Versorging en passie is twee eienskappe wat verweef is in die etos van personeel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US). Baie personeellede is betrokke by liefdadigheidsprojekte en -organisasies in die gemeenskappe waar die fakulteit dienste lewer.
Een van hulle, Prof Ronald van Toorn, het onlangs die gesogte Paul Harris-toekenning van die Blouberg Rotariërklub (BRK) ontvang ter erkenning van sy uitnemende diens aan beide die Rotariërstigting en die Tygerberg-kinderhospitaal (TKH). Hierdie toekenning word gedoen aan lede as blyk van waardering vir bydraes aan die Rotariërstigting se liefdadigheidswerk en -projekte in gemeenskappe.
Van Toorn, ʼn spesialis in die US se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, sê die BRK-lede, van wie baie besigheidsleiers is, is aktief betrokke by fondsinsamelingsprojekte vir verskeie liefdadigheidsprojekte in die Wes-Kaap. Geld word ook ingesamel by internasionale takke van die Rotariërstigting.
Baie van hierdie fondse is geoormerk vir inisiatiewe by die TKH en die Tygerberg-hospitaalskool, en word bestuur deur Van Toorn en sy kollega Prof Johan Schoeman, wat beide erelede van die BRK is.
Die pediatriese neurologiese saal G9 is deur die BRK as ʼn langtermynprojek aangeneem, en hulle het rekenaars en boeke aan die hospitaalskool geskenk en die speelgrond opgeknap.
Van Toorn het ʼn leidende rol gespeel in die aanskaffing van toerusting vir die TKH deur sy verbintenis met die Rotariërklub, beide plaaslik en internasionaal. Dit sluit in die skenking van ʼn Transkraniale Doppler, waarmee die risiko vir beroertes bepaal word by pasiënte aan sekelselsiekte lei; ʼn neurochirurgiese endoskoop vir delikate prosedures en biopsies; en ʼn toestel vir oto-akoestiese emissies om gehoorverlies by kinders met bakteriële meningitis te identifiseer. Laasgenoemde is in samewerking met die US se Departement Pediatrie en Kindergesondheid gedoen.
"Die geheim van suksesvolle fondsinsamelingsprojekte is volledige terugvoering aan die donateurs oor die aanwending van hulle skenkings en die positiewe uitwerking daarvan op mense se lewens," het Van Toorn gesê.
Die BRK het ʼn lang verhouding met die TKH. Hulle is al vanaf 2004 besig met ʼn "Meals on Wheels"-projek in die pediatriese sale, wat behels dat hulle kos aan pasiënte en ouers verskaf. Hierdie projek, wat teen ʼn onkoste van R35 000 per jaar bedryf word, word gedeeltelik deur die internasionale Rotariërstigting gefinansier.