Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Oxalis-spesie na US plantkundige vernoem
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 08/11/2016

Prof. Leanne Dreyer, 'n plantkundige van die Universiteit Stellenbosch (US), is vereer vir haar betekenisvolle navorsingsbydrae t.o.v. die genus Oxalis, deurdat 'n nuwe Oxalis-spesie na haar vernoem is.

B_Leanne Dreyer_Oxalis 003 (2).jpg

Oxalis.dreyerae is een van tien nuwe Oxalis-spesies wat onlangs in die onherbergsame Richtersveld ontdek is. Die Richtersveld is voorheen beskou as 'n gebied wat relatief arm aan diversiteit is, wanneer dit vergelyk word met Sentraal-Namakwaland, waar 'n groot getal Oxalis-spesies al aangetref is.

Oxalis, ook bekend as surings / surinkies, is endemies in Suid-Afrika en Suid-Amerika, met nagenoeg 500 verskillende spesies wat die genus opmaak. Die genus is vir die eerste keer in 1753 beskryf deur die sweedse plantkundige, Carl Linnaeus, maar die genus is 70 jaar gelede (in 1944) laas deeglik bestudeer.

Prof. Dreyer was deel van die veldwerkspan wat in 2011 en weer in 2012 die Richtersveld besoek het op soek na nuwe Oxalis-spesies: "Ons het per riemtelegram gehoor dat die area goeie winterreëns gekry het. Ons het gepak en die area vir twee weke lank van hoek tot kant gefynkam."

Dit was gedurende die tweede besoek dat prof. Dreyer inderhaas moes terugkeer huis toe nadat daar by haar Stellenbosch-huis ingebreek is. Haar kollegas dr. Francois Roets en dr. Kenneth Oberlander, het toe hierdie geleentheid gebruik om een van die nuwe spesies wat hulle in haar afwesigheid versamel het, na haar te vernoem.

O.dreyerae word beskryf as 'n opvallende spesie met groot wit, tregtervormige blomme. Dit kom kenmerkend voor in die skeure tussen granietrotsblokke, teen die berghange van die Richertersveld Bewaringsgebied wat suid front.

Prof. Dreyer sê die Richtersveld huisves waarskynlik nog vele geheime en verrasssings in terme van sy blommeryk: "Dit is moeilik om Oxalis-plantjies te vind. Die bolle is onder die grond en die plant blom slegs ná genoegsame reën. Die Richtersveld is ook nie een van die maklikste plekke om te verken nie. Dit het gelei tot die aanname dat daar nie baie Oxalis-spesies in die streek voorkom nie."

Gedurende die twee veldwerkbesoeke het hulle juis die agterpaadjies gevolg om na hierdie klein plantjies te soek: "Ons het op 'n magdom Oxalis-spesies afgekom, wat ten minste tien spesies insluit wat nog nie voorheen beskryf is nie. Nege van hierdie tien nuwe spesies is endemies in die Richtersveld, waarvan sewe baie skaars is.

"Dit beteken dat die Richtersveld meer Oxalis-spesies het wat endemies in die gebied voorkom as Namakwaland, wat alreeds redelik goed bestudeer is, "voeg sy by.

Onderskrif:

Prof. Leanne Dreyer met 'n plaat van O. dreyerae, die nuutontdekte Oxalis-spesie wat na haar vernoem is. Haar medenavorsers, dr. Francois Roets en dr. Kenneth Oberlander, het haar met die plaat verras ter erkenning van haar besondere bydrae tot die bestudering van die Oxalis-genus.

Kontakbesonderhede:

Prof. Léanne Dreyer

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3070

E-pos: ld@sun.ac.za