"Ons is trots op julle" en "Julle inspireer ons".
Met hierdie boodskappe op plakkate het aanhangers van die Wes-Kaap se Paralimpiese atlete hulle Dinsdag by die Kaapstad Internasionale Lughawe verwelkom. Altesame 14 van Suid-Afrika se 17 Paralimpiese medaljes is deur atlete van die Wes-Kaap gewen, en 11 daarvan (vyf goud, drie silwer en drie brons) deur lede van die Maties Parasport-klub.
Charl du Toit, wat besig is met sy honneursgraad in onderwysbestuur aan die Universiteit Stellenbosch (US), het met twee goue medaljes na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is die nuwe Paralimpiese kampioen in die 100m en 400m in die T37-klas en het ook die wêreldrekord in die 100m en die Paralimpiese rekord in die 400m verbeter.
"Dit was 'n wonderlike ondervinding en die mense wan Rio was fantasties. Ek is baie dankbaar," het hy met sy aankoms gesê.
Dyan Buis, Du Toit se oefenmaat en ook 'n honneurstudent in die Fakulteit Opvoedkunde, het goud verower in die 400m (T38) en brons in die verspring. Die ander Maties Parasport-gouemedaljewenners is die Paralimpiese veteraan Ernst van Dyk en Reinhardt Hamman, wat aan sy eerste Paralimpiese Spele deelgeneem het.
Van Dyk, 'n US-alumnus wat aan sy sewende Paralimpiese Spele deelgeneem het, het die padwedren vir handfietse (H5) gewen en sesde geëindig in die rolstoelmarathon. Hamman het die spiesgooi-item in die T38-klas gewen.
Volgens Hamman sal die ervaring sy lewe lank by hom bly en is daar in hierdie stadium niks wat met hierdie hoogtepunt kan vergelyk nie. Hy het die medalje opgedra aan sy pa wat vroeër vanjaar oorlede is.
Die bekende Stellenbosse atleet Ilse Hayes, wat aan haar vierde en laaste Paralimpiese Spele deelgeneem het, het twee silwermedaljes gewen (100m en 400m, T13). Sy het oor vier Paralimpiese Spele altesaam sewe medaljes verower (twee goud, vier silwer en een brons).
"Dit was 'n hoogtepunt – die beste ervaring wat ek nóg by 'n Spele gehad het," het sy gesê.
Hayes se oefenmaat en kamermaat in Rio, Anruné Liebenberg, het ook 'n silwermedalje verower – in die 400m (T47).
Liebenberg se pa Rudi en broer Ruanne het haar met 'n banier met die woorde "Welcome back our champ" verwelkom. "Ek is verby trots," het pa Rudi gesê. "Nie net op haar nie, op almal van hulle."
Die ander bronsmedaljewenners is Fanie van der Merwe in die 100m (T37) en Zanele Situ in die spiesgooi (F54). Van der Merwe, wat ná hierdie Paralimpiese Spele uittree, het altesame vier Paralimpiese medaljes oor drie Paralimpiese Spele heen gewen (drie goud en een brons).
"Wat 'n voorreg om my loopbaan op só 'n hoogtepunt te eindig. Ek het soveel vreugde ervaar. Hierdie hele ervaring was 'n geskenk van God," het Van der Merwe verlede week ná sy wedloop gesê.
Du Toit, Buis, Hayes, Liebenberg, Van der Merwe en Arnu Fourie, wat vierde gekom het in die 100m (T44), word almal deur dr Suzanne Ferreira van die Departement Sportwetenskap aan die US afgerig.
Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur: Maties Sport, was ook op die lughawe om die atlete te verwelkom.
Sy het hulle bedank dat hulle wonderlike ambassadeurs vir Suid-Afrika en Maties Sport was.
"Ons is ongelooflik trots op julle," het sy gesê.