Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselwetenskaplikes, vleiskundiges en hortoloë presteer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 03/11/2016

Die uitnemende werk wat deur studente en personeel van die Fakulteit AgriWetenskappe gelewer word is op vele vlakke oor die afgelope paar maande erken. Dit sluit erkenning aan voedselwetenskaplikes, vleiskundiges en hortoloë in.

Prof Pieter Gouws van die Departement Voedselwetenskap is tydens die FoodMicro-konferensie in Dublin as Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Internasionale Kommissie oor Voedselmikrobiologie en Higiëne aangewys.

Die Departement Voedselwetenskap se voorgraadse graadprogram het ook akkreditasie van die Internasionale Unie vir Voedselwetenskap en Tegnologie (IUFoST) ontvang. Daardeur word die hoë standaard van voedselwetenskaponderrig wat gelewer word erken, en kan dit in dieselfde asem genoem word as ander soortgelyke programme regoor die wêreld.

Prof Gunnar Sigge van die Departement Voedselwetenskap is reeds in 2015 verkies tot die wetenskaplike advieskomitee (AMSPAP) van die Instituut vir Voedseltegnoloë (IFT) se jaarlikse byeenkomste en voedseltentoonstellings in 2016 en 2017. Tydens die onlangse IUFoST-kongres is prof Sigge ook uitgenooi om die IFT17-paneel in Las Vegas in die VSA van 25 tot 28 Junie te lei. Hy is een van slegs twee persone op die AMSPAP wat nie van die VSA is nie.

Prof Louw Hoffman, wat die SARChI-leerstoel in Vleiswetenskap en Nutriomika in die Departement Veekundige Wetenskappe beklee, is as erelid van die raad van die Suid-Afrikaanse Wildlewebestuursvereniging (SAWMA) herkies. Hy het ook as beoordelaar opgetree tydens die onlangse Agri SA Toyota Jongboer van die Jaar en die Toyota Nuwe Oes van die Jaar Toekennings.

Studente wie se navorsing deel van die werksaamhede van hierdie navorsingsleerstoel vorm het ook hul merk by die 62ste Internasionale Kongres vir Vleiswetenskap en Tegnologie (ICoMST 2016) in Thailand gemaak. Tersia Needham, 'n PhD-student in veekundige wetenskappe, het die beste praatjie deur 'n jong navorser gelewer. Sy het gepraat oor die immunokastrasie van Dohne Merino ramlammertjies, en hoe dit kan bydra tot beter groei en die kwaliteit van karkasse.

Maxine Jones, 'n PhD-student in voedselwetenskap, het die naasbeste plakkaat deur 'n jong navorser gelewer. Sy het die effek wat uitdroging en die byvoeging van asyn op die fisiochemiese eienskappe van tradisionele Suid-Afrikaanse biltong het, bekyk.

Dr Asanda Mditshwa van die Departement Hortologie het 'n spesiale prestasietoekenning ontvang van AgriSETA, die beheerliggaam vir voortgesette onderrig en opleiding in die landbousektor. Sy was in 2013 'n naaswenner in die Beste Gegradueerde-Interskapstoekennings en het in Desember 2015 haar doktorsgraad verwerf.

CP van der Merwe is as die derde ontvanger van die Ballie Wahl Merietetoekenning aangewys. Hy is 'n finalejaarstudent wat die program BScAgric met Hortologie en Grondkunde volg. Die toekenning word deur die Sitrus Tegniese Assosiasie geborg.