Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Legendariese Rose-Innes groet na 34 jaar
Outeur: Sport Science: Media / Sportwetenskap: Media
Gepubliseer: 28/11/2016

​In 1982 is sy gevra om vir ses maande te kom uithelp… en nou, 34 jaar later, het Rennie Rose-Innes se ses maande van uithelp tot ‘n einde gekom.

Aan die einde van die jaar sal die legendariese Rose-Innes die tuig neerlê ná meer as drie dekades by wat tans as die Departement Sportwetenskap bekend staan. Sy was aanvanklik verantwoordelik vir dansklasse en die oorspronklike LO-program. Tans is sy verantwoordelik vir tennis en hokkie by die departement.

“Ek het van die begin af gewerk saam met mense wat baanbrekers in hul onderskeie velde was,” het Rose-Innes van haar beginjare by die departement gesê. 

Sy is deur prof Edith Katzenellenbogen gevra om te kom uithelp toe prof Katzie waarnemende hoof van die departement was.

Rose-Innes het self vir Suid-Afrika hokkie gespeel. Sy was sedert haar hoërskooldae kaptein van elke span waarin sy hokkie gespeel het. Sy het op skool aan tennis, hokkie, netbal en swem deelgeneem. Op Universiteit het sy op hokkie en tennis gefokus en het amper twee dekades – van 1970 tot 1987 – vir Maties hokkie gespeel. 

Rennie het haar man, Cari, in hul eerste jaar ontmoet. Saam het hulle vir Maties en WP hokkie gespeel. In 1976 was hulle kapteins van die onderskeie WP-spanne.

Die legendariese Maties hokkiespeler Eric Rose-Innes is Rennie en Cari se seun. Hy het ook vir Suid-Afrika hokkie gespeel en was by die Olimpiese Spele in Athene en Beijing. Hulle dogter, Justine, het provinsiale tennis en hokkie gespeel en sy het ook Sportwetenskap studeer. Rennie speel self ook nog ligatennis. As professionele tennisafrigter rig sy spanne af by Rhenish, Somerset College en Paarl Vallei. Sy doen ook privaat-afrigting.

Sy kan nie uitgepraat raak oor die departement nie. “Dit is ‘n spesiale plek. Dis die mense. Ons werk so nou saam – personeel en studente. Mense wat hier werk, is mense wat kanse met albei hande aangryp en harde werkers is. Hier is daar ‘n passie vir die studente en hul totale ontwikkeling.”

Met ‘n glinster in die oog voeg sy by: “Ons het baie sports by die sportdepartement. Of jy nou kan dans of nie, dans moet jy. En of jy nou kan swem of nie…swem sal jy! Hier leer jy om deur te druk.”