in aanraking kom.

"Dit was vir ons belangrik om 'n kursus te ontwikkel waar personeel met studente en kollegas as hul gelykes kan gesels en in die proses gesprek kan bevorder.

"Dit is hoekom dit so waardevol was dat die isiXhosa-dosente na die eerste drie klasse enkele van hulle isiXhosa-studente saamgebring het om personeel die geleentheid te gee om hul teoretiese gesprekke prakties met moedertaalsprekers te oefen. Personeel kon ook elke week gesprek voer met hul drie isiXhosa-kollegas wat die kursus gesamentlik aangebied het, asook met ander isiXhosa kollegas in hul onderskeie departemente."

Personeel wat belangstel om vanjaar die kortkursus te volg, kan dr Kondowe by kondowe@sun.ac.za kontak.

Op die foto is sittend (van links) dr Lauren Mongie, dr Anita Jonker, dr Zandile Kondowe (isiXhosa-kursuskoördineerder, dr Ilse Slabbert, me Rochelle Williams en dr Tasneemah Cornelissen-Nordien. Agter staan me Liesl van Kerwel, mnr Pieter Janse Van Rensburg, me Sibongile Xamlashe, me Miné de Klerk en me Amy Daniels. (Hennie Rudman, SSFD)