Mnr. Xavier von Stein, 'n oud-leerder van Somerset College, het die S2A3 medalje ontvang as die beste MSc student gedurende 2016 aan die Universiteit Stellenbosch.
Die S2A3 medalje word jaarliks deur die Suider-Afrikaanse Genootskap vir die Bevordering van die Wetenskap aan die beste MSc student in die natuurwetenskappe by elk van Suid-Afrika se tersiêre instellings toegeken.
Xavier, wat in Stellenbosch grootgeword het, sê hy het aanvanklik vir 'n BSc in biologie en biotegnologie ingeskryf. Maar, nadat hy in sy eerstejaar aan fisika blootgestel is, het hy besluit om van rigting te verander.
"Van al my eerstejaarsvakke, het ek fisika die meeste geniet. Ek was veral aangetrek deur die feit dat dit baie probleemoplossingvaardighede vereis," se hy.
Vir sy MSc in laser fisika het hy ondersoek wat met 'n sekere groep foto-aktiewe molekules gebeur nadat dit lig geabsorbeer het.
Hy verduidelik: "Hierdie molekules is fotochromies. Dit beteken hulle ondergaan 'n kleurverandering nadat hulle lig geabsorbeer het. Ek het ultravinnige spektroskopie gebruik om die dinamika van hierdie molekules te probeer verstaan."
Dit is 'n groot uitdaging om hierdie prosesse waar te neem, omdat dit op 'n tydskaal van 'n miljoenste van 'n biljoenste van 'n sekonde plaasvind. Dit is ook die eerste keer dat hierdie molekules op 'n ultravinnige tydskaal bestudeer is.
"Hierdie unieke databasis het tot nuwe insigte gelei en bygedra tot die fundamentele begrip van hierdie molekules," voeg hy by.
Buiten sy studies, is Xavier ook besig met musiek, beeldhouwerk en ry hy graag motorfiets.
Sy advies aan studente wat fisika as 'n studierigting oorweeg?
"Daar is geen plaasvervanger vir harde werk nie, maar jou navorsingsonderwerp en die mense saam met wie jy gaan werk, is net so belangrik. Die kombinasie van hierdie twee faktore is 'n voorvereiste vir 'n stimulerende en suksesvolle navorsingsomgewing."
Op die foto, Xavier von Steyn. Foto: Anton Jordaan