Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opdatering: hofbevel; skorsing; spoliasie-bevel
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 21/09/2016

Opdatering: Maandag 26 Sep
'n Spoliasie-bevel (mandament van spolie) is Vrydag (23 Sep) op die Universiteit bestel om toegang tot akkommodasie vir sommige van die geskorste studente te herstel (nie al die geskorste studente is in US-akkommodasie nie). Die studente kan steeds nie akademiese geboue betree of met hul akademiese aktiwiteite voortgaan tot die dissiplinêre proses afgehandel is nie. Die studente teen wie daar 'n hofbevel verkry is om ontwrigtende protesaksies te staak, maar wat nie geskors is nie, kan voortgaan om klasse by te woon, toets te skryf en US-fasiliteite te benut, mits hulle nie betrokke raak in enige verdere ontwrigtende aktiwiteite nie.

Opdatering: Woensdag 21 September

As gevolg van die verslegtende situasie gister (Dinsdag 20 September) op die Stellenbosch-kampus – wat 'n impak gehad het op akademiese aktiwiteite - is ʼn besluit geneem om 'n hofbevel (skakel) te verkry om 30 respondente – genoem in die hofbevel – te dwing om die Wilcocks-gebou te ontruim. Indien hulle dit nie binne 30 minute nadat die bevel op hulle beteken is doen nie, sal die balju, bygestaan deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gemagtig wees om die respondente uit die Wilcocks-gebou te verwyder.

Die hofbevel is vir die eerste keer gisteraand net voor 11-uur op die studente bestel en vanmiddag deur die balju van die hof geïmplementeer. Die studente het uit eie wil die gebou verlaat.

Die 30 respondente word ook op ʼn interim-basis verbied om weer die Wilcocks-gebou of enige ander kampusgebou te beset, die normale aktiwiteite van die Universiteit te ontwrig, ingange na geboue of strate te versper of blokkeer; eiendom te beskadig of ander persone aan te rand, te intimideer of bedreig, te teister, te beseer of aan te hou.

Skorsing

Op grond van ernstige oortredings is ʼn aantal studente intussen tydelik geskors (op Engels suspended) hangende die uitslag van 'n dissiplinêre proses. Die skorsingsbriewe is vanoggend per e-pos aan 11 studente gestuur.

Studente kan egter teen hierdie besluit appèl aanteken en dit sal dan deur die Universiteit se Sentrale Dissiplinêre Komitee oorweeg word.

  • Hierdie is 'n opdatering van 'n artikel wat oorspronklik Woendagoggend 21 September gelaai is.


Oorspronklike artikel:

Die Universiteit Stellenbosch het op Dinsdag (20 September 2016) 'n hofbevel (skakel) bekom wat die 30 respondente wat in die bevel gelys word opdrag gee om die Wilcocks-gebou te ontruim. Indien hulle dit nie binne 30 minute nadat die bevel op hulle beteken is doen nie, sal die balju, bygestaan deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gemagtig wees om die respondente uit die Wilcocks-gebou te verwyder. 

Die interdik verbied ook die respondente om op interim basis:

  • weer die Wilcocks of enige ander gebou op kampus te beset;
  • om normale aktiwiteite van die Universiteit te ontwrig;
  • ingange na geboue of strate te versper of blokkeer;
  • eiendom te beskadig of ander persone aan te rand, te intimideer of bedreig, te teister, te beseer of aan te hou.

Die keerdatum van die voorlopige bevel is 20 Oktober 2016. Die respondent se status as studente word nie deur die hofbevel geraak nie.

  • In die bestuur van die ontwrigting is sommige studente se toegang tot sekere fasiliteite en tegnologie geblokkeer. Die herstel van dié toegang is reeds in proses.