Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Andrew Mellon-skenking van R11,2-miljoen werp soeklig op transformasie
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/12/2016

Wat beteken transformasie vir Suid-Afrika se hoëronderwysstelsel en vir die groter Suid-Afrikaanse samelewing? Wie bepaal, evalueer en meet institusionele transformasie? En hoe het kennis in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika op die gerassifiseerde geskiedenisse van hulle samestelling die afgelope 22 jaar sedert die postapartheidsdemokrasie ingewerk?

Hierdie vrae vorm die kern van 'n nuwe navorsingsprojek wat 'n span navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie onderneem. Dié projek, wat as Indexing Transformation bekend staan, is moontlik gemaak deur 'n vyf-jaar toekenning van R11,2 miljoen van die Andrew W Mellon Stigting en skop in 2017 af.

Die toekenning sal ondersteun: 'n deeltydse programbestuurder, navorsingsprojekte, 78 nagraadse studente beurse, 'n internasionale konferensie oor institusionele transformasie in 2017 wat die agendas sal stel en uitdagings vir die studie van transformasie sal identifiseer, 'n jaarlikse werkswinkel van fakulteit en nagraadse studente wat werk met transformasie aangeleenthede, 'n weeklikse seminaar-reeks, en 'n webwerf.

Die Andrew W Mellon Stigting is 'n waardevolle ondersteuner van die US. Vroeër vanjaar het die Stigting R13,7-miljoen tot prof Stephanus Muller se Delinking Encounters Initiative – 'n vyfjaarprojek van Africa Open, 'n Sentrum vir Uitnemendheid in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe – bygedra, en 'n verdere R5,3-miljoen oor drie jaar versprei tot 'n suprainstitusionele inisiatief wat gemik is daarop om swart Suid-Afrikaners tot die geledere van medeprofessore en volle professore in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe te laat vorder.

"Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning en vertroue wat die Mellon Stigting in ons fakulteit stel," sê die dekaan van die fakulteit, prof Anthony Leysens. "Die finansiële ondersteuning maak nie net 'n beduidende en broodnodige bydrae tot die bevordering van diversiteit en transformasie in ons fakulteit en aan hierdie instelling nie, maar dra ook by tot die ontwikkeling van hoëvlakkundigheid op die Afrikakontinent," het hy bygevoeg.

"Dit is vir ons ʼn voorreg om met die Universiteit Stellenbosch, een van die voorste navorsingsuniversiteite in Afrika, geassosieer te word," sê dr Saleem Badat, Program Direkteur: Internasionale Hoër Onderwys en strategiese projekte, by die Mellon-stigting. Hy het bygevoeg: "Deur ons vennootskap met Stellenbosch poog ons om die bydraes wat die geesteswetenskappe en die lettere tot menslike groei en die welstand van diverse en demokratiese samelewings lewer te verstewig en te bevorder. Ons ondersteun ook programme van hoë gehalte wat daarop gemik is om nuwe kennis te produseer en 'n nuwe generasie intellektuele akademici te vorm, veral uit benadeelde agtergronde."

Volgens die projekleier, prof Steven Robins, spruit die Indexing Transformation-projek direk uit die Mellon-befondse Indexing the Human-projek wat tussen Julie 2014 en Oktober 2015 'n suksesvolle seminaarreeks en 'n dinamiese navorsingsruimte in die Departement aangebied en ontwikkel het.

"Indexing the Human het daarin geslaag om kritiese refleksie oor die geskiedenis van die geesteswetenskappe in Stellenbosch, en op 'n groter skaal in Suid-Afrika, te kataliseer. Ons huidige projek het uit hierdie voortgesette kommer oor die aard van kennisproduksie in die geesteswetenskappe voortgevloei. Dit is ook die resultaat van die besef dat ons universiteitruimtes en intellektuele werk belangrike ondersoek na voortgesette rasse-ongelykhede en hindernisse in die weg van demokratiese, inklusiewe intellektuele praktyk benodig, 'n besef wat versterk is deur onlangse studentebetogings oor die hele land," het prof Robins gesê.

Hierdie nuwe projek behels die ontwikkeling van navorsingsklusters, die instelling van 'n kursuswerkmagisters wat op die tema Kritiese Transformasiestudies fokus, sowel as 'n seminaarreeks. Deur hierdie intervensies beoog die navorsingspan dit om Indexing Transformation tot 'n intellektuele ruimte vir vakkundiges en gegradueerde studente te ontwikkel ten einde die diverse dimensies van transformasie krities te ondersoek.

Foto: Prof Steven Robins.