Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale impak deur onderrig en leer
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 21/09/2016

Die Afdeling Sosiale Impak het onlangs ʼn werksessie oor betrokke onderrig en leer aangebied vir aanwesiges van die Universiteit Stellenbosch, die Vaal Universiteit van Tegnologie en Mangosuthu Universiteit van Tegnologie.

Dr Antoinette Smith-Tolken, waarnemende Hoof van die Afdeling Sosiale Impak, het verduidelik dat die Universiteit Stellenbosch met die strategie vir sosiale impak poog om doelbewus tot die land se ontwikkelingsdoelwitte by te dra. "Die impak-deur ontsluit geleenthede vir medewerking ten opsigte van akademiese talente uit verskillende dissiplines. Sosiale impak bied meer geleentheid vir betrokkenheid by gemeenskapsake. Vantevore was dit noodsaaklik vir akademici om te 'publiseer of kom om'; vandag is dit 'word betrokke of sterf'," het sy gesê.

Deelnemers was van mening dat, met die dekolonisasie van die kurrikulum, sosiale impak ʼn sterk rol het om te speel. Hulle het die wyse ondersoek waarop Antonio Gramsci se idee van tradisionele teenoor organiese intellektuele betrekking het op sosiale impak en die behoefte aan ʼn ander benadering om ander uitkomste te lewer en reagerend op gemeenskapskonteks, ‑behoeftes en ‑geleenthede te wees.

Deelnemers het ook gevoel dat hoëronderwysinstansies die manier waarop hulle gestruktureer is in heroënskou moet neem, aangesien daar strukturele struikelblokke tot multidissiplinêre werk bestaan. Soms, selfs wanneer mens in dieselfde ruimte werk, is daar teenstand daarteen om ʼn manier te vind om kursuswerk vir studente te sinchroniseer. Praktyke moet verander binne hierdie nuwe paradigma van sosiale impak en praktyke moet ruimte vir medewerking laat.

Dr Elmarie Costandius van die Departement Visuele Kunste stel voor dat dosente met hul onderrig moet eksperimenteer sodat ons stelsels wat ons as die norm aanvaar, kan teenstaan. "Gemeenskapsbetrokkenheid vergroot die hoeveelheid stemme sodat dit dosent, student en vennoot insluit. Leer vind in die ongemak, in die ongemaklike ruimte plaas. ʼn Inklusiewe kurrikulum vir die opvoeding van kritiese burgers vir studente, dosente en gemeenskapslede op groter skaal is wenslik," het sy gesê.

Studente wil ook graag kontekstuele opleiding hê voordat hulle hulle in teorie verdiep. "Niemand kan ons studente so veel leer as wat die gemeenskap hulle kan leer nie," het Jana Muller van die Landelike Kliniese Skool in Worcester gesê. Dr Karin Cattell van die Sentrum vir Onderrig en Leer het vier kenmerke uitgelig waarvoor in ʼn afgestudeerde van die Universiteit Stellenbosch gehoop word: ʼn ondersoekende verstand; ʼn betrokke burger; ʼn dinamiese professionele persoon; en ʼn afgeronde individu. ʼn Betrokke burger is ʼn leier, ʼn medewerker, ʼn sosiale entrepreneur en doeltreffend in ʼn diverse omgewing. Transformasie van die samelewing behels transformasie van die self.

Indien jy opleiding in betrokke onderrigmetodologieë wil ontvang, tree asseblief met Benita Jansen in die Afdeling Sosiale Impak in verbinding by benitaj@sun.ac.za